SAAI diep teleurgesteld oor SA se uitsluiting van AGOA

agoa
Saai is diep teleurgesteld oor die Amerikaanse regering se besluit om Suid-Afrika met ingang van 1 Januarie 2027 van die African Growth and Opportunity Act (AGOA) uit te sluit.
Baie boere hou die ANC se hardnekkige weiering om die dreunsang “Kill the farmer, kill the Boer” te veroordeel, plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, van onteiening sonder vergoeding af te sien en Amerikaanse beleggers van sy rasbehepte swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (SEB) vry te stel, vir hierdie besluit verantwoordelik. Suid-Afrika se buitelandse beleid, en veral die ANC se noue verhouding met Iran, het ook reeds ernstige spanning in die land se betrekkinge met die VSA veroorsaak.
Saai skat dat sowat 62000 werkgeleenthede weens die ANC se uitdagende houding teenoor die VSA nou onder druk verkeer en dat veral lietsjie-, sitrus-, wyn-, neut- en ander vrugteboere die ergste gevolge sal dra. Saai en sy netwerkvennote sal voortgaan om by hul kontakte in die VSA voorspraak te maak dat Suid-Afrikaanse boere nie vir die swak oordeel van die ANC en sy simpatiseerders gestraf word nie.
Saai erken egter dat ons nie namens alle boere praat nie en dat ander landbou-organisasies, sekere megaboere en landboubesighede wat ten nouste met die ANC se beleid geassosieer word, daaruit voordeel trek en ’n geskiedenis van onkritiese samewerking met die parasitiese politieke elite het, waarskynlik almal behalwe die ANC vir die beëindiging van Suid-Afrika se AGOA-voordele sal blameer. Die inhoud van die amptelike Amerikaanse verklaring spreek egter vanself.
Saai koester min hoop dat die handelsverhouding met die VSA op kort termyn sal herstel. ’n Regering van Nasionale Eenheid waarin die ANC en sy netwerk van trawante en begunstigdes nie meer die dominante rol speel nie, behoort in ’n beter posisie te wees om vir Suid-Afrika se uitvoerders ’n gunstiger handelsbedeling te beding. Die beleidsveranderinge waarvoor die Amerikaanse regering reeds gevra het, is eenvoudig om deur te voer en sal Suid-Afrika help om weer die morele hoë grond in te neem.