Kelly-grondbewerkers is ’n alles-in-een-oplossing vir die moderne boer

DSCF1048
’n Boer moet alles op die plaas kan doen: hy is ’n besigheidsman, ’n motorwerktuigkundige, ’n grondkenner, ’n weervoorspeller en ’n probleemoplosser.
Boerdery is ’n dinamiese bedryf wat verg dat jy veelsydig moet wees. Net so kan ’n mens nie van jou implemente verwag om net een ding te doen nie, en dit is waar Kelly se grondbewerkingsimplemente handig te pas kom.
Of jy nou oesreste wil bestuur, onkruid wil beheer of die perfekte saadbed wil skep, Kelly se implemente kan dit alles doen. Kelly se unieke, diamantvormige grondbewerkers werk met verskillende kettings om ligte bewerkingsmetodes op jou plaas te hanteer.
’n Kelly wat werk op die plaas
Op Pieter Duminie se plaas net buite Viljoenskroon in die Vrystaat, dryf hulle ’n gemengde boerdery met mielies en sojabone, terwyl sy beeste ná oestyd op die lande wei. Hier is die boerdery vir Pieter soms onvoorspelbaar en elke jaar bring nuwe uitdagings.
“Jy moet so aanpasbaar as moontlik wees, want grondvog verskil van een seisoen tot die volgende,” vertel hy. Hierdie onvoorspelbaarheid het daartoe gelei dat hulle ’n behoefte gehad het aan ’n implement wat iets van alles kan doen: “Die Kelly doen nie noodwendig alles elke jaar nie, maar hy is van onskatbare waarde vir dit waarvoor ons hom op die oomblik gebruik.”
In die verlede sou Pieter ’n konvensionele dis deur die lande stuur sodra die oeste af en die lande kaalgevreet was. Toe hulle na bewaringslandbou begin oorskakel het, het die Kelly perfek ingeskakel omdat hy net die bogrond bewerk en nie die ondergrond versteur nie.

Pieter Duminie sê sy Kelly maak ’n geweldige verskil in sy boerdery.
Die kontrakteur se stempel van goedkeuring
Dit is nie net boere wat die waarde van hierdie implement besef nie. Quinton Campbell, ’n kontrakteur wat al sedert 2020 met Kelly-implemente werk, het oor die jare heen eerstehands gesien wat die masjien op skaal kan vermag. Hy het later gehelp om die implemente in te voer en te monteer, voordat hy in 2025 op sy eie gegaan het en steeds met Kelly-implemente werk.
Quinton werk op die oomblik met die nege meter Kelly Diamond Harrow 30. Vir hom is dit ’n kompakte tog uiters doeltreffende masjien wat maklik vervoer. Sy eie masjien het reeds sowat 50 000 hektaar gesny en loop steeds sterk.
“Ons wat in die kontrakteurbedryf is, werk dag en nag. ’n Ou kom voor met die werk met ’n Kelly en ek wil amper sê dit is van kardinale belang om so ’n masjien op jou plaas te hê,” sê Quinton. Hy verduidelik dat boere veral hou van die gemak van die masjien, die minimale staantyd en die feit dat hy baie hektaar op ’n enkele dag kan doen.

Quinton Campbell se Kelly Diamond Harrow 30 in aksie.
“Boere gebruik ’n kontrakteur wanneer hulle in die moeilikheid is, en die hektare wat jy met daardie masjien in ’n 24 uur-skof kan doen, is merkwaardig.”
Wat hierdie Kelly vir Quinton so veelsydig maak, is die verskeidenheid kettingkeuses. Die masjien kan dus presies aangepas word volgens elke boer se spesifieke behoeftes en grondtipes.
Wanneer dit by die diepte van grondbewerking kom, hang dit van boer tot boer af, dus kan jy kies watter kettings jy wil gebruik. Quinton hou van die bewerking van die masjien omdat hy ’n beskermende ‘kombers’ van materiaal op die lande skep. Dit help dat die son nie die grond uitbrand nie en dat die grond sy nodige voginhoud behou.
Onkruidbeheer, robuuste ontwerp en brandstofbesparing
Om die Kelly vir onkruidbeheer te gebruik was wel ’n leerskool. Pieter het gevind dat wanneer die grondvog min en die onkruid reeds groot is, die masjien alleen nie altyd voldoende is nie en daarom gebruik hulle nou ’n kombinasie van chemie en die Kelly. Die chemie verhoed dat die onkruid te groot word en dan word die Kelly ingespan om die werk in die lande te voltooi.
Quinton beaam die rol wat die Kelly in ’n geïntegreerde program speel: “Die ouens sê baie keer dat spuit goedkoper sal uitwerk. Ek sê nie ’n Kelly maak 100% skoon nie, maar waar jy gaan spuit gaan jy nog steeds ’n rolmoer moet laat hardloop. ’n Kelly beheer egter jou onkruid, versprei jou stoppels en sny hulle fyn sodat jy reg agter hom kan werk.”
Verder sit die lae brandstofverbruik van die Kelly geld terug in die boer se sak.
Quinton vertel dat hulle selfs in swaar sandlande met net 5,2 liter per hektaar weggekom het. In meer stabiele grondprofiele daal die verbruik na ’n indrukwekkende 2,5 tot 3 liter per hektaar.
Pieter se spesifieke Kelly-masjien het ’n K4-skottel voor en ’n tand agter, wat hy juis gekies het om nie te aggressief te werk nie sodat die wind nie die bogrond wegwaai nie.
Kelly se masjiene is robuust gebou en maklik om te versien. Pieter weet die werk is gedoen wanneer sy Kelly van die land af terugkom, want dit beteken daar was nie onnodige staantyd nie.
Quinton voeg by dat die onderhoudskoste baie laag is: die hooffokus is die kettinglaers (bearings) en wielnawe (wheel hubs). Omdat ’n mens maklik spaarparte saam met jou op die land kan neem, staan die masjien selde langer as 30 minute as iets vervang moet word.

Kelly-masjiene sny jou stoppels en versprei hulle soos ’n kombers oor jou lande. Dit keer dat vog verlore gaan.
Die vier K’s van boerdery
Pieter glo in die vier belangrike K’s op sy plaas: kalk, kunsmis, Kelly en kontantvloei.
“Daar is niks wat ’n land vinniger skoonmaak en meer effektief werk voor ’n planter as ’n Kelly nie. As ons agterraak, kan ons hom selfs deur die nag laat hardloop en die volgende oggend het jy reeds 100 hektaar waarmee jy kan aangaan,” vertel hy.
Die Kelly het ook sy waarde tydens nat seisoene bewys. In nat periodes is die grond in die oggende dikwels geseël sodat ’n mens nie kan plant nie. “Wanneer jy die Kelly oorgestuur het, neem dit 15 minute om die grond mooi bros te maak sodat die planter kan werk.”
Omdat hulle na minimum bewerking beweeg het, help die Kelly om kalk of hoendermis in die bogrond in te werk sonder om oesreste te begrawe. Hulle gebruik die Kelly ook om dekgewasse in die winter ná die soja-oes te saai. Dit keer dat die grond kliphard word, beperk vogverlies en dien as waardevolle winterweiding vir die beeste.

Om die regte gronbewerking vir jou plaas te verseker, is daar verskeie vervangbare kettings wat jy op jou Kelly-masjien kan aanbring.
’n Masjien wat homself bewys
Vir Quinton is die prestasie van die Kelly uitsonderlik. “Die Kelly werk vir homself, hy bewys homself. Dit is moeilik om hom te koop as jy hom nie ken nie, maar sodra jy met ’n Kelly begin werk gaan jy nie weer iets anders wil gebruik nie, ek het dit oor en oor gesien. Die boere vir wie ek werk kom tog altyd terug na Kelly toe.”
Diens wat die ekstra myl stap
Nog ’n belangrike aspek vir Pieter is die ondersteuning wat hy van NMI, sy handelaar, ontvang.
“Jy soek nie net ’n toonbank waar jy iets gaan koop nie; jy soek ’n plek waar jy kan klankbord en gedagtes uitruil. Hoe meer ingelig en ingekoop daardie persoon in jou boerdery is, hoe makliker maak dit besigheid,” sê Pieter. Vir hom is die Kelly op sy plaas nie net ’n belegging nie, dit is ’n absolute noodsaaklikheid.
Indien jy meer wil leer oor Kelly en die waarde wat die implement na jou plaas kan bring, besoek gerus die NMI-webblad by www.northmecimp.co.za