Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 23rd November 2026

Cheetah Conservation Botswana se veewaghonde span hul natuurlike instinkte in om plaasdiere te beskerm

By 6 min read
1236 words

LGD2

Om vee te beskerm en bymekaar te hou, is maar twee van die vele besondere vermoëns van veewaghonde.

Om konflik tussen jagluiperds en vee te beperk, lei Cheetah Conservation Botswana (CCB) Tswana-veewaghonde op om die plaasdiere teen roofdieraanvalle te beskerm. Sedert die veewaghondplasingsprogram in 2013 begin het, is reeds meer as 130 van dié honde by boere geplaas omdat hul vee beskerming nodig het.

Van dorpshondjies tot bekwame veewagters

“Ons kry hondjies uit verskillende oorde. Ons eerste stap is altyd om by plaaslike diereskuilings navraag te doen oor of daar hondjies is wat geskik sal wees,” vertel Jane Horgan, navorser, toesighouer van die Farming for Conservation-program (FFC) en PhD-kandidaat by CCB.

“Hulle moet gesonde Tswana-hondjies en jonger as drie maande oud wees met kort hare, en hulle moenie te skaam of oormatig woelig wees nie.”

Jane verduidelik dat indien die diereskuilings nie geskikte hondjies beskikbaar het nie, CCB by hul netwerk van boere en gemeenskapslede aanklop om vas te stel of daar hondjies is wat hulle kan aankoop.

Die Tswana-honde se besonderse krag lê daarin dat hulle uitstekend aangepas is vir die uitdagende omstandighede.

“Dit is ’n besonder strawwe omgewing. Hierdie klein hondjies moet uiterste temperature trotseer van meer as 40 °C tot koue weer onder vriespunt. Hulle moet ook gemaklik wees op klipperige en sanderige terrein en in staat wees om allerlei plaaslike siektes, parasiete, slange en roofdiere te kan hanteer.”

Volgens Jane is die honde fisiek uitstekend by hierdie omgewing aangepas. Hul kort haarkleed help om hul liggaamstemperatuur te reguleer en keer dat bosluise maklik in hul pels vashouplek kry. Aangesien hulle mediumgrootte honde is, het hulle nie groot energiebehoeftes nie en eet hulle gevolglik ook minder kos. Hulle is boonop geharde honde met ’n sterk natuurlike weerstand teen plaaslike siektes.

“Wat hul gedrag betref, is hulle goed geskik vir hierdie soort werk,” verduidelik Jane. “Daar is bevind dat meer aggressiewe rasse, soos Anatoliese herdershonde, ’n aansienlik korter lewensverwagting het. In ander veewaghondprogramme in Namibië en Suid-Afrika sterf dié honde ook meer dikwels aan slangbyte en gedurende roofdieraanvalle, veral deur luiperds.”

Hoewel CCB steeds van sy Tswana-honde weens slangbyte verloor, gebeur dit minder dikwels as wat die geval met Anatoliese herdershonde is. Die span vermoed dit is omdat Tswana-honde geneig is om meer verdraagsaam en minder aggressief te wees. Hulle sal dus nie sommer maklik agter slange aanhardloop of groter roofdiere trompop loop nie, wat hul kanse aansienlik verminder om met dié gevare in aanraking te kom.

“Hulle het steeds sterk beskermingsinstinkte wanneer hulle bedreig word, maar hulle reageer eerder verdedigend as aggressief. Só beskerm hulle nie net die kudde nie, maar ook hulself.”

Boer Abrahm saam met sy
geliefde veewaghond.

’n Hegte band met vee

Jane verduidelik dat die opleidingsproses verbasend eenvoudig is. Hondjies gaan op ’n jong ouderdom deur ’n belangrike ontwikkelingstadium waartydens hulle sterk sosiale bande vorm. Wanneer hulle gedurende hierdie tydperk aan vee bekend gestel word, leer hulle om ’n band met die diere te vorm en hulle as deel van hul eie groep te aanvaar.

“Sodra dié band gevorm is, beskerm hulle die kudde instinktief. Hulle beskou die diere as deel van hul eie familie en beskerm hulle gevolglik teen moontlike gevare asof dit hul eie familielede is,” vertel sy. “Wat opleiding betref, is die belangrikste dus eintlik om die hondjie gesond te hou en enige stoute of ongewenste gedrag hok te slaan wanneer dit kop uitsteek. Die res, insluitend dat die hond by sy kudde bly en dit beskerm, gebeur vanself.”

Daar is wel ’n aanpassingstydperk waartydens die hond sy band met die nuwe kudde moet versterk nadat hy gewoond geraak het aan die oorspronklike kudde, maar dié oorgang verloop gewoonlik glad. Jane verduidelik dat die hond aanvanklik ’n paar dae lank in die kraal gehou word sodat hy ’n sterk band met die diere kan vorm. Daarna kan hy saam met die kudde die veld in beweeg.

“Die boer moet ook aanpas by ’n werkende viervoetige op die plaas. Dit beteken dat hy na die hondjie moet omsien en seker maak dat die hondjie gesond bly en goeie gedrag toon. Ons kom ’n maand nadat die hondjie geplaas is met die boer in aanraking om seker te maak die hond is gelukkig en gesond en dat hy sy werk behoorlik doen.

“Ons span volg daarna weer drie, ses en 12 maande ná plasing by die boere op om vas te stel of alles goed verloop,” sê Jane. “Ons bepaal ook of daar enige veeverliese was en, indien wel, hoeveel diere verlore gegaan het.

“Dit gee ons ook die geleentheid om die boer by te staan wanneer enige probleme of uitdagings opduik, hoewel dit selde gebeur. Ons het boonop ’n oopdeurbeleid. Boere kan ons dus enige tyd met vrae of bekommernisse kontak, waarna ons telefonies raad en ondersteuning kan bied of ’n plaasbesoek kan reël.”

Omdat die Tswana-honde geleer word om hul natuurlike instinkte in belang van die kudde te gebruik, reageer hulle op ’n naderende jagluiperd of ander roofdier deur hoofsaaklik op hul besonderse reuksintuig staat te maak. Hulle waarsku dan sowel die vee as die boer, wat hulle genoeg tyd gee om op die moontlike bedreiging te reageer.

“ ’n Hond se grootste superkrag is sy reuksintuig. Hy kan dus ’n roofdier ruik lank voordat die kudde of selfs ’n veewagter daarvan bewus is,” verduidelik Jane. “Wanneer die hond die gevaar gewaar, blaf hy om alarm te maak en die kudde te waarsku – asook die veewagter, indien daar een op die plaas is.”

Dié waarskuwing veroorsaak gewoonlik dat die vee naby mekaar saamdrom. Soms sal die honde die vee selfs instinktief in ’n digte groep bymekaarmaak om hulle meer doeltreffend te beskerm.

“Wanneer die diere styf teen mekaar in ’n groep staan, is hulle baie minder kwesbaar vir roofdieraanvalle. Die meeste roofdiere maak staat daarop om hul prooi onkant te betrap, veral die groot katte, soos luiperds. Wanneer die honde blaf en die kudde dus betyds van die gevaar bewus gemaak word, besef die roofdiere dat die verrassingselement nie meer in hul guns kan tel nie.”

Dié blinkoog-hondjie is gereed om met
sy werk as veebeskermer te begin.

Beskermers van vee én boere se voortbestaan

Dié gedrag, tesame met die hond se harde geblaf, is gewoonlik genoeg om die roofdier af te skrik. Hy sal dan eerder na ’n maaltyd gaan soek wat hom nie soveel hoofbrekens verskaf nie.

“Danksy hierdie optrede is ’n veewaghond selde in ’n fisieke geveg met ’n roofdier gewikkel, wat goeie nuus vir die honde én die wildlewe is!”

“Sodra dié band gevorm is, beskerm hulle die kudde instinktief.”

Jane sê veewaghonde lewer merkwaardige resultate, nie net wat plaasproduktiwiteit betref nie, maar ook rakende wildbewaring. “Die plase waar ons die veewaghonde plaas, ervaar buitengewoon hoë vlakke van veeverliese weens roofdieraanvalle. Dit is trouens een van die kriteria waaraan plase moet voldoen om vir CCB se program vir ’n veewaghond in aanmerking te kom.”

Lees meer oor hierdie merkwaardige honde en die onmisbare rol wat hulle speel om boere se vee te beskerm. Hulle is ’n waardevolle aanwins op enige plaas waar vee ’n belangrike bron van inkomste is, veral waar roofdieraanvalle oor die jare tot aansienlike verliese gelei het. En die kersie op die koek? Hulle word dikwels ook geliefde “gesinslede” …

Hierdie artikel is deel drie (a) van ’n artikelreeks oor die wonderlike werk wat Cheetah Conservation Botswana verrig. Vir meer inligting en/of navrae, stuur gerus ’n e-pos aan info@cheetahconservationbotswana.org of aan Connie Modise, koördineerder van die Farming for Conservation-program, by cmodise@cheetahconservationbotswana.org. Volg CCB ook op Facebook en Instagram.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0