Categories: NuusPublished On: 14th July 2024

Bek-en-klouseer: Onbedoelde gevolge van inenting

By 7 min read
1365 words

long 2

Dr Mark Chimes van Melk SA waarsku teen die onbedoelde gevolge van inenting van gesonde melkkuddes teen bek-en-klouseer. (Bron: Pixabay)

Vrywillige enting van gesonde kuddes teen bek-en-klouseer kan verreikende gevolge hê, waarsku dr Mark Chimes, raadgewende veearts en Programbestuurder: Dieregesondheid en -welsyn by Melk SA.

Die gevolge van die bek-en-klouseer-uitbreking op suiwelplase in die Humansdorp-omgewing van die Oos-Kaap kring al wyer uit. Die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noord-Kaap was tot in daardie stadium sonder inenting vry van die siekte.

Tot op hede het die siekte na 16 plase in die provinsie se Kouga- en Koukamma munisipale gebiede en na twee plase in die Berlin-gebied by Oos-Londen versprei. En alle betrokke instansies in die Wes-Kaapse keer vir ‘n vale om te voorkom dat die siekte ook na die provinsie oorspoel.

Om die verspreiding en verwoestende gevolge van BEK te vermy het melkboere in die besmette gebiede van die Oos-Kaap versoek dat hulle BEK-vrye plase as ‘n voorsorgmaatreël teen BEK ingeënt word.

Maar, waarsku dr Chimes, dit is belangrik om kennis te neem van die onbedoelde gevolge wat inenting van gesonde kuddes vir melkboere en melkverwerkers kan inhou.

“Hierdie is ongewone tye is en daarom kan ons nie soos gewoonlik handeldryf nie,” sê hy. “Suid-Afrika het nog nie vantevore in hierdie mate ‘n uitbreking van BEK in ‘n suiwelproduserende gebied ervaar nie en die impak word nou eers duidelik.”

BEK-positiewe kuddes en 10 km sone

Plase binne ‘n 10 km-beheerde sone rondom ‘n BEK-positiewe plaas kan aansoek doen om hulle BEK-vrye kudde teen die siekte te laat inent. Slegs die plase binne die sone mag aansoek doen en plase wat aan die BEK-positiewe plase grens sal voorkeur geniet. Die staat kan nie boere met ‘n BEK-vrye kudde dwing om hulle kudde te laat inent nie, dit bly hulle besluit.

Indien hulle dit as voorkomende maatreël wil doen, moet ‘n aansoekvorm en ‘n amptelike vrywaringsvorm, wat by die plaaslike staatsveearts beskikbaar is, ingevul en onderteken word.

“Onder die huidige regulasies sal ‘n plaas wat teen BEK ingeënt is as BEK-positief beskou word,” verduidelik dr Chimes.

Dit hou die volgende gevolge in:

  • Die plaas word effektief onder kwarantyn geplaas wat tot twaalf maande kan duur;
  • Gesplete hoefdiere mag nie sonder skriftelike toestemming van die staatsveearts na of van die plaas verskuif word terwyl hulle onder kwarantyn is nie.

Dag Zero

In die geval van klinies gesonde plase in die 10 km sone, sal Dag Zero bepaal word as die datum waarop die laaste dier vir die eerste keer op die plaas ingeënt is.

Indien enige letsels of verdagte gevalle gevind word, sal dag Zero deur die staatsveearts bepaal word as die dag twee weke nadat daar nie meer aanduidings van die sirkulerende virus was nie. Dit behels twee negatiewe kudde-inspeksies twee weke uitmekaar.

Gewoonlik sal kuddes vier tot ses maande na die eerste inenting ‘n skraagdosis-inenting kry vir diere wat lewendig waarde het, soos suiwel- en stoetdiere. Diere wat vir die voerkraal of slagpale bestem is ontvang net een inenting.

Vrywillige inenting op BEK-vrye plase

Suiwelboere op BEK-negatiewe plase buite die kwarantynsone moet kennis neem van die implikasies van inenting op hulle gesonde kuddes.

Dag Zero op BEK-vrye plase

Dag Zero vir klinies gesonde kuddes buite die sone wat vrywillig vir inenting aangemeld het,  is die dag waarop die laaste dier op die plaas vir die eerste keer inenting ontvang het. Hierdie ingeënte diere is vir alle praktiese doeleindes ook onder kwarantyn.

Vir die eerste ses maande vanaf Dag Zero mag gesplete hoefdiere slegs van die plaas af geskuif word vir slag by ‘n BEK-goedgekeurde abattoir en dan ook net met ‘n Rooikruispermit wat deur die staatsveearts uitgereik word.

Na ses maande vanaf Dag Zero mag hierdie diere by enige abattoir geslag word, maar moet steeds met ‘n Rooikruispermit van die staatsveearts vergesel word, want hierdie plase is steeds onder kwarantyn.

Totdat die plaas BEK-vry verklaar is, mag gesplete hoefdiere slegs onder ‘n Rooikruispermit vir slagdoeleindes van die plaas af verskuif word. Diere mag om geen ander rede verkoop of geskuif word nie, tensy toestemming deur die staatsveearts verleen word. Dit is ‘n besluit wat slegs onder uiters buitengewone omstandighede oorweeg sal word, en dan ook slegs tussen plase met dieselfde BEK-status.

“Met dien verstande dat daar geen gevalle van BEK op die plaas was nie, sal die plaas, op die vroegste, eers na twaalf maande vanaf dag Zero beskou word as vry van bek-klouseer. Die proses om ‘n plaas BEK-vry te verklaar, kan selfs langer neem,” waarsku dr Chimes.

Bloedtoetse

Om te bewys dat ‘n plaas BEK-vry is, moet die kudde gebloei en die bloed vir BEK-teenliggaampies getoets word.

“Alhoewel dit moontlik is om die entstof-teenliggaampies te onderskei van die teenliggaampies wat geproduseer word deur ‘n dier wat met BEK besmet is, kan die toetse in sommige gevalle vals-positiewe resultate gee.

“Dit bemoeilik die interpretasie van positiewe toetse in ‘n gesonde kudde wat vrywillig teen BEK ingeënt is. Dit is hoekom plase vir minstens twaalf  maande vanaf Dag Zero as BEK-positief beskou sal word.”

Kalwers gebore uit koeie of verse wat vir BEK ingeënt is, sal BEK-teenliggaampies via die biesmelk verkry en sal daarom ook op serologiese bloedtoetse positief vir BEK toets totdat hierdie moederlike teenliggaampies uit hulle sisteme verdwyn het.

Gevolge vir melkverwerking

Omdat ‘n ingeënte plaas as BEK-positief geklassifiseer word, sal die melk ook as BEK-positief beskou word en moet dit as sodanig hanteer word met dieselfde uitwerking op uitvoere.

Dit behels die  volgende:

  • Alle melk van BEK-positiewe plase moet dubbel-gepasteuriseer of UHT behandel word.
  • Vragmotors wat melk by hierdie plase afhaal, moet aan baie streng biosekerheidsbeginsels voldoen.
  • Melkverwerkers wat melk van klinies gesonde ingeënte plase verkry, sal hulle uitvoerstatus verloor terwyl hulle melk van hierdie plase verwerk, tensy die verwerkingsaanleg aan die staat kan bewys dat hulle die besmette en skoon melklyne heeltemal afsonderlik kan hou.

Volgens dr Chimes het staatsveeartse reeds begin om beeste op BEK-vrye plase in te ent en aansoeke van boere om hul BEK-vrye kuddes te laat inent word so vinnig as moontlik verwerk. Hy beklemtoon dat boere die aansoeke volledig moet voltooi deur al die nodige inligting te verskaf. Aansoeke met vrywaringsvorms waarop sekere dele deurgehaal is, sal nie oorweeg word nie.

Ongewone tye verg ongewone maatreëls

Die inenting van kuddes op BEK-besmette plase is ‘n onlangse reëling.

“Die  staatsveeartsenydienste moes die regulasies en standaarde aanpas sodat BEK-vrye plase as ‘n voorsorgmaatreël ingeënt kan word. Dit is ‘n groot stap in die regte rigting en staatsveeartsenydienste word bedank vir hulle samewerking in hierdie verband.”

Hy meen die gevolge van hierdie stap sal mettertyd uitspeel. “Daar is verbeterings wat aan die stelsel gemaak kan word en ons werk onverpoos saam met die owerhede om sodanige aanpassings met omsigtigheid te maak.”

Die volgende stap sal wees om ‘n stelsel in plek te kry waarvolgens ‘n BEK-vrye kudde wat ingeënt is, na inenting as BEK-vry hanteer word en dat die melk van hierdie diere nie onderhewig aan BEK-maatreëls sal wees nie.

Biosekerheid

Hy beklemtoon dat biosekerheid op ‘n baie streng vlak gehandhaaf moet word.

“Biosekuriteit is net so goed soos die swakste skakel. Dit is baie belangrik dat ons nie ‘n valse gevoel van sekuriteit na inenting kan bekostig nie. Afsonderlike plase wat aan dieselfde eienaar behoort moet afsonderlik bestuur word met geen beweging van personeel of voertuie tussen plase nie

“Ingeënte plase kan steeds besmet raak en virusse laat sirkuleer en die omgewing besmet. Entstof-immuniteit duur slegs sowat vier tot ses maande en die virus kan dan weer op die plaas sirkuleer. Elke boer, hetsy ingeënt of nie, het steeds ‘n verantwoordelikheid om alle moontlike maatreëls te tref om naburige boere en gebiede te beskerm,” sê dr Chimes.

Volgens hom het die BEK-teenliggaampies wat kalwers deur biesmelk verkry het, teen daardie tyd verdwyn en slegs kalwers wat aan die BEK-virus blootgestel is sal positief toets. Dit behoort te bewys of ‘n ingeënte plaas werklik vry van BEK is behoorlik bestuur word met geen beweging van personeel of voertuie tussen plase nie.

“Elke boer, of sy vee ingeënt is of nie, het steeds ‘n verantwoordelikheid om alle moontlike maatreëls te tref om naburige boere en gebiede te beskerm.”

Kontakbesonderhede

Kontak dr Mark Chimes by 074-510-7316 of stuur ‘n e-pos na mark@milksa.co.za

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0