Categories: Artikels, NuusPublished On: 13th October 2026

BEK in Namibië

By 5 min read
1046 words

brown-and-white-cows-standing-in-a-lush-green-past-2026-09-25-04-29-24-utc

Agriculture, portrait or cow in field with nature, conservation or sustainable farming with landscape. Organic, livestock and animal in countryside with grass, meat or milk production on cattle ranch

Die situasie, die impak op Suid-Afrika en samesprekings tussen die twee lande.

Die Namibiese situasie

Namibië het op 23 September 2026 verklaar dat vee positief getoets het vir bek-en-klouseer (BEK) in die Karas-streek (suide van die land). Alle invoere, uitvoere en bewegings van gesplete hoefdiere en hulle rouprodukte is met onmiddellike effek opgeskort. Die gevolg is dus dat Namibië se veebedryf basies tot stilstand gebring is, met geen bron van inkomste vir enige skakel in die veewaardeketting nie.

Die huidige situasie in Namibië is dat daar 129 diere op 17 plase positief getoets het vir die virus (6 Oktober 2026 se syfers, aangekondig op 8 Oktober 2026). Al hierdie plase is in dieselfde area as die indeksplaas. Daar is dus reeds begin om die geaffekteerde gebied in te ent om verdere moontlike verspreiding te probeer voorkom.

Industriesamesprekings

Op 8 en 9 Oktober 2026 het die Rooivleisprodusente-Organisasie (RPO) saam met AgriSA en die RMIS met die Namibiese Landbou-Unie (NLU), die Lewendehaweprodusente-Organisasie (LPO) en die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië (LLPRN) samesprekings gevoer. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie ’n industrie-tot-industrie-gesprek was. Geeneen van die twee lande se industrieë kan besluite neem oor die pad vorentoe rakende die hantering van die virus of die bemarking van vee en produkte nie, maar ons kan wel help om die industrie se siening na regeringsvlak te neem en sodoende moontlike besluite te probeer beïnvloed.

Tydens die samesprekings is ons ingelig dat Namibië ook nog besig is om opsies te oorweeg oor wat hulle nou moet doen. Die eerste opsie is om ’n veterinêre kordonheining in die suide van die land te span en sodoende die suide, met die huidige positiewe uitbreking, van die res van die land te skei, en dan weer by die WOAH aansoek te doen om basies die middelste deel van die land as vry van BEK sonder inenting te laat verklaar. ’n Ander opsie is dalk om die hele land te ent en sodoende so vinnig moontlik erkenning as vry van BEK met inenting te kry, en van daar af hulle bedryf weer te posisioneer. Die toekomstige rigting wat hulle gaan inslaan, is geheel en al hulle besluit, en as Suid-Afrikaanse industrie kon ons net probeer raad gee oor hoe die verskillende opsies kan uitspeel en oor die moontlike risiko’s verbonde aan elkeen wat in gedagte gehou moet word.

Die impak op SA

Die feit van die saak is dat die uitbreking in Namibië ook Suid-Afrika raak, en dus is dit nie ’n geïsoleerde probleem aan hulle kant nie. Ons het reeds skerp spronge in beide die lamkarkas- en speenkalfpryse gesien, die twee kommoditeite wat ons die meeste uit Namibië invoer. Daar is gerugte dat speenkalwers teen tussen R57/kg en R60/kg op die veilings verkoop, terwyl die A2 lamkarkasprys in sekere areas met sowat R9/kg week-op-week gespring het. Plaaslik juig baie produsente oor die skielike hoë pryse, maar die vraag is: Hoe volhoubaar is die tendens, en is die huidige prysspronge die gevolg van ’n markskok of van ’n ware tekort weens die grens wat toe is?

Die invoersyfers vir speenkalwers en slagbare (vet) lammers van die afgelope drie jaar verskyn in die tabel.

Gegewe bogenoemde syfers is die skerp styging in die speenkalfprys wat ons gesien het, eerder ’n skokreaksie as ’n marktekort, aangesien ons hierdie jaar tot op datum maar sowat 2% van ons totale slagtings as speenkalwers uit Namibië ingevoer het.

Die lamscenario lyk egter anders: volgens die jaar-tot-datum-syfer het die invoere van slaglammers ongeveer 15% van ons totale slagtings uitgemaak. In hierdie geval kan die opskorting van invoere dus wel ’n tekort teweeggebring het, en dit is belangrik om te besef dat die tekort veral gevoel word by sommige abattoirs waarvan die kapasiteit oor baie jare ontwikkel is om die Namibiese lammers te slag. By sommige SA-abattoirs maak die Namibiese invoere meer as 70% van die totale slagsyfer uit. Met die invoere wat gestaak is, is die kompetisie vir slagbare lammers dus groot om die besighede aan die gang te hou, en word die pryse skerp opgedryf. Dit is egter nie ’n volhoubare situasie nie, aangesien die tekort nie uit plaaslike lammers aangevul kan word nie en die deurvloei te laag gaan bly om die abattoirs lewensvatbaar te hou.

Die BEK-uitbreking in Namibië hou ongelukkig ook vir ons wesenlike gevare in, wat soos volg opgesom kan word:

  1. Suid-Afrikaanse skaapabattoirs wat deurvloei verloor en uiteindelik sal moet sluit, sodat SA-produsente hul naaste slagplek verloor.
  2. Daar is tans nie ’n ander mark vir die Namibiese skape nie, en hierdie diere bou dus net op in Namibië. Hoe langer die grens toe bly, hoe groter gaan die invloei van skape wees wanneer die grens weer oopmaak, met die gevolg dat ons pryse dan weer wesenlik gaan daal (’n afwaartse prysskok is dikwels groter as ’n opwaartse een).
  3. Aangesien SA nog altyd die grootste gedeelte van die Namibiese skaapaanteel ingevoer het, hou die toekomstige oopmaak van die grens nie soveel gevaar vir die skaap bedryf as vir die bees bedryf in nie. Namibië het tans nie ’n mark vir hulle beesvleis nie, en indien daar onder SACU Vrye Handelsooreenkoms toegelaat word dat bykans al hulle beesvleis en/of speenkalwers vrylik na SA verskeep word, gaan dit ’n groot negatiewe impak op ons beessektor hê. Die invloei van beeste en/of beesvleis sal dus baie noukeurig beplan moet word.

Ten slotte

As Suid-Afrikaners is ons deeglik bewus van die vernietigende gevolge van BEK, en wil ons graag vir Namibië sterkte toewens met die pad vorentoe. Hierdie virus het die potensiaal om meer mense ekonomies keelaf te sny as wat dit diere sal laat vrek, en dus is dit bykans belangriker om vir marktoegang en die voortbestaan van produsente in die waardeketting te veg as wat dit is om die virus self te veg.

Weereens: As industrieë kan ons nie die besluite rondom BEK en internasionale handel neem nie. Ons kan slegs ons stem laat hoor en so probeer om die owerhede te beïnvloed ter wille van die voortbestaan van ons produsente. Ons sal dus graag ‘n beroep op die regerings van albei lande wil doen om met mekaar sowel as die onderskeie industrieë te konsulteer om oplossings te kry wat in die beste belang is van beide lande en hul produsente.

DR FRIKKIE MARÉ
HUB: NASIONALE RPO
frikkie@rpo.co.za

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1