Rooivleisforum waarsku oor BKS in buurlande en druk op plaaslike vleispryse

tomwieden-flesh-3139641_1920
Die Rooivleisforum doen ’n dringende beroep op die Suid-Afrikaanse regering om invoere van lewende diere uit Namibië en Botswana met omsigtigheid te hanteer te midde van die huidige Bek-en-Klouseer-uitbrake (BKS) in dié lande.
Die Rooivleisforum, ’n inisiatief van Vrystaat Landbou, spreek sy meegevoel uit met boere in Namibië en Botswana wat tans deur BKS-uitbrake geraak word. Die Forum hoop dat die betrokke regerings daadwerklik en doelgerig sal optree om die siekte te bekamp en die situasie so spoedig moontlik te stabiliseer.
Friedl von Maltitz, voorsitter van die Rooivleisforum, meen dat hoewel die Namibiese Landbou-unie aangedui het dat daar met Suid-Afrika ooreengekom is oor die uitvoer van vleis en lewende diere uit BKS-vrye sones, die moontlike invoer van groter volumes vee uit die streek kommer wek oor die gevolge vir Suid-Afrikaanse produsente en plaaslike markpryse.
“Indien groot hoeveelhede kalwers en afgeronde beeste uit Namibië en Botswana binne ’n kort tydperk die Suid-Afrikaanse mark betree, kan dit tot ’n ooraanbod lei en aansienlike afwaartse druk op plaaslike veepryse plaas. Dit kan veral produsente benadeel, terwyl die voordele hoofsaaklik by aankopers kan lê.”
Von Maltitz sê verder dat die moontlikheid dat Namibië en Botswana hul uitvoere na Suid-Afrika verhoog indien ander uitvoermarkte weens BKS-beperkings ontoeganklik raak, verdere omsigtigheid verg. “Die potensiële gevolge vir plaaslike produsente moet deeglik oorweeg word voordat enige invoerbesluite geneem word.”
Von Maltitz meen skaapprodusente kan besonder kwesbaar wees. “Volgens die Rooivleisforum is daar reeds vanjaar meer lammers uit Namibië ingevoer as gedurende dieselfde tydperk verlede jaar. Verdere toenames in invoere kan bykomende druk op plaaslike produsente plaas.”
“Suid-Afrikaanse veeboere het reeds die afgelope paar jaar onder moeilike ekonomiese omstandighede gesukkel om winsgewend te produseer. BKS het die druk op produsente verder verhoog. ’n Beduidende daling in plaaslike veepryse kan ernstige finansiële gevolge vir boerderye en die volhoubaarheid van die plaaslike rooivleisbedryf inhou,” sê Von Maltitz.
Die Rooivleisforum doen daarom ’n dringende beroep op die Minister van Landbou om enige invoere van lewende diere en rooivleis uit die streek versigtig te oorweeg. Biosekuriteitsvereistes, die risiko van siekteverspreiding en die moontlike impak van invoervolumes op die plaaslike mark moet alles in ag geneem word.
Die Rooivleisforum beklemtoon dat handelsooreenkomste en invoerbesluite nie ten koste van die volhoubaarheid van Suid-Afrikaanse produsente geneem moet word nie.
“Die beskerming van plaaslike produsente se marktoegang en ekonomiese lewensvatbaarheid bly noodsaaklik vir ’n gesonde en volhoubare rooivleisbedryf.”
Wie is die Rooivleisforum?
Dit is ’n inisiatief deur Vrystaat Landbou, wat daarop gemik is om produsente se uitdagings op grondvlak te identifiseer, hul belange te bevorder en samewerking binne die bedryf te versterk.
Hoewel die Rooivleisforum deur Vrystaat Landbou gevestig is, is dit nie tot die Vrystaat beperk nie. Produsente van alle provinsies word uitgenooi om aan te sluit en deel te neem aan ’n groter, gesamentlike poging om ’n volhoubare en winsgewende rooivleisbedryf in Suid-Afrika te bevorder. Lidmaatskap is oop vir primêre rooivleisprodusente regoor Suid-Afrika.