Gasvryheid, insiggewende gesprekke, jongboer-innovasie en hope pret lê voor by die Saai Karoo Landboufees in Laingsburg

Saai 1
Die immergewilde Saai Karoo Landboufees word hierdie jaar vir die vyfde keer op 30 en 31 Oktober op die Laingsburg Sportgronde aangebied en die geleentheid spog weereens met ’n uiteenlopende program wat in elkeen se smaak sal val.
Hierdie geleentheid lok boere, gemeenskappe en die jeug vir twee dae van kennis uitruil, boeiende praatjies deur van Suid-Afrika se voorste landboukenners, ’n bekende televisiepersoonlikheid, lekker kuier, verskeie kompetisies en gasvryheid.
Vrydag 30 Oktober
Die fees skop 11:00 af met ’n BKB-veiling en daarna volg die Jeugprogram, geborg deur die Wes-Kaapse departement van landbou, in die ouditorium. Terselfdertyd vind die landboubespreking (begin 14:00) plaas met dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ontwikkeling en toerisme, Grant Naudé van SA Merino, en dr. Theo de Jager van Saai, as sprekers. Heindrich Wyngaardt tree op as fasiliteerder.
Om 16:00 bied die Kaapse Forum ’n gesprek aan oor vrouemishandeling, een van die belangrikste brandpunte in die land weens die stygende syfer van aanranding en moord op vroue.
Moet ook nie die kroning van die nuwe Mej. Landboukompetisie in die hoofarena misloop nie!
Die jong boere van die toekoms is die heel naweek in die kollig en gevoglik neem landbouskole deel aan die verrigtinge en gaan leerders hul eie patente en modelle bekendstel. Hierdie geleentheid fokus op innovasie onder die jeug en word deur Hollard geborg.
Dani Villè begin haar vertoning om 17:30 in die hoofarena en vanaf 20:00 neem Wynand & Chereè hul plek in agter die mikrofoon, ook in die hoofarena.

Saterdag 31 Oktober
Die dag skop reeds vroeg af wanneer fikse besoekers hul plek inneem by die Vloedmuseum vir ’n pretloop van 5 km geborg deur Twizza. Langasems kan deelneem aan die 9,5 km-wedloop, geborg deur DCAS (Department of Cultural Affairs and Sport). Die stappers en drawwers spring 07:00 weg.
Vir besoekers wat tot laatnag gekuier het, lê daar vanaf 09:00 ’n groentemark en kermis, en ’n talentkompetisie, geborg deur die ATKV, op die sportterein voor tewyl daar ook ’n sokkertoernooi (10:00) by die Acacia Primêre Skool sal plaasvind.
Maar diegene wat die Karoo Kole Koning-braaikompetisie wil beleef kan hulle haas na die geleentheid wat geborg word deur Santam. Lus vir ’n vleisie? Kom maak 11:00 ’n draai wanneer die deelnemers hul beste braai-truuks gaan uithaal.
Terwyl die braai-besoekers hul lippe aflek, vind daar ’n opwindende geleentheid vir die skoner geslag in die Stephanus Graaff-saal plaas. Hannes van Wyk, gewilde aanbieder van Hannes aan huis en Kwêla, en Dani Villè neem albei deel aan die Damesfunksie wat 12:00 begin.
Almal wat belangstel in ’n gesellige kuier kan 13:00 aansit vir ’n spesiale ete waarna nog hoogtepunte volg.
Die Mosselbaai K9-honde-eenheid swaai vanaf 14:00 stert in die hoofarena tydens hul hondevertoning en daarna gaan die manne uithaal en wys en hul spiere bult. Die Wolbaaldra-kompetisie vir dié met sterk rûe, arms en bene begin 15:00 en die deelnemers aan die Sterkmankompetisie spog vanaf 16:00 met húl krag. Albei die geleenthede vind ook in die hoofarena plaas.
Musici gaan besoekers vanaf 18:00 met ’n blaasorkes vermaak en dan gaan die sanger Dassie vanaf 18:30 optree.
Besoekers kan 19:00 naderskuif vir ’n opwindende item op die program: die aankondiging van die naweek se kompetisiewenners.
Vanaf 20:00 is Pietman Gildenhuys aan die beurt met gewilde liedjies asook staaltjies oor sy herinneringe aan Laingsburg.
Die landboufees sluit 1 November op ’n gepaste wyse af met ’n erediens wat 09:30 in die Stephanus Greeff-saal begin.
Boekmerk hierdie besondere geleentheid in jou dagboek en geniet die naweek saam met nuwe en ou vriende en die familie. Ondersteun so vir Saai wat hom beywer om die familieboer op die plaas en in die gemeenskap te hou.

Die hekke open daagliks 08:00 en die onderskeie sangers sluit die dag 20:00 af.
Klik op die skakel vir ’n fees-lusmakertjie deur Pietman Gildenhuys: https://www.facebook.com/share/r/1Qc1sEghzt/
Vir meer inligting, kontak Ronika Groenewald by 083-483-0163 en besoek Saai Karoo Landboufees se Facebook-blad.
