Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, SA293-MeganisasiePublished On: 9th July 2024

Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld

By 6 min read
1260 words

Steyr

Hierdie Steyr-trekker kan op waterstof loop.

Steyr toets waterstofbrandstof-konsep

Die Oostenrykse trekkervervaardiger, Steyr, toets ՚n waterstofbrandstofselaangedrewe trekker gegrond op ՚n aangepaste weergawe van ՚n 4140 Expert CVT. Dit is ՚n gesamentlike projek tussen ingenieurs by die CNH-trekkeraanleg in St Valentin en die TU Universiteit in Wene.

Die dieselblok in die FCtrac, soos dit genoem word, is verruil vir ՚n 14-kWh hoogspanningbattery en 400 V elektriese stelsel. Die dieseltenk word vervang met ՚n saamgeperstewaterstof-opbergingstelsel. Die resultaat ontwikkel 95 kW (130 pk) wat dieselfde is as die dieselekwivalent van die trekker, en die enigste vrystelling van die krageenheid in die brandstofseltrekker is waterdamp.

Daar word gesê dat die 310 liter waterstof in die vier tenks op die dak van die trekker, voldoende is vir ՚n halwe dag se ligte werk. Die trekker is 42 cm hoër as die standaard 4140 Expert CVT, en die FCtrac se gewig van 7,2 ton is 20 persent meer. Waterstof vir die toetstrekker word vervaardig uit houtspaanders wat verwerk word in ՚n gekombineerde hitte- en kragsentrale in die Oostenrykse streek van Karintië. Die klein waterstofinstallasie en vulstasie kan in ՚n vraghouer op die plaas pas. (Bron: Mechaman/profi)

Kuhn brei hulle Prolanderreeks uit tot 14 m

In die groeiende soeke na wyer werktuie wat vinniger werk, het Kuhn Farm Machinery ՚n drietal wyer modelle by sy Prolander-kultivarreeks gevoeg; die 9000 (9,2 m), 12000 (12,2 m) en 14000 (14,2 m). Al drie is geskik vir spoorverkeerstelsels.

Die nuwe modelle is gemik op gebruikers wat ՚n veelsydige en hoë-uitsetwerktuig benodig vir ՚n verskeidenheid grondtoestande. Soos die kleiner boeties in die reeks, kan die wyer modelle ՚n reeks saadbeddings bewerk, insluitend geploegde, bewerkte of stoppellande. Werkdieptes van 3 tot 12 cm is moontlik vir al agt modelle in die Prolander-reeks en die nuwe 90 x 13 mm S-tand is glo ideaal om stoppels te ‘skeur’ om ՚n volledige mengsel van oppervlakmateriaal te waarborg.

Bestaande tandopsies is beskikbaar, insluitend die 70 x 12 mm S-vormige tand en 60- of 200-mm gansvoettande. Dubbele U- of dubbelbuisrollers kan ook bygevoeg word. “Die Prolander het die afgelope seisoene in gewildheid toegeneem as gevolg van sy veelsydigheid en gebruiksgemak,” sê Edd Fanshawe, Kuhn se produkspesialis vir akkerbou en gekoppelde dienste. “Die wyer modelle verhoog die aantrekkingskrag vir boere wat ՚n tandwerktuig benodig wat in staat is om ՚n wye reeks operasies uit te voer met ՚n beskeie kragbehoefte van 18,6 tot 26 kW/m.”

Die vyf kleiner modelle van 4 tot 7,5 m is nou beskikbaar met ՚n 600-liter saadbak wat ontwerp is om dekgewasse en klein saadjies in ՚n enkele bewerking te saai. Saaiopsies vir die nuwe groter modelle sluit Kuhn se TF 1512-voortenk in. Die nuwe modelle is beskikbaar in Europa.

Kuhn se Prolander-reeks kan nou tot 14 meter wyd werk.

Hommeltuie vasgevang in ՚n politieke handelsoorlog: Amerikaanse boere kan die prys betaal

In die voortslepende politieke handelsoorlog tussen die VSA en Sjina sal Amerikaanse boere dalk binnekort van hulle DJI-hommeltuie ontslae moet raak – die hommeltuie wat die meeste vir boerderydoeleindes gebruik word, soos bespuiting.

Die Countering CCP Drones Act (HR 2864) sal toerusting en dienste van DJI byvoeg tot iets wat die ‘gedekte lys’ genoem word. Dit sal verhoed dat DJI FCC (Federal Communications Commission) lisensies vir toekomstige hommeltuigmodelle kry, en moontlik lei tot die herroeping van bestaande FCCmagtigings Dit sal slegte nuus wees vir Amerikaanse boere, wat die afgelope paar jaar hulle gebruik van spuithommeltuie geleidelik verhoog het, met 1,4-miljoen hektaar wat in 2023 deur hommeltuie bespuit is oor 41 state en 50 gewasse, meestal deur Sjinees-vervaardigde hommeltuie, het Taylor Moreland, uitvoerende hoof van Agri Spray Drones, aan AgFunderNews gesê. “Om nie mense toe te laat om Sjinees-vervaardigde hommeltuie in landelike gemeenskappe te bedryf nie, sal werksgeleenthede in landelike Amerika vernietig.”

Die rede vir hierdie stap is die vrees dat Sjina inligting wat deur hommeltuie versamel is en in die kuberruim ingestuur word, kan gebruik tot hulle eie voordeel. In ՚n intelligensiebulletin van die Departement van Binnelandse Veiligheid word gesê: “Die Sjinese regering gebruik waarskynlik inligting wat van DJI-stelsels verkry is as ՚n manier om bates te teiken wat hulle beplan om te koop. Byvoorbeeld, ՚n groot famieliewynplaas in Kalifornië het DJI UAS gekoop om sy wingerde te ondersoek en druiweproduksie te moniteer. Kort daarna het Sjinese maatskappye wingerde in dieselfde gebied begin aankoop.”

Arthur Erickson, uitvoerende hoof van die Amerikaanse hommeltuigvervaardiger, Hylio, het gesê: “Ek glo wel daar is wettige veiligheidskwessies, hoewel ek nie dink ՚n volstrekte verbod is noodwendig die regte strategie nie. Ons is al jare in ՚n landbou-inligtingsoorlog met Sjina en hoewel dit nie gevaarlik klink nie, as jy genoeg hommeltuie het wat genoeg saailande se inligting kry

en spuit om ՚n groot genoeg monstergrootte te kry, kan jy met KI en moderne data-ontleding ՚n redelik goeie voorspelling maak oor hoe Amerikaanse landbouproduksie vir ՚n gegewe seisoen gaan lyk. En dit gaan Sjina ekonomiese hefboomkrag gee.

“As jy oor oordeelsdagscenario’s wil praat, as hulle genoeg hommeltuie gehad het, kan hulle vir ՚n hele seisoen oorspuit en gewasse uitwis.”

Ander Amerikaanse hommeltuigvervaardigers gaan ՚n bietjie verder. Adam Bercu, uitvoerende hoof van Guardian Agriculture, het gesê: “Hierdie toestelle word deur die federale regering as chemiese wapenafleweringstelsels geklassifiseer. Is dit goed om duisende masjiene te hê wat meer as 40 liter gif kan dra wat van ՚n afstand af beheer kan word en aan ՚n vyandige buitelandse entiteit gekoppel kan word?”

՚n DJI-spuithommel in aksie: Vriend of vyand? (Foto: Rantizo)

Plaaslike Amerikaanse hommeltuigverskaffers sal natuurlik grootliks baat vind as DJI uit die VSA gejaag word, maar hulle glo hulle kan die mark met beter produkte bedien. Adam sê: “Ons moet die beste produkte moontlik vir Amerikaanse produksie hê en ek dink die Amerikaanse boer word onderbedien deur produkte wat ontwerp is vir die plaaslike Sjinese mark wat onvanpas is vir Westerse produsente. Ons produktiwiteit per dollar op die masjien en bedryfskoste per akker is 70 tot 85% minder as die Sjinese hommeltuie omdat ons hommels gebou is vir produktiwiteit in Westerse styl.

“Ons dink die Amerikaanse regering moet die binnelandse bedryf ondersteun, aangesien Sjina duidelik sy binnelandse bedryf ondersteun. Ons het gesien hoe die Amerikaanse regering dit met elektriese voertuie doen en so iets sal baie sin maak met hommeltuie, waar baie lande skarrel om plaaslike vermoëns te ontwikkel.”

Intussen ontken DJI enige bedreiging vir Amerikaanse belange en het aangevoer dat ondersteuners van die wetsontwerp “onakkurate en ongegronde bewerings rakende DJI se bedrywighede maak deur xenofobiese vrese te versterk in ՚n strewe om plaaslike hommeltuigvervaardigers te ondersteun en markmededinging uit te skakel.”

“DJI-hommeltuie versamel nie vluglogboeke, foto’s of video’s by verstek nie. Operateurs moet inteken om hierdie data met ons te deel,” verduidelik ՚n onlangse aanlynplasing deur die maatskappy, wat eerder gevra het vir die vestiging van bedryfswye sekuriteitstandaarde wat “tegnologie-gegrond is, nie op die land van herkoms nie”. Met betrekking tot hommeltuie wat skielik in die middel van ՚n vlug hulle eie ding begin doen, sê die maatskappy: “Diegene wat bykomende voorsorgmaatreëls wil tref, kan maklik kies om plaaslike datamodus te aktiveer (en selfs hulle selfoon se ‘vliegtuigmodus’ aan te skakel) vir gemoedsrus. Dit beteken die vlugtoepassing is heeltemal ontkoppel van die Internet en is soortgelyk aan ՚n lugkamera.”

՚n Plaaslike verskaffer van DJI-hommeltuie stem saam dat dit vreesskepping is. Bryan Sanders, president van die hommeltuigmaatskappy HSE en veteraan in die hommeltuigbedryf, het gesê: “Dit is nou die in-ding om ‘anti-Sjina’ te wees en DJI het soort van die swartskaap geword in dit alles, maar hierdie tegnologie bied niks wat jy nie kan versamel uit ander openbare beskikbare bronne oor gewasproduksie nie.

As jy produksiekaarte wil sien, gaan na Google Earth. As jy wil sien watter plaagdoders gebruik word en in watter hoeveelhede, kan jy na die EPAwebwerf gaan.”

Lees die volledige artikel oor www.agfundernews.com. Soek vir “ag spray drones battle heats up”.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0