Categories: NuusPublished On: 2nd November 2026

Vrystaat Landbou eis dringende staatsingryping ná plaasmoorde en -aanvalle in Noord-Wes en Dewetsdorp

By 2 min read
484 words

17347557-farm-gate-7201005_1280

Vrystaat Landbou (VL) veroordeel die onlangse plaasmoorde en -aanvalle, veral in Noordwes, ten sterkste. Die moord op Hannetjie van Zyl buite Ottosdal en die brutale aanval op Donovan Marx tussen Potchefstroom en Ventersdorp beklemtoon die ernstige bedreiging waaronder landelike gemeenskappe leef.

Verder daartoe, onderstreep die insidente in Dewetsdorp in die Vrystaat, waarin ’n opkomende boer en twee plaaswerkers binne ’n 6 weke periode vermoor is, dat hierdie tipe geweld die hele landbougemeenskap raak (1 September tot 15 Oktober 2026). In die Dewetsdorp-area word die moorde direk aan veediefstal gekoppel. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, benadruk dat alle boere, plaaswerkers en hul gesinne, en bewoners op plase en kleinhoewes almal die reg het om veilig te woon en te werk.

VL betuig sy innige meegevoel met die naasbestaandes van diegene wat hul lewens verloor het en wens beseerdes krag en herstel toe.

Die Minister se beroep moet nou tot daadwerklike optrede lei Wilken noem dat VL die Minister van Landbou, mnr Willie Aucamp, se beroep om plaasaanvalle as prioriteitsmisdade te hanteer steun en dring daarop aan dat plaasmoorde én plaasaanvalle uitdruklik geprioritiseer word.

“Die regering moet sy erns bewys deur voldoende hulpbronne, vinnige polisiereaksie, deeglike ondersoeke en suksesvolle vervolging daar te stel.” sê Wilken.

Vrystaat Landbou eis:

•Toegewyde ondersoekspanne, ondersteun deur misdaadintelligensie en forensiese kundigheid.
•Behoorlik toegeruste landelike polisiestasies, met voldoende personeel, voertuie en betroubare kommunikasie.
•Daadwerklike uitvoering van die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS), in samewerking met landboustrukture en plaaswagte.
•Daarstel van Landelike Beveiligings eenhede wat uit burgerlikes sal bestaan wat die misdaad voorkomings-pogings in landelike gebiede sal versterk.
•Gereelde terugvoer en ondersteuning aan slagoffers en hul families.

VL versoek verder dat die Ministers van Landbou en Polisie binne 30 dae ’n gesamentlike uitvoeringsplan bekend maak, met duidelike verantwoordelikhede, hulpbronne en sperdatums. Wilken meen die strategie kort statutêre rugsteun wat die Polisie verplig om uitvoering te gee, anders bly dit ’n diskresionêre keuse deur bevelvoerders met geen verantwoordbaarheid, tydskale en die daarstel van hulpbronne.

‘n Onlangse opname wat deur Vrystaat Landbou op 25 Oktober 2026 gedoen is, dui aan dat 47% van Vrystaatse grensplase na bewering deur Basotho-burgers oorgeneem is, deur eienaarskap, huurooreenkomste, onwettige immigrasie en/of onwettige weiding. Volgens VL wek hierdie omstandighede ook ernstige kommer oor gepaardgaande grensoorskrydende kriminele aktiwiteite.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, waarsku dat hierdie situasie ‘n beduidende veiligheidsrisiko inhou, nie net vir grensplase en hul omliggende boerderygemeenskappe nie, maar ook vir aangrensende landbougebiede.

“Die Dewetsdorp-gemeenskap het jare lank kommer uitgespreek oor die teenwoordigheid van onwettige Basotho-burgers in die gebied en die gepaardgaande risiko’s van geweldsmisdaad en eiendomsverwante oortredings, veral veediefstal. Hierdie kommer kan nie voortgaan om geïgnoreer te word nie. Landelike veiligheid moet aangespreek word as ‘n breër nasionale en grensoorskrydende misdaadvoorkomingsprioriteit,” sê Le Roux.

Die bloedvergieting op plase en in die landelike gebiede vereis dringende en volgehoue optrede. Boere en plaaswerkers se lewens kan nie langer die prys van gebrekkige uitvoering wees nie.

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0