NAMPO Alfa is die suksesvolle jonger boetie van sy ouer sibbe

NAMPO_ALFA_2025-1439-scaled
Sweiswerk en ander aktiwiteite neem hul plek in op NAMPO Alfa se program. (Bron: NAMPO Alfawebtuiste, 2025)
Daar is iets besonders aan ’n NAMPO-ekspo wat nie so ’n reusagtige geleentheid as NAMPO Bothaville of NAMPO Kaap is nie. Net soos die ander twee, is dit egter steeds gemik op boere en vervaardigers wat bymekaarkom om idees uit te ruil, gesprekke aan te knoop en gereedskap ten toon te stel.
NAMPO Alfa is veral gemik op besoekers wat nie die geraas en gejaag van ’n tydelike “boerestad” kan of wil hanteer nie. Hier kan hulle rustig van staanplek tot stalletjie stap en alles behoorlik bekyk. Van die binnesaal tot by die diere buite jaag niemand jou aan om ook vir hulle plek te maak nie.
Selfs die atmosfeer is aansienlik rustiger, en dit is amper asof die skougronde, wat gewoonlik duisende mense verwelkom, weet dit is tyd vir iets anders. En dit begin by gewere en ’n begeerte vir ’n opwindende jagtog.

Besoekers kan klere, hoede en ander snuisterye by die wydverspreide stalletjies by NAMPO Alfa koop. (Bron: NAMPO Alfa-webtuiste, 2025)
Jag en toerusting by NAMPO Alfa
Sodra ’n mens die skougronde binnestap, hoor jy reeds vroeg die klap van geweerskote. NAMPO Alfa plaas sterk klem op die verwelkoming van jagters wat in al die toerusting wat gepaardgaan met ’n jagekspedisie, belangstel.
Hier kan jy alles van geweerskope tot bokssakke bekyk en daaroor navraag doen. In die agterste deel van die terrein is daar selfs plekke waar jy gewere en ander wapens kan uittoets, sodat jy nie onseker is oor dit wat jy wil aankoop nie. En in die sale sorg talle uitstallers ook vir elke denkbare soort jagtoerusting wat jy by jou versameling wil voeg.
Koelsakke, termobekers, hoede, skoene, vellies, hemde, versekeringsopsies en selfs beleggingsbanke is deel van hierdie ekspo. Wanneer jy by enige van die stalletjies stilstaan, sal sowel die vriendelike verkoopspersoneel en die interessante oplossings jou dalk verras. Hier kan jy maklik iets ontdek wat jy nie eens geweet het jy benodig nie.
Die jagstalletjies en -uitstallings is egter nie al wat ’n mens by NAMPO Alfa kan beleef nie.

By NAMPO Alfa kan besoekers gewere en ander wapens op die skietbaan uittoets. (Bron: NAMPO Alfa-webtuiste, 2025)
Van kompetisies tot toetse: Die kinders baljaar
NAMPO Alfa bied boonop uiteenlopende uitdagings waarmee kinders hulle kan besig hou, van vinnig tent-opslaan tot sweiskompetisies. Vir ’n kind wat wil wys dat hy of sy deeglik bewus is van wat waar hoort, is NAMPO Alfa ’n bedrywige plek.
Vanjaar het NAMPO Alfa talle kompetisies en leergeleenthede vir kinders van alle ouderdomme aangebied. Op die program vir albei dae was daar verskeie plaasvaardighede, oftewel “Farm Skills”.
Kaskarkonstruksie, die vervaardiging van landboutoerusting, trekkerbestuur, spuitkalibrering, wolhantering, kleinveebeoordeling, ’n plaassimuleerder en draadspankompetisies was onder meer op die program. Die jong deelnemers het dus genoeg gehad om te doen, en vanweë die spoed en doeltreffendheid wat hulle aan die dag gelê het, kon ’n mens sien hulle het dit ernstig opgeneem.
Maar wat van diegene wat na iets anders opsoek was? Vir hulle was daar volop indrukwekkende diere.

Soms raak ’n koei ook maar moeg van staan en staar.
Van groot tot klein: Kies jou dier
By NAMPO Bothaville is daar nie ’n gebrek aan diere nie, en by NAMPO Kaap is daar ook meer as genoeg. Maar NAMPO Alfa huisves diere wat ’n mens eenvoudig nie wil misloop nie.
In die beeskrale het dié diere gewys net hoe merkwaardig hulle is. Daar was pragtige bulle en koeie van ’n Brahman-stoet, asook ’n yslike Chianina-bul wat heel agter in die saal gestaan het.
As jy dapper genoeg was, kon jy selfs naderstap om hierdie pragdier te streel en sou jy vinnig besef het dat hy eintlik net ’n sagte reus is wat ’n bietjie liefde van besoekers soek.
Buite die beeskrale was daar gedurig ’n skaaphond wat ’n trop skape in sirkels aangejaag het, terwyl die bokke in klein krale gesit, gelê en gekou het. Hulle was heel tevrede om die verbygangers dop te hou wat kom inloer het. En as jy mooi gesoek het, kon jy ook die skoukatte en miniatuurperde raakloop.
Hierdie diere het gespog met hul pragtige voorkoms en, net soos die sagmoedige bul, het hulle gretig aandag gesoek.

Bokke en ander diere pronk ook by NAMPO Alfa.
Nog uitsonderlike besienswaardighede
Benewens al die stalletjies in die sale, die diere en die gewere, was daar staanplekke oor die grasperke van NAMPO Alfa heen versprei. Hier kon ’n mens enigiets van vier-by-vier-voertuie tot die kampwa waarmee jy jou volgende avontuur wil aanpak, van nader bekyk.
NAMPO Alfa is die jongste toevoeging tot die bestaande NAMPO-ekspo’s en is nog redelik klein in vergelyking met sy groter, meer bekende broers. Tog groei hy sterk en bied hy baie om te sien vir die besoeker wat die pad na Bothaville wil aandurf.
Al wat ’n mens in gedagte moet hou, is dat hierdie ekspo beslis al die ruimte in die wêreld het om te groei!

Kampeertoerusting is volop, en besoekers kan hul toekomstige avonture sorgvuldig beplan. (Bron: NAMPO Alfa-webtuiste, 2025)