Bek-en-klouseer: Tuinroete-boere diep bekommerd

HM suiwelkudde
Henry Meyer, melkboer van Mosselbaai en die Suid-Kaap se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, sê boere is erg besorg oor die gevolge wat bek-en-klouseer vir die ganse suiwelbedryf kan inhou indien dit na die provinsie oorspoel. (Bron: Henry Meyer)
“Die uitbreking van bek-en-klouseer het op ‘n ongeleë tyd geslaan,” sê Henry Meyer, melkboer van Mosselbaai en verteenwoordiger van Agri Wes-Kaap in die Suid-Kaap.
Net soos die Oos-Kaap word in die Suid-Kaap en veral in die Tuinroete intensief met melkbeeste geboer, maar ook met vleisbeeste, skape bokke en varke.
“Die uitbreking het in die verkiesingstyd gekom toe ons nie ‘n minister van landbou gehad het wat nuwe regulasies kon onderteken nie. Ons het al toe die siekte uitgebreek het gevra dat die grense moet sluit en die beweging van vee verbied word, maar ons moes tot na die verkiesing wag.
“Dit was ‘n verskriklike klomp red tape. Eers moes die nuwe regering saamgestel word en die nuwe minister van landbou aangewys en beëdig word voordat minister John Steenhuizen uiteindelik Vrydag die wetgewing kon onderteken om siektebeheergebiede af te baken.
“Dis ‘n bedekte seën ons het nie meer ‘n spoorweë wat van ouds trokke vol beeste vervoer het nie, dan was bek-en-klouseer lankal hier in die Wes-Kaap.”
Veral boere in die gebiede naasliggend aan die grens met die Oos-Kaap het slapelose nagte oor die moontlikheid dat die siekte kan oorspoel.
“Daar is duisende melkbeeste en vleisbeeste in die Knysna- en Hoekwilgebied, ook by George en Wildernis en ook hier rondom Mosselbaai – as die siekte deurkom, kan dit strek tot by Malmesbury.”
Volgens hom het Agri Wes-Kaap in samewerking met al die betrokke bedryfsorganisasies alles in hulle vermoë gedoen om met mekaar te praat en in te gryp, maar daar was geweldige uitdagings.
“Daai ding kruip in jou psige in. Dis moeilik om heeltyd antwoorde te moet gee. Jy kry mense wat teer op negatiwiteit, wat aanhou teem tot jy laterhand (stet) vir hom sê wat hy wil hoor.”
Die siekte se gevolge kring wyd uit. “As jy dit eers in jou kudde het, kan jy net met moeite melk, want dit tas die spene aan en mastitis kan toeneem. Jy kan nie laat slag nie want hier is nie ‘n geskikte slagpale in die gebied nie, en jy kan nie jou diere veiling toe stuur nie. Jy kan vir die volgende paar jaar nie jou beeste van die plaas af laat gaan nie.
“Bek-en-klouseer kan ‘n dorp soos Kareedouw, waar die dorp van die melkbedryf afhanklik is, van die kaart af vee.
“Dit sal ‘n ramp wees as die siekte na die Wes-Kaap oorspoel want al die melkfabrieke word geraak. Hulle verloor hulle uitvoerstatus indien hulle nie die melk dubbel-pasteuriseer of UHT-prosesseer nie.
Baie boere se kalfseisoene begin in Augustus, wat dan aanhou tot Mei voor die koeie in die winter opgedroog word. “Daar is baie kalfgrootmakers wat vragte kalwers wie weet waar gaan haal. Hulle laai die beeste op ‘n waentjie en trek ‘n seil oor en glip ongesiens verby die polisie.
“Polisiekantore soos Klaarstroom en De Rust langs die hoofroetes van die Oos-Kaap af is onderbeman. Hulle het nie die kapasiteit om elke voertuig wat verdag lyk te ondersoek nie, al probeer hulle hoe hard. Dit is soos om perlemoensmokkelaars te probeer vang, tensy jy ‘n wenk van die publiek kry.”
Boonop is mense bang hulle gaan die siekte kry, al is dit nie veronderstel om aansteeklik te wees vir mense nie – in 2001 het mense in die Verenigde Koninkryk die variant gekry wat daar uitgebreek het.
“Ons weet dit versprei deur die lug en as die suidoostewind in die somer begin waai, kan dit versprei. Ons vermoed ook dit word deur wilde voëls versprei – iemand het kolganse geskiet wat beesmis aan hulle bekke gehad het. Ons het min kennis van hoe die siekte deur die slym versprei. Onderstepoort Biological Products het blykbaar ook te min entstof, dit word glo via Botswana van Suid-Amerika af ingebring.
“Nog ‘n ding: Die informele sektor steur hulle nie aan regulasies nie. Hulle vat daai beeste in die nag na ‘n ander plek toe om van die siekte af weg te kom, soos hulle met varke doen as varkpes die ronde doen. Maar oor 21 dae is die beeste siek en die virus het versprei.”
Henry sê dit is ‘n verligting dat die siektebeheergebiede aangekondig is, maar dit gaan nie 100% die verspreiding van die siekte keer nie. “Dit gaan ‘n geweldige slag wees as dit hierheen moet uitbrei.”
Nuwe beheermaatreëls
Henry se kommentaar volg op nuwe beheermaatreëls om die verspreiding van bek-en-klouseer te probeer keer wat Vrydag in die Staatskoerant aangekondig is.
John Steenhuizen, nuwe minister van Landbou, het drie gebiede in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo afgebaken as siektebeheergebiede in ‘n desperate poging om ‘n landwye krisis af te weer.
Die aankondiging kom maande nadat die siekte vir die eerste keer in April in die Oos-Kaap uitgebreek het. Volgens Fanie Ferreira van die Melkprodusente-organisasie (MPO) is altesaam 84 655 diere op 62 plase tot dusver ingeënt. Dr Mark Chimes, raadgewende veearts vir Melk SA, het vroeër gewaarsku dat voorkomende inenting van gesonde beeste verreikende onbedoelde gevolge kan inhou, aangesien die beeste beskou word as besmet.
Siektebeheergebied in die Oos-Kaap
In die Oos-Kaap sluit die siektebeheergebied dele van die Kouga- en Koukamma-munisipaliteite in. Die westelike grens is die Grootrivier. Die noordelike grens volg die Grootrivier waar dit oos draai tot waar dit by die Witelsbos-staatsbos aansluit. Die afbakening loop dan al langs die suidelike en oostelike grense van die Witelsbos-staatsbos tot by die R402, en langs dié roete tot by die R62 en verder tot by die R330. Dan loop die grens in ‘n noordelike rigting tot waar die R330 die Kabeljousrivier oorsteek. Vandaar vorm die Kabeljousrivier die oostelike grens. Die suidelike grens is die Indiese Oseaan. Die gebied sluit al die plase in waardeur hierdie grense loop.
Siektebeheergebied in KwaZulu-Natal
In KwaZulu-Natal sluit die siektebeheergebied die plaaslike munisipale gebiede van Big Five Hlabiza, Mtubatuba, Nongoma, Ulundi, asook die hele Hluhluwe Umfolozi Park in.
Limpopo
In Limpopo word die siektebeheergebied soos volg begrens: Die noordelike grens is die internasionale landsgrens tussen nie Nwanedzirivier en die Krugerwildtuin, die oostelike grens loop langs die Wildtuin se grens, die gebied van die Musina plaaslike munisipaliteit oos van die Nwanedzirivier, die hele Thulamela en Collins Chabane plaaslike munisipaliteite, dele van die Groter Giyani plaaslike munisipaliteit en die Groter Letaba plaaslike munisipaliteit oos van die D3206, en vandaar noord van die Klein Letabarivier tot by die Wildtuin se grens.
Wes-Kaap dankbaar
Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het die afkondiging van die siektebeheergebiede verwelkom. “Minister Steenhuizen se verskerpte biosiekerheidsmaatreëls ondersteun die werk wat ons staatsveeartse doen om te keer dat die siekte na die Wes-Kaap versprei,” het hy Vrydag in ‘n mediaverklaring gesê.
Agri Wes-Kaap het Saterdag in ‘n verklaring gesê die aankondiging van die siektebeheergebiede is bemoedigend. “Dit is verseker ʼn stap in die regte rigting om die verspreiding van bek-en-klouseer te bekamp,” het Louis Wessels, bestuurder: Regsdienste en Administrasie by Agri Wes-Kaap en die sekretariaat van die RPO in die Wes-Kaap gesê. “Ons glo dat almal by die neergelegde riglyne sal hou en dat beheer oor die gebied met die uiterse sorg hanteer sal word.”
“Dit bly belangrik dat biosekerheid voorrang geniet in hierdie kritiese tyd en dat elke rolspeler in die waardeketting hulle plig sal nakom om die bedryf veilig te hou.”
Die MPO het ook beklemtoon dat biosekerheidmaatreëls van groot belang is om te voorkom dat die siekte versprei. Dit is veral belangrik tydens die inkubasietydperk in die vroeë stadiums wanneer daar nog nie kliniese tekens van die siekte sigbaar is nie.
Bewegingsbeheer
Die doel met die afbakening van die drie gebiede is om die verspreiding van bek-en-klouseer weens beweging van beeste, skape en bokke vanuit hierdie gebiede te voorkom. Geen spleethoewige diere, enige produkte afkomstig van hierdie diere soos vleis en velle, of genetiese materiaal mag vanaf, na of in die gebiede beweeg word nie tensy dit onder toesig van en met die nodige permitte van ‘n staatsveearts geskied.
Die diere moet ook vergesel word van ‘n ondertekende verklaring van die eienaar van die vee wat die oorsprong en gesondheidstatus van die diere uiteensit, asook ‘n ondertekende verklaring van ontvanger van die vee wat onderneem om te hou by neergelegde voorwaardes, en om die diere ten minste 28 dae na aankoms in afsondering te hou voordat dit by die bestaande kudde gevoeg word.
Die nodige dokumente wat vereis word wanneer hoefdiere in uitsonderlike gevalle vervoer moet word, is by die Wes-Kaap Departement van Landbou se webtuiste beskikbaar by https://www.elsenburg.com/veterinary-services/animal-health-and-disease-control/
Kontakbesonderhede
Kontak dr Mark Chimes by 074-510-7316 of stuur ‘n e-pos na mark@milksa.co.za
Kontak Louis Wessels by louis@awk.co.za vir meer inligting.
Bronverwysings
Staatskoerant 25 Julie 2024: https://cdn.24.co.za/files/Cms/General/d/12047/01598682ac944fb7bb68f9931be28122.pdf
Steyn, T. (2024) Bek-en-klouseer: Onbedoelde gevolge van inenting. ProAgri.co.za https://proagri.co.za/bek-en-klouseer-onbedoelde-gevolge-van-inenting/
Steyn T. (2024) Bek-en-klouseer: Wes-Kaap rooivleisbedryf gooi wal. ProAgri.co.za https://proagri.co.za/bek-en-klouseer-wes-kaap-rooivleisbedryf-gooi-wal/