Margerite van Niekerk: ‘Saai elke dag op goeie grond’

Margerite_1
Margerite van Niekerk. (Bron: Verskaf)
“Sommige mense kies ’n beroep; ander ontdek ’n roeping. Vir my was boerdery nog nooit net ’n werk nie – dit was nog altyd deel van God se plan vir my lewe. Van kleins af het ek geleer dat die grootste oeste nie net in die lande groei nie, maar in geloof, familie en die waardes wat van geslag tot geslag oorgedra word,” sê Margerite van Niekerk, wat in 2025 aangewys is as Bayer Crop Science se Boervrou van die Jaar.
Sy is deel van die Jan van Rensburg Boerdery, ’n familie-onderneming wat met groente, koring en sojabone boer.
Gebou op ’n nalatenskap.
Margerite is in Brits gebore en het op dieselfde plaas grootgeword waar sy vandag nog elke dag werk. “Wanneer ek soggens by die kantoor instap, besef ek dikwels dat ek op dieselfde grond staan waar ek as klein dogtertjie kaalvoet gehardloop, gespeel en gedroom het. Hierdie plaas het my gevorm. Hier het my geloof, my waardes en my liefde vir boerdery diep wortel geskiet.”
Sy sê haar liefde vir boerdery het nie op een spesifieke dag begin nie – dit was nog altyd deel van wie sy is. Margerite het idilliese grootwordjare geniet tussen lande, trekkers, werkers en ’n familie wat met oorgawe geboer het. Sy het eerstehands gesien hoe haar pa en ma die boerdery met harde werk, geloof en opoffering opgebou het.
“My pa se visie en deursettingsvermoë, saam met my ma se stille krag, ondersteuning en onwrikbare geloof, het die fondasie gelê waarop ons vandag steeds bou. Hulle het my geleer dat boerdery nie net oor oeste en opbrengste gaan nie, maar oor karakter, integriteit, volharding en vertroue in God – selfs wanneer die uitkoms onseker lyk,” sê Margerite.
As kind het sy nie noodwendig gedroom om eendag ’n boervrou te wees nie. “Ek het eenvoudig geweet ek behoort hier. Ek kon my nooit voorstel dat my lewe nie deel van die plaas sou wees nie. Vandag voel ek steeds presies so.
“Daar is iets besonders aan ’n sonsopkoms oor die lande, om saam met die span deur die gewasse te stap, of om ’n vars wortel uit die grond te trek en sommer daar te proe. Dit is die eenvoudige oomblikke wat my telkens herinner aan hoe bevoorreg ek is om hierdie lewe te leef.
“Vir my is boerdery veel meer as ’n beroep – dit is ’n roeping. Dit is waar ek my geloof uitleef, saam met my familie aan ’n nalatenskap bou en elke dag die voorreg het om rentmeester te wees van dit wat God aan ons toevertrou het.
“Ons produseer nie net kos nie; ons skep werk, bou verhoudings, dien ons gemeenskap en plant saad vir die volgende geslag.

Charl en Margerite van Niekerk saam met hul kinders, Carli en Ockert. (Bron: Verskaf)
‘Geanker in die grond. Gedra deur geloof.’
Die boerdery is deur Margerite se ouers opgebou en vandag bou sy as tweede geslag saam met hulle daarop voort. Hulle is drie kinders – sy is die oudste en die enigste dogter – en al drie die sibbe is getroud. Saam met hul eggenote is hulle ses volwassenes wat elke dag voltyds in die boerdery werk.
“My pa is steeds die dryfkrag en visie agter die boerdery. Sy ervaring, kennis en vermoë om vooruit te beplan, is die anker van baie van ons besluite. My ma was nog altyd sy grootste ondersteuner.
“Sy het nie net gehelp om die boerdery saam met hom op te bou nie, maar is steeds die hart van ons familie. Haar geloof, wysheid en vermoë om mense bymekaar te hou, is iets waarvoor ons ongelooflik dankbaar is,” sê Margerite.
“Elkeen van ons ses het ’n spesifieke verantwoordelikheidsgebied waarin ons ons gawes uitleef. Dit maak dat ons mekaar aanvul en saam ’n sterk span vorm. Ons vertrou mekaar se oordeel, respekteer mekaar se sterkpunte en deel dieselfde passie vir die boerdery. Ek glo juis hierdie samewerking is een van die grootste redes waarom ons as familie kan groei en aanhou bou.”
Margerite sê wat hulle as familie besonders maak, is dat hulle nie altyd oor alles saamstem nie, maar wel dieselfde doel voor oë het. “Ons ondersteun mekaar in moeilike tye, vier saam die mooi oomblikke en neem besluite met die langtermyn in gedagte. Ons wil nie net ’n suksesvolle boerdery bestuur nie; ons wil ’n nalatenskap bou wat eendag met trots aan ons kinders oorgedra kan word.
“Ek besef elke dag hoe besonders dit is om saam met my ouers, my broers en ons eggenote aan dieselfde droom te bou. Boerdery het ons nie net ’n besigheid gegee nie – dit het vir ons ’n gedeelde doel gegee.”
Samewerking en toewyding bepaal sukses
Margerite fokus op die finansiële administrasie van die plaas, die beplanning van aanplantingsprogramme, chemiese bestellings en die administratiewe bestuur van die boerdery.
“Ek staan egter nie alleen nie. Ek is deel van ’n ongelooflike kantoorspan, en saam bereik ons soveel meer as wat enigeen alleen ooit sou kon. Ek glo die sukses van ’n boerdery word nie net in die lande gebou nie; dit word ook gebou in die beplanning, die mense, die besluite en die getrouheid waarmee elke dag se werk aangepak word.”
Hoewel haar kantoor haar basis is, is dit vir Margerite belangrik om gereeld tussen die lande en hul werkers te wees. Sy sê dit hou haar gegrond en herinner haar dat elke dokument wat sy verwerk, elke bestelling wat sy plaas en elke besluit wat sy neem, ’n direkte invloed het op wat buite in die lande gebeur.
Dit is daar waar sy weer die mense sien wat elke dag met toewyding hul deel doen om hul boerdery suksesvol te maak.
‘Leer om te vertrou’
“Ek glo ’n goeie boervrou moet eerstens geanker wees in haar geloof. In boerdery is daar soveel wat buite jou beheer is, soos die weer, die mark en die uitdagings van elke seisoen. Daarom moet jy leer om te vertrou, selfs wanneer jy nie al die antwoorde het nie.
“Jy moet ook aanpasbaar wees. Geen twee dae op ’n plaas is dieselfde nie, en ’n mens moet bereid wees om voortdurend te leer, oplossings te soek en saam met verandering te groei. Nederigheid is net so belangrik. Boerdery leer jou dat niemand alleen sukses behaal nie. Dit verg ’n span, goeie verhoudings en respek vir elke persoon wat deel is van die boerdery,” sê sy.
“ ’n Boervrou se grootste krag lê nie in wat sy alleen kan doen nie, maar in hoe sy haar gesin, haar span en haar geloof bymekaarbring om saam te groei.”

Margerite en haar man, Charl, saam met hul kinders, Carli en Ockert; Willie en sy vrou, Casandra Janse van Rensburg, saam met hul kinders, Wilmari, Klara en Jan; Johan (Margerite se oudste broer) en sy vrou, Janka Janse van Rensburg, saam met hul kinders, Jan, Hendrik en Willem; en Annatjie en Jan Janse van Rensburg, Margerite se ouers. (Bron: Verskaf)
Vroue moet mekaar aanmoedig
Volgens haar is die grootste verandering sedert sy die toekenning gekry het nie noodwendig in hul boerdery nie, maar in haarself. “Die erkenning het my opnuut laat besef dat elke dag se harde werk, die klein besluite en die span agter die skerms raakgesien word. Dit het my nog meer gemotiveer om met dankbaarheid en verantwoordelikheid te boer.
“Ons boerdery staan nooit stil nie. Elke nuwe seisoen bring nuwe uitdagings, geleenthede en verbeterings. Ons kyk voortdurend na maniere om meer doeltreffend, volhoubaar en verantwoordelik te boer, terwyl ons steeds die waardes waarop die boerdery gebou is, behou.”
Vir haar is die grootste verwikkeling egter dat die toekenning vir haar ’n platform gegee het om ander vroue aan te moedig. “As my storie vir selfs een vrou die moed gee om haar plek in die landbou met vertroue in te neem, dan is die waarde van hierdie toekenning baie groter as die titel self.”
Storms is onvermydelik, jou reaksie bepaal die uitkoms
“Ons het ook geleer dat elke moeilike seisoen ons iets nuuts leer. Uitdagings dwing ’n mens om kreatief te dink, vinnig aan te pas en as ’n span nader aan mekaar te werk. Dit is juis in daardie tye wat ons mekaar die meeste ondersteun,” sê Margerite.
“Wanneer die weer nie saamwerk nie, fokus ons op dit wat ons wel kan beheer. Ons pas ons beplanning aan, bestuur risiko so verantwoordelik moontlik en neem besluite wat die boerdery op die lang termyn beskerm. Daar is baie dinge wat buite ons hande is, maar ons glo steeds ons moet getrou wees in dit wat aan ons toevertrou is.”
Sy sê boerdery het haar geleer dat jy nie elke storm kan keer nie, maar jy kan besluit hoe jy daardeur gaan. Daarom hou hulle vas aan geloof, goeie beplanning en die wete dat elke nuwe seisoen weer nuwe hoop bring.
“Ek dink Suid-Afrikaanse boere is van die mees veerkragtige mense in die wêreld. Ons boer in ’n omgewing waar ons daagliks uitdagings soos klimaatsverandering, stygende insetkoste, beurtkrag, infrastruktuur, waterbestuur en markonsekerheid moet hanteer. Dit vra dat ’n mens voortdurend aanpas, vooruit beplan en verantwoordelike besluite neem.
“In ons gewasboerdery is die grootste uitdaging om die regte besluite op die regte tyd te neem. Die weer speel ’n bepalende rol, en omdat ons met lewende gewasse werk, kan ’n mens nie wagtyd inhaal soos in baie ander bedrywe nie. Elke aanplanting, elke besproeiingsbesluit en elke bestuurskeuse het ’n invloed op die uiteindelike oes”.
Ten spyte van hierdie uitdagings glo Margerite die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou bly sterk. Sy sê plaaslike boere is innoverend, hardwerkend en passievol oor dit wat hulle doen. Solank sy en haar familie verantwoordelike rentmeesters van hul grond bly, aanhou leer en saamwerk, glo sy hulle sal aanhou groei.
“Ons gewasse vorm deel van ’n beplande wisselbouprogram wat ons help om die grond gesond en produktief te hou. Elke gewas het ’n doel en dra by tot die langtermynvolhoubaarheid van ons boerdery. Ons fokus daarom nie net op wat vandag die winsgewendste is nie, maar op wat ook die beste vir ons grond en die volgende seisoene,” sê sy.
‘My dag begin by die Here’
By Jan van Rensburg Boerdery verbou hulle ’n verskeidenheid gewasse, waaronder patats, uie, wortels, beet, skorsies, botterskorsies, kool en ysterpampoene. Hulle plant ook grane as deel van hul wisselboustelsel om die grond gesond en volhoubaar te bestuur.
Elke gewas bring sy eie uitdagings en belonings, en dit is juis hierdie verskeidenheid wat boerdery vir haar so interessant en vervullend maak.
“My dag begin vroeg en altyd by die Here. Dit gee vir my die rigting en vrede om elke nuwe dag met dankbaarheid aan te pak.”
Terwyl sy seker maak hul kinders is reg vir skool, vergader haar pa, haar man, haar broers en die voormanne om die dag se werk te bespreek. Sy sê daardie vergadering word elke oggend afgesluit met ’n seëngebed deur haar pa – vir die boerdery, vir elke werknemer en vir die dag wat voorlê. Dit is vir hulle ’n kosbare herinnering dat hulle alles in God se hande plaas.
“Nadat ek vir Carli en Ockert by die skool afgelaai het, drink ek saam met my ouers ’n koppie koffie. Party oggende sluit my twee broers by ons aan. Dit is een van my gunsteling oomblikke van die dag – ’n kosbare tyd waar ons as familie die dag se beplanning deurgaan voordat elkeen sy of haar verantwoordelikhede aanpak.”
Haar rol eindig egter nie wanneer die kantoor sluit nie. Saans word die dag se werk bespreek en die volgende dag se beplanning begin reeds. Dan wag haar belangrikste rol – om vrou vir Charl en mamma vir Carli en Ockert te wees.
“Boerdery is nie ’n agt-tot-vyf-beroep nie; dit is ’n leefwyse. Dit vra jou tyd, jou hart en jou toewyding. Juis daarom is ek elke dag dankbaar dat ek hierdie lewe saam met my familie mag leef.
“Ek is ook ongelooflik geseënd met ’n familie wat my dra. My man, Charl, is my grootste ondersteuner. My ouers, my broers en ons hele familie stap saam deur die mooi én moeilike seisoene. Om te weet jy hoef nooit alleen te dra nie, is een van die grootste seëninge in my lewe.”
Mense moet ook groei en floreer
Volhoubaarheid is ’n kernwaarde van hul boerdery. Deur wisselbou, deeglike beplanning en verantwoordelike bestuur wil hulle die grond gesond hou en voortdurend verbeter.
“Vir my as boervrou gaan volhoubaarheid egter oor meer as net die grond. Dit gaan ook oor ons mense, ons verhoudings en die waardes waarop ons boerdery gebou is. Ek glo dat ’n boerdery net werklik suksesvol is wanneer die mense saam met jou ook groei en floreer.
“As ek terugkyk oor die afgelope jaar, besef ek dat sukses nie net gemeet word aan tonne of hektare nie. Vir my lê sukses daarin dat ons as familie steeds saamstaan, uitdagings saam oorkom, ons geloof behou en met dankbaarheid boer,” sê sy.
By Jan van Rensburg Boerdery is hulle trots daarop om gehalteprodukte te verbou wat uiteindelik deel vorm van Suid-Afrikaners se voedselketting.
“Ons produkte word deur gevestigde bemarkings- en verspreidingskanale versprei, sodat dit vars en van die beste gehalte by verbruikers uitkom. Vir ons is dit ’n voorreg om elke dag by te dra tot voedselsekerheid en om met trots die naam Jan van Rensburg Boerdery te verteenwoordig.
“Daar is iets besonders daaraan om te weet dat die saad wat ons vandag plant, môre deel word van ’n gesin se ete.”
‘Ek glo ’n goeie boervrou moet nederig wees’
Margerite se ’n mens moenie dink jy moet alles weet voordat jy begin nie. Wees bereid om te leer, vra vrae en werk hard. “Boerdery vra nie volmaakte mense nie; dit vra mense met deursettingsvermoë, integriteit en ’n liefde vir dit wat hulle doen.
“Ek glo ’n goeie boervrou moet nederig wees, aanpasbaar kan dink en nie bang wees vir uitdagings nie. Boerdery verander jou elke seisoen, daarom moet jy bereid wees om saam met dit te groei.”
Vir vroue wat nie op ’n plaas grootgeword het nie, wil sy sê: “Moenie dink boerdery is buite jou bereik nie. As jy die passie het, bereid is om te leer en jou hande vuil te maak, is daar ’n plek vir jou in die landbou.
“En bo alles: bly geanker in jou geloof. Daar sal dae wees wat jy nie al die antwoorde het nie, maar God se genade is elke dag met jou.”
Margerite leer voortdurend by ander boere. “Die landbougemeenskap is vol mense wat bereid is om kennis te deel, mekaar aan te moedig en saam oplossings te vind. Ek glo ’n mens moet nooit ophou leer nie.”
Sy sê boerdery in die huidige klimaat is beslis uitdagend. Stygende insetkoste, onvoorspelbare weerstoestande en wisselende markte beteken dat winsgewendheid nie vanselfsprekend is nie. Deeglike beplanning, verantwoordelike finansiële bestuur en volhoubare besluite sal jou boerdery op lang termyn sterk hou.
Hierdie ystervrou-boervrou se grootste doel is om die ongeveer 1 000 hektaar wat aan hulle toevertrou is, met verantwoordelikheid te bestuur en vir die volgende geslag te bewaar. Hul fokus is nie noodwendig daarop om altyd groter te word nie, maar om beter te word, die grond te verbeter, aan te hou leer en ’n volhoubare boerdery te bou.
Sy glo daar sal altyd uitdagings wees. “My geloof leer my dat God groter is as enige uitdaging. Daarom kyk ek met hoop na die toekoms van Suid-Afrikaanse boerdery. Solank ons Hom eerste stel en getrou bly aan ons roeping, glo ek daar sal altyd ’n toekoms vir ons boerdery en ons land wees.”
Margerite wil onthou word as iemand wat met oop hande gedien en met haar hele hart liefgehad het. Aan elke vrou wil ek sê: “Moenie jou roeping onderskat nie. Wees moedig, bly nederig en vertrou God se tyd. Hy kan groot dinge doen deur ’n vrou wat bereid is om elke dag getrou te wees in die klein dinge.”
‘Moenie ooit die invloed van jou lewe onderskat nie’
Sy sê Vrouemaand herinner haar aan die besondere invloed wat gewone vroue elke dag het. “Ek is bevoorreg om deur wonderlike vroue gevorm te wees wat my geleer het wat dit beteken om met geloof, liefde, nederigheid en ’n dienende hart te leef. Hulle inspireer my om ook ’n vrou te wees wat God se lig laat skyn.”
As boervrou sien sy elke dag hoe ’n klein saadjie, met tyd, geduld en sorg, uiteindelik vrug dra. Sy glo dit is ook hoe God in hul lewens werk. “Die liefde wat ons saai, die geloof wat ons uitleef en die hoop wat ons in ander plant, groei dikwels tot veel meer as wat ons ooit kan sien.”
Haar boodskap aan elke vrou is: “Moenie ooit die invloed van jou lewe onderskat nie. Jy weet nooit wie deur jou woorde, jou geloof of jou voorbeeld aangeraak word nie.”
Margerite glo nie ’n mens hoef altyd ver te kyk om ’n verskil te maak nie. In hierdie seisoen van haar lewe is haar fokus om die mense wat elke dag saam met hulle werk, te ondersteun en te bemoedig. Hul welstand en dié van hul gesinne lê haar na aan die hart.
“Ek was oor die jare by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke en die geleentheid om die Boervrou van die Jaar-prysgeld aan ’n skool vir ernstig gestremde kinders te skenk, was vir my baie spesiaal. Ek glo God se seëninge is bedoel om gedeel te word,” sê sy.
“Boerdery leer jou dat jy kan plant en versorg, maar net God kan laat groei. Daarom word ons sukses nie gemeet aan die grootte van ons oeste nie, maar aan ons getrouheid as rentmeesters van dit wat Hy aan ons toevertrou het. Mag Jan van Rensburg Boerdery altyd ’n getuienis van Sy goedheid wees, sodat alles wat ons doen, tot Sy eer sal wees.”