Cairns-projek wys die rigting aan: Nuwe nasionale ramprogram vir kommunale wolboere in die vooruitsig

WhatsApp Image 2026-10-29 at 10.26.39 (1)
‘n Aantal wolboere het op 29 Oktober 2026 agt Merinoramme uit Phila Njobe se kudde ontvang. Die oorhandiging het by die Nkululeko-skeerskuur naby Cofimvaba plaasgevind. Dit is die eerste oorhandiging van ramme uit die Cairns-ramtelingsprojek, en gee nuwe momentum aan ‘n ramprogram wat die gesig van kommunale wolproduksie in Suid-Afrika sal verander.
Die oorhandiging is deel van ’n samewerkingsooreenkoms tussen die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in vennootskap met die Wolbemagtigingstrust, landboumaatskappy BKB en die Universiteit van die Vrystaat (UV) onder die NWKV-UV-ramprojek. Die projek behels dat kommunale boere die ramme teel, terwyl die NWKV leiding gee ten opsigte van kuddebestuur en genetiese verbetering. Die doel van die projek is om veeproduktiwiteit te verbeter, huishoudelike inkomste te ondersteun en meer veerkragtige plaaslike ekonomieë te bou.
“Die oorhandiging verskil van soortgelyke projekte in die sin dat die kommunale boere wat aan hierdie ramprojekte deelneem, nie meer blote ontvangers van ramme is nie; hulle word self telers en verskaffers van goeie gehalte ramme,” sê Dan Kriek, hoofbestuurder van die NWKV.
“Ons beskou hierdie geleentheid as die wegtrek van ’n grootskaalse ramprogram met die oog op verbeterde kommunale wolproduksie in Suid-Afrika. Die ondersteuning van die Nasionale Departement van Landbou (DvL), Merino SA en die Dohne Merino-genootskap van Suid-Afrika sal bydra om weer gehalteramme aan kommunale boere voorsien en sodoende hul wolproduksie, en die potensiële inkomste vir landelike gemeenskappe, ‘n hupstoot te gee.”
Voortsetting van ’n beproefde model
Die NWKV en die voormalige Nasionale Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het, met die steun van die destydse Oos-Kaapse Departement van Landbou, jare lank ’n nasionale ramprojek vir kommunale wolboere bestuur. As deel van die projek het kommersiële Merinotelers sowat 3 000 ramme per jaar geteel. Die projek het uiteindelik sowat 50 000 ramme onder kommunale produsente versprei.
Die verkopesyfers spreek vanself. In die 2009/2010-seisoen het kommunale boere 2,78 miljoen kg wol ter waarde van R60,4 miljoen verkoop; teen 2017/2018 het daardie syfer tot 5,42 miljoen kg ter waarde van R383,6 miljoen gegroei – meer as ses keer die waarde van agt seisoene tevore. Wolvolumes het oor dié tydperk byna verdubbel teen ‘n groei van bykans 9% per jaar, terwyl die gemiddelde prys van R21,76/kg tot R70,75/kg gestyg het.
Die ramprojek is in 2018/2019 afgesluit en groei het sedertdien afgeplat. Tussen 2017/2018 en 2024/2025 het kommunale wolvolumes teen net sowat 2% per jaar gegroei en 6,21 miljoen kg bereik. Die randwaarde van kommunale wol weerspieël ook wêreldwye prysiklusse: pryse het rondom 2017/2018 en 2018/2019 ’n hoogtepunt bereik en daarna vir etlike seisoene laag gebly, voordat dit in die huidige seisoen herstel het.
“Met wolpryse wat nou 50 tot 60% hoër is as ’n jaar gelede, is die behoefte aan ’n nuwe ramprogram groter as ooit,” sê Kriek. “Kommunale gebiede hou steeds groot, onbenutte potensiaal vir wolproduksie in, en ’n genetiese verbeteringsprogram sal dié groei aansienlik versterk.”
Dit is ook die oogmerk van die regering se Meesterplan vir Landbou en Landbouverwerking (AAMP). Hernieude samewerking tussen die regering, die bedryf en boere kan die wolproduksievlakke wat in die AAMP uiteengesit word, binne bereik plaas.
Van wolboer tot ramteler
Die Cairns-ramteelprojek het in September 2024 by die Cairns-skeerskuur in die Kolomana-gebied gestalte gekry. Njobe het 365 skape in sy kudde en genereer ‘n inkomste uit wol. ‘n Totaal van 109 ooie met die beste wol is uit sy kudde geselekteer en deur vier gehalteramme van die Merino SA-stoetteler, Japs Jordaan, van Cradock gedek.
Die kuddereaksie was vinnig. Die 89 ooie wat gelam het, het 87 lammers gespeen – ’n speenpersentasie van 98%. Die beste ramlammers is geselekteer, geweeg en na Jordaan se plaas geskuif, waar hy hulle grootgemaak en deur ’n groeitoets gesit het. Die agt ramme wat op 29 Oktober oorhandig is, is uit hierdie proses afkomstig. Die kernkudde het sedertdien tot 191 ooie gegroei; hulle is in Mei 2026 gedek deur ses ramme uit Andrew Jordaan se embrioprogram. Die ramme is deur BKB aan die projek geskenk. Die mikpunt is dat Njobe sy eie gehalte-Merinoramme teel en ramme aan die mark verskaf.

Vennootskappe op meer as een vlak
Die projek is in meer as een opsig ’n openbare-private vennootskap. Op die organisatoriese vlak bring die NWKV, BKB en die UV die bedryf, privaatsektor en akademie byeen, terwyl die regering ’n duidelike rol in die opskaling van die projek het. BKB ondersteun die program reeds sedert die begin, onder meer deur die skenking van die ses ramme.
Isak Staats, uitvoerende bestuurder van wol en sybokhaar by BKB, sê hulle deelname aan projekte soos hierdie weerspieël die maatskappy se verbintenis tot genetiese verbetering, sodat die hele wolbedryf daarby kan baat. “Deur kleiner rolspelers op te hef en hulle te help om die wolgehalte van hul kuddes te verbeter en op te gradeer, kan ons aansienlike waarde tot die Suid-Afrikaanse skeersel toevoeg. Ons weet reeds ons wolgehalte is uitstekend; dink net hoeveel beter dit kan word as ons op dié manier voortgaan om die genetika te verbeter en ’n skeersel wat reeds wêreldklas is, verder verbeter. Die ekonomiese opbrengs sal deur die bank groei.”
As strategiese instrument vir bemagtiging in die wolbedryf, speel die Woolbemagtigingstrust ’n deurslaggewende rol om die NWKV deur middel van befondsing in staat te stel om die ramprojek en ander projekte te koördineer en bestuur. Die trust sentraliseer strategiese bemagtigingsprogramme wat direk op kommunale plaaslike wolboere en kleinboere fokus.
Die UV befonds die projek via die Regional Universities Forum for Capacity Building in Agriculture (RUFORUM). Die werk val onder TAGDev 2.0, ‘n projek wat deur die Mastercard-stigting befonds en deur RUFORUM ondersteun word. Die UV verskaf via TAGDev 2.0 ook tegniese ondersteuning ten opsigte van die opleidings- en werkskeppingsdoelwitte waarop die projek berus.
“Hoewel genetiese verbetering sentraal tot hierdie projek is, vind werklike verbetering plaas wanneer boere self hul eie kuddes teel en bestuur, en daaruit voordeel trek,” sê prof JW Swanepoel, direkteur van die UV se Sentrum vir Volhoubare Landbou.
“Hierdie ramme word aan ander kommunale boere versprei. Ons rol is om hulle op ‘n volhoubare manier te lei en nie om oor te neem nie. Wanneer ’n kommunale boer se diere meer produktief word, is die huishouding beter daaraan toe, en wanneer genoeg huishoudings beter daaraan toe is, word die hele gemeenskap ekonomies sterker. Op hierdie manier word werk geskep. Dít is waaroor hierdie vennootskap gaan.”
’n Uitstaande kenmerk van die Suid-Afrikaanse wolbedryf was nog altyd die merkwaardige vennootskappe tussen boere. Kommersiële Merinostoettelers tree al baie jare as mentors vir nuwe ramtelers op en werk as vennote met hulle saam. In hierdie geval het Japs Jordaan die basisgenetika verskaf, die jong ramme op sy eie plaas grootgemaak en getoets, en deurgaans saam met Njobe gewerk. Andrew Jordaan se embrioprogram het die ses ramme gelewer wat BKB aan die projek geskenk het. Hierdie vennootskappe maak kennisoordrag moontlik en anker terselfdertyd die groei van die bedryf.
Die volgende stap
Die projekvennote beskou die Cairns-model as die grondslag van ’n nuwe nasionale program waarin kommunale boere goeie ramme vir hul eie gemeenskappe sal teel, met kommersiële telers as hul mentors. In 2026/2027 sal vier bykomende projekte, hetsy met individue of skeerskure as deelnemers, aangepak word.
Bron: NWKV