ProAgri SA293-MeganisasieMichelle Kruger2024-07-15T10:22:53+02:00

meganisasie

Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld

Steyr toets waterstofbrandstof-konsep

Die Oostenrykse trekkervervaardiger, Steyr, toets ՚n waterstofbrandstofselaangedrewe trekker gegrond op ՚n aangepaste weergawe van ՚n 4140 Expert CVT. Dit is ՚n gesamentlike projek tussen ingenieurs by die CNH-trekkeraanleg in St Valentin en die TU Universiteit in Wene.

Die dieselblok in die FCtrac, soos dit genoem word, is verruil vir ՚n 14-kWh hoogspanningbattery en 400 V elektriese stelsel. Die dieseltenk word vervang met ՚n saamgeperstewaterstof-opbergingstelsel. Die resultaat ontwikkel 95 kW (130 pk) wat dieselfde is as die dieselekwivalent van die trekker, en die enigste vrystelling van die krageenheid in die brandstofseltrekker is waterdamp.

Daar word gesê dat die 310 liter waterstof in die vier tenks op die dak van die trekker, voldoende is vir ՚n halwe dag se ligte werk. Die trekker is 42 cm hoër as die standaard 4140 Expert CVT, en die FCtrac se gewig van 7,2 ton is 20 persent meer. Waterstof vir die toetstrekker word vervaardig uit houtspaanders wat verwerk word in ՚n gekombineerde hitte- en kragsentrale in die Oostenrykse streek van Karintië. Die klein waterstofinstallasie en vulstasie kan in ՚n vraghouer op die plaas pas. (Bron: Mechaman/profi)

Kuhn brei hulle Prolanderreeks uit tot 14 m

In die groeiende soeke na wyer werktuie wat vinniger werk, het Kuhn Farm Machinery ՚n drietal wyer modelle by sy Prolander-kultivarreeks gevoeg; die 9000 (9,2 m), 12000 (12,2 m) en 14000 (14,2 m). Al drie is geskik vir spoorverkeerstelsels.

Die nuwe modelle is gemik op gebruikers wat ՚n veelsydige en hoë-uitsetwerktuig benodig vir ՚n verskeidenheid grondtoestande. Soos die kleiner boeties in die reeks, kan die wyer modelle ՚n reeks saadbeddings bewerk, insluitend geploegde, bewerkte of stoppellande. Werkdieptes van 3 tot 12 cm is moontlik vir al agt modelle in die Prolander-reeks en die nuwe 90 x 13 mm S-tand is glo ideaal om stoppels te ‘skeur’ om ՚n volledige mengsel van oppervlakmateriaal te waarborg.

Bestaande tandopsies is beskikbaar, insluitend die 70 x 12 mm S-vormige tand en 60- of 200-mm gansvoettande. Dubbele U- of dubbelbuisrollers kan ook bygevoeg word. “Die Prolander het die afgelope seisoene in gewildheid toegeneem as gevolg van sy veelsydigheid en gebruiksgemak,” sê Edd Fanshawe, Kuhn se produkspesialis vir akkerbou en gekoppelde dienste. “Die wyer modelle verhoog die aantrekkingskrag vir boere wat ՚n tandwerktuig benodig wat in staat is om ՚n wye reeks operasies uit te voer met ՚n beskeie kragbehoefte van 18,6 tot 26 kW/m.”

Die vyf kleiner modelle van 4 tot 7,5 m is nou beskikbaar met ՚n 600-liter saadbak wat ontwerp is om dekgewasse en klein saadjies in ՚n enkele bewerking te saai. Saaiopsies vir die nuwe groter modelle sluit Kuhn se TF 1512-voortenk in. Die nuwe modelle is beskikbaar in Europa.

Kuhn se Prolander-reeks kan nou tot 14 meter wyd werk.

Hommeltuie vasgevang in ՚n politieke handelsoorlog: Amerikaanse boere kan die prys betaal

In die voortslepende politieke handelsoorlog tussen die VSA en Sjina sal Amerikaanse boere dalk binnekort van hulle DJI-hommeltuie ontslae moet raak – die hommeltuie wat die meeste vir boerderydoeleindes gebruik word, soos bespuiting.

Die Countering CCP Drones Act (HR 2864) sal toerusting en dienste van DJI byvoeg tot iets wat die ‘gedekte lys’ genoem word. Dit sal verhoed dat DJI FCC (Federal Communications Commission) lisensies vir toekomstige hommeltuigmodelle kry, en moontlik lei tot die herroeping van bestaande FCCmagtigings Dit sal slegte nuus wees vir Amerikaanse boere, wat die afgelope paar jaar hulle gebruik van spuithommeltuie geleidelik verhoog het, met 1,4-miljoen hektaar wat in 2023 deur hommeltuie bespuit is oor 41 state en 50 gewasse, meestal deur Sjinees-vervaardigde hommeltuie, het Taylor Moreland, uitvoerende hoof van Agri Spray Drones, aan AgFunderNews gesê. “Om nie mense toe te laat om Sjinees-vervaardigde hommeltuie in landelike gemeenskappe te bedryf nie, sal werksgeleenthede in landelike Amerika vernietig.”

Die rede vir hierdie stap is die vrees dat Sjina inligting wat deur hommeltuie versamel is en in die kuberruim ingestuur word, kan gebruik tot hulle eie voordeel. In ՚n intelligensiebulletin van die Departement van Binnelandse Veiligheid word gesê: “Die Sjinese regering gebruik waarskynlik inligting wat van DJI-stelsels verkry is as ՚n manier om bates te teiken wat hulle beplan om te koop. Byvoorbeeld, ՚n groot famieliewynplaas in Kalifornië het DJI UAS gekoop om sy wingerde te ondersoek en druiweproduksie te moniteer. Kort daarna het Sjinese maatskappye wingerde in dieselfde gebied begin aankoop.”

Arthur Erickson, uitvoerende hoof van die Amerikaanse hommeltuigvervaardiger, Hylio, het gesê: “Ek glo wel daar is wettige veiligheidskwessies, hoewel ek nie dink ՚n volstrekte verbod is noodwendig die regte strategie nie. Ons is al jare in ՚n landbou-inligtingsoorlog met Sjina en hoewel dit nie gevaarlik klink nie, as jy genoeg hommeltuie het wat genoeg saailande se inligting kry

en spuit om ՚n groot genoeg monstergrootte te kry, kan jy met KI en moderne data-ontleding ՚n redelik goeie voorspelling maak oor hoe Amerikaanse landbouproduksie vir ՚n gegewe seisoen gaan lyk. En dit gaan Sjina ekonomiese hefboomkrag gee.

“As jy oor oordeelsdagscenario’s wil praat, as hulle genoeg hommeltuie gehad het, kan hulle vir ՚n hele seisoen oorspuit en gewasse uitwis.”

Ander Amerikaanse hommeltuigvervaardigers gaan ՚n bietjie verder. Adam Bercu, uitvoerende hoof van Guardian Agriculture, het gesê: “Hierdie toestelle word deur die federale regering as chemiese wapenafleweringstelsels geklassifiseer. Is dit goed om duisende masjiene te hê wat meer as 40 liter gif kan dra wat van ՚n afstand af beheer kan word en aan ՚n vyandige buitelandse entiteit gekoppel kan word?”

՚n DJI-spuithommel in aksie: Vriend of vyand? (Foto: Rantizo)

Plaaslike Amerikaanse hommeltuigverskaffers sal natuurlik grootliks baat vind as DJI uit die VSA gejaag word, maar hulle glo hulle kan die mark met beter produkte bedien. Adam sê: “Ons moet die beste produkte moontlik vir Amerikaanse produksie hê en ek dink die Amerikaanse boer word onderbedien deur produkte wat ontwerp is vir die plaaslike Sjinese mark wat onvanpas is vir Westerse produsente. Ons produktiwiteit per dollar op die masjien en bedryfskoste per akker is 70 tot 85% minder as die Sjinese hommeltuie omdat ons hommels gebou is vir produktiwiteit in Westerse styl.

“Ons dink die Amerikaanse regering moet die binnelandse bedryf ondersteun, aangesien Sjina duidelik sy binnelandse bedryf ondersteun. Ons het gesien hoe die Amerikaanse regering dit met elektriese voertuie doen en so iets sal baie sin maak met hommeltuie, waar baie lande skarrel om plaaslike vermoëns te ontwikkel.”

Intussen ontken DJI enige bedreiging vir Amerikaanse belange en het aangevoer dat ondersteuners van die wetsontwerp “onakkurate en ongegronde bewerings rakende DJI se bedrywighede maak deur xenofobiese vrese te versterk in ՚n strewe om plaaslike hommeltuigvervaardigers te ondersteun en markmededinging uit te skakel.”

“DJI-hommeltuie versamel nie vluglogboeke, foto’s of video’s by verstek nie. Operateurs moet inteken om hierdie data met ons te deel,” verduidelik ՚n onlangse aanlynplasing deur die maatskappy, wat eerder gevra het vir die vestiging van bedryfswye sekuriteitstandaarde wat “tegnologie-gegrond is, nie op die land van herkoms nie”. Met betrekking tot hommeltuie wat skielik in die middel van ՚n vlug hulle eie ding begin doen, sê die maatskappy: “Diegene wat bykomende voorsorgmaatreëls wil tref, kan maklik kies om plaaslike datamodus te aktiveer (en selfs hulle selfoon se ‘vliegtuigmodus’ aan te skakel) vir gemoedsrus. Dit beteken die vlugtoepassing is heeltemal ontkoppel van die Internet en is soortgelyk aan ՚n lugkamera.”

՚n Plaaslike verskaffer van DJI-hommeltuie stem saam dat dit vreesskepping is. Bryan Sanders, president van die hommeltuigmaatskappy HSE en veteraan in die hommeltuigbedryf, het gesê: “Dit is nou die in-ding om ‘anti-Sjina’ te wees en DJI het soort van die swartskaap geword in dit alles, maar hierdie tegnologie bied niks wat jy nie kan versamel uit ander openbare beskikbare bronne oor gewasproduksie nie.

As jy produksiekaarte wil sien, gaan na Google Earth. As jy wil sien watter plaagdoders gebruik word en in watter hoeveelhede, kan jy na die EPAwebwerf gaan.”

Lees die volledige artikel oor www.agfundernews.com. Soek vir “ag spray drones battle heats up”.

0

Karat 12: LEMKEN-lande is gewasse se droom

Die tyd van lande brand is verby. Werktuie soos LEMKEN se Karat maak die lewe vir boere rook- en besoedelvry en sorg vir ‘n mooi egalige saadbed wat plante nodig het om ‘n beter opbrengs te lewer. Ru-El de Wet van Le Wettin Boerdery, ‘n besproeiingsboer buite Hopetown, gebruik al vir die derde jaar sy 5-m Karat 12 en is baie tevrede.

Hy gebruik die Karat in die winter om die mieliereste in te werk voordat hy sy koring plant. Die masjien bewerk so 30 hektaar per dag of so 3,5 hektaar per uur by hulle op die plaas.

“Die Karat help beslis dat jy nie jou kaf hoef te brand nie, want om jou land te brand haal die koolstof uit die grond uit. Jy wil ook nie te veel kaf hê nie, want dit is ‘n broeiplek vir swamme. Die Karat werk die kaf lekker in en vermeng dit deeglik met die grond sodat dit afbreek om te grond te verryk en die tekstuur te verbeter.

Ru-El de Wet en sy broer, Stephan de Wet, by die Karat 12 van LEMKEN. Ru-El gebruik die werktuig om sy saadbed reg en mooi voor te berei voordat hy plant.

“Die chemiese stowwe soos gif en kunsmis wat ons in die grond plaas word dan ook nie heeltemal vernietig nie,” sê Ru-El.

Verder noem Ru-El dat die grondstruktuur veral ook bros is vandat hy die Karat gebruik en dit is wat ‘n boer wil hê.

Die Karat is ‘n geharde en robuuste werktuig wat in verskillende grondtipes kan werk en nie te swaar gebou is nie. Dit is ook maklik vir Ru-El om die werktuig tussen sy lande te vervoer omdat hy opvou.

“Die Karat help ook met ons tydsbestuur omdat lande minder bewerking benodig,” voeg hy by.

Die Karat 12 hanteer meer reste as die Karat 9 en het ՚n ekstra balk waarop sy tande gemonteer word, dus is die intertandspasiëring kleiner. Dit het tot gevolg dat verdigting baie beter opgehef word, en verbeter ook die vloei en vermenging van grond en plantreste.

Die werktuig verg min en maklike onderhoud en onderdele is maklik verkrygbaar by GWK in Hopetown. Ru-El is ook baie tevrede met die kudige raad en diens wat  LEMKEN se mense bied.

Die Karat 12 van LEMKEN vermeng die kaf deeglik in die grond in om ‘n egalige saadbed te vorm.

Vir meer inligting oor LEMKEN se vernuftige blou werktuie, kontak Karel Munnik by 082-412-2577 of k.munnik@lemken.com; Blackie Swart by 082-404-9651 of b.swart@ lemken.com. Gaan kyk ook op die webwerf, www.lemken.com, wat LEMKEN alles vir jou boerdery bied.

0

Valtrac geenbewerking planters jou antwoord tot herlewingslandbou

Alles kos die boer al hoe meer geld – diesel, arbeid, tyd, kunsmis, saad … Dit beteken dat die boer die meeste waarde uit elke sent moet pers en niks moet vermor nie. Een manier om geld te bespaar en opbrengste te verhoog is geenbewerking, ‘n stelsel waar die grond so min as moontlik versteur word en soveel oesreste as moontlik op die saadbed  te laat om vog te bewaar, gondlewe te bevorder en grondtekstuur te verbeter. Maar daarvoor het jy ‘n planter nodig wat sy man kan staan.

Wynn Dedwith boer buite Parys in die Vrystaat, waar hy ‘n groot saaiboerdery en melkery behartig, en hy isook die stigter en eienaar van Valtrac, die vorste verskaffer van puik trekkers en landbouwerktuie. Wynn gesels graag oor geenbewerkingplanters en die voordele daarvan vir jou boerdery.

Oortuiging

Tydens ‘n besoek in Brasilië en Argentinië in die laat 90’s was Wynn vir die eerste keer blootgestel aan geenbewerking. Dit het dadelik sy belangstelling gewek. Hy vertel: “Ek het toe self ‘n bietjie met geenbewerking geëksperimenteer op ‘n tefland hier op die plaas.”

Wynn sê: “Ons het destyds op die konvensionele manier geploeg en geplant, en aan die einde van die seisoen was die grond so hard dat jy nie eers ‘n steekstok in die grond kon druk nie. Boonop was daar geen organiese materiaal in die grond nie. Maar in die tefland wat nie bewerk was nie, was dit ‘n ander saak. Dit het my kop begin swaai en dit is wat my juis inspireer het om met geenbewerkingsplanters te plant.

“Van die eerste jaar wat ek op die geenbewerkingsmetode geplant het, het ek nog nie ‘n verlies in opbrengs gehad nie. Veral in die droër jare is daardie deklaag wat jy bo-op die grond het ongelooflik waardevol. Dit is amper soos ‘n kombers op die grond wat jou grond beskerm en die verdamping van die vog in die grond beperk. Jaar na jaar kon ek sien hoe my grond en grondsruktuur verbeter het,” sê hy.

Wynn meen: “Ek het ook besef geenbewerking beteken nie noodwendig honderd persent geenbewerking nie. Wanneer jy probleme of verdigting kry, of wanneer die stroper die land vasgetrap het, dan moet jy tog steeds iets daaromtrent doen. Alles gaan op die ou einde oor die bestuur van jou grond.”

Voordele van geenbewerking

Die oogmerk met die stelsel van geenbewerking is om die bogrond so min as moontlik te versteur en soveel organiese materiaal en plantreste as moontlik op die grond te laat.

Wynn lig die voordele van geenbewerking uit: “Geenbewerking verminder erosie, verhoog die waterhouvermoë van die grond, verminder afloop van water, bewaar vog, verhoog die bedrywighede van mikro-organismes, verminder verdigting, bespaar tyd en brandstof en verlaag jou totale produksiekoste en kapitaalgoedere.

“Mettertyd sal jy ook agterkom jou onkruiddruk raak minder,” voeg hy by.

Wanneer jy met Wynn gesels oor geenbewerking is sy geesdrif daarvoor aansteeklik! Hy verklaar: “As ek moet ophou met geenbewerking, hou ek op boer!”

Valtrac se geenbewerkingsplanters

Wynn vertel: “In 1998 het ek die heel eerste Tatu- geenbewerkingplanters ingevoer en Jumil was in daardie stadium direkte invoerders. Ons het destyds ‘n tweede maatskappy begin, genaamd Crop-Tech, waarna Jumil ons genader het om die invoerders en verspreiders van Jumil-planters ook te word. Mettertyd het ons die twee maatskappye geïnkorporeer.”

Hy sê: “Vandat ons die Tatu-geenbewerkingsplanters begin invoer het, het ons groot sukses met hulle gehad en van hulle loop vandag nog!”

Vandag bied Valtrac sowel Tatu- as Jumil-geenbewerkingsplanters aan boere. Een van hulle vlagskip-geenbewerkingsplanters is die Jumil Global Max- geenbewerkingsplanter.

Geen taak is te groot vir die Jumil Global Max-geenbewerkingsplanter nie.

Jumil Global Max-geenbewerkingsplanter

Die Jumil Global Max-geenbewerkingsplanter het die manier waarop gewasse geplant word, verander. Wynn sê: “Hierdie planter bied ongekende akkuraatheid en produktiwiteit danksy sy nuwe tegnologie en gevorderde kenmerke. Die konstruksie van die planter laat akkurate aanplanting toe, wat weer eenvormige spasiëring waarborg en saadvermorsing tot die minimum beperk.”

Wynn sê: “Die Jumil Global Max-planter word vervaardig met materiaal van hoë gehalte en die nuutste tegnologie om selfs deur die mees veeleisende boerdery-omgewings te hou. Die planters is robuus en die hoëgehalte-konstruksie en -materiaal beteken dat jy dit nie so gereeld hoef te vervang nie, en dat dit baie lank betroubaar sal bly werk.”

Hierdie planter se voorpuntkomponente stel boere in staat om goed ingeligte keuses te maak wat oesopbrengste verbeter terwyl hulpbronvermorsing verminder word. Die planters is baie sterk gebou en onderdele is vrylik beskikbaar.

Wynn vertel dat die planters min onderhoud verg: “Die planters se laers is ongelooflik goed en sterk. Ons ontvang terugvoer vanaf klante wat getuig dat hulle nie kan glo hoe goedkoop en maklik dit is om die planters te onderhou nie.

“Wanneer dit kom by presisie, doeltreffendheid en volhoubaarheid in die landbou, is die Jumil Global Max-planter ‘n voorloper,” sê Wynn.

Belangrikste eienskappe wanneer ‘n geenbewerkingsplanter oorweeg word

Wynne deel: “Een van die belangrikste goed waarop boere moet let wanneer hulle na ‘n geenbewerkingsplanter kyk, is om seker te maak die planter het ordentlike kouters voor. As jy nie deur jou stoppel kan sny nie, dan gaan jou planter nie plant nie.

“Die plantereenheid aan die agterkant moet swaar genoeg wees om behoorlik in die grond in te dring. As jou planter nie in die grond bly nie, gaan jy nie ‘n konstante plantdiepte kry nie,” meen hy.

Wynn se raad aan boere wat wil oorskakel na geenbewerkingsboerdery is: “Die belangrikste is dat jy seker maak jou grond is reg. Jou pH en bekalking (suur) moet reg wees, en jy moet seker maak jy het nie verdigtingslae in jou grond nie. Dit is baie makliker om jou grond reg te kry voordat jy oorskakel na geenbewerking as na die tyd.”

Wynn nooi enige boer wat meer inligting oor geenbewerkingsboerdery of geenbewerkingsplanters wil bekom, om hom te kontak by (+27)82-554-9202 of (+27)56-817-7338, of stuur ՚n e-pos aan sales@valtrac.co.za. Besoek ook die webtuiste www.valtrac.co.za om hulle hele reeks toerusting te sien.

0

  Terug

Go to Top