2026 Haval H7: ‘n Betroubare alternatief met uitstekende waarde-vir-geld aanbod

2500Haval_Exterior_12
Die plaaslike arm van die Chinese handelsmerk GWM, het laasmaand die opgedateerde 2de generasie Haval H7 plaaslik bekendgestel. Die 2026 Haval H7 is gebaseer op ‘n model bekend as die “Haval Raptor” in China waar dit sedert 2023 in produksie is en is effe groter is as die uitgaande model wat dit vervang.
Voorkoms en ontwerp
Visueel vertoon die H7 regop, vierkantig en doelbewus avontuurgerig met duidelike trekke na die Jetour T2. Daar is ook met die vierkantige ontwerpfilosofie spesifiek geneig na tradisionele veldry-ontwerpe met ondermeer ‘n agterklap wat sywaarts oopmaak.
Terwyl voorwielaangedrewe modelle gemaklik vaar op die pad, gee die 4-trek variante se robuuste buite-stilering ‘n sterk visuele veldry beeld.
GWM het die nuwe Haval H7 plaaslik as ‘n direkte mededinger vir die gewilde Jetour T2 geposisioneer wat die H7 teen 4800mm lank en 1950mm breed slegs 15mm langer, maar 56mm smaller maak as die T2. Die H7 is egter 1843mm hoog en het ‘n wielbasis van 2738mm. Verder bied die H7 ‘n vragvermoë van 500 kg en beskik oor ‘n geremde sleepvermoë van 1 500kg vir beide die PHEV- en HEV-modelle. Die 2.0T petrol model kan egter 2 000kg gerem sleep.
Kajuit en toerusting
Die H7 is in twee afwerkingsvlakke beskikbaar, naamlik Super Luxury en Ultra Luxury met laasgenoemde as topmodel. Standaard beskikbaar by die Super Luxury-spesifikasies is LED-kop- en agterligte, dagligryligte, sleutellose toegang en aanskakeling, sintetiese leerbekleedsel vir die sitplekke, 6 verskillende opsies vir die elektries verstelbare bestuurderstoe waarvan die lendesteun twee elektriese verstelling.
‘n Panoramiese sondak is ook standaard vir die hele reeks. Tegnologie sluit in 12.3” digitale instrumentasie, 15.6” raakskerm vir inligting/vermaak, Apple CarPlay en Android Auto, ‘n agt-luidspreker-klankstelsel asook ‘n koordlose slimfoon-laaiblad. Verder is dubbelsone-klimaatbeheer met agterste lugopeninge en ‘n praktiese 220 V-kragaansluiting i in die agterste kompartement ook standaard.
Die luukser Ultra Luxury-spesifikasie kry ekstra ‘n 9.0-duim-kop-op-skerm, ‘n klankstelsel met 10 luidsprekers, verhittings- en ventilasiefunksionaliteit vir die voorste sitplekke, en ‘n verhitte stuurwiel. Die PHEV-model, wat as die vlagskipweergawe in die reeks diens doen, beskik verder oor agt- en 4-opsie elektriese verstellings vir onderskeidelik die bestuurder- en voorste passasiersitplekke. Die bestuurdersitplek kry egter 4-opsie elektries verstelbare lumbale ondersteuning.
Die ruim kajuit bied meer as genoeg kop-, knie-, been, en skouerspasie vir 5 insittendes. Verder word die bagasieruimte aangegee as 586 liter wat tot 1 404 liter vergroot kan word as die agterste sitplekke (60:40 skeiding) platgevou word.

Enjin en verrigting
Die nuwe H7 is plaaslik beskikbaar met die keuse van drie kragbron opsies.
Die 2.0-liter turbo-aangejaagde petrolenjin (ICE) dien as die intreeopsie wat krag betref en lewer 170kW en 380Nm se piekkragte. Gekoppel aan ‘n 9-gang dubbelkoppelaar-ratkas wat krag stuur na die pad vir voorwiel- of 4wielaandrywing na gelang van die koper se keuse.
Die middel model HEV kombineer ‘n 1.5-liter petrol enjin met ‘n 1.53 kWh-batterypak en lewer 182kW en 540Nm maksimum kragte.
Die topmodel PHEV inprophibried gebruik ook die 1,5L petrolenjin met ‘n 23.7 kWh-batterypak. Hierdie kombinasie bied piek uitsette van 240kW/540 Nm by die voorwielaangedrewe model en 280kW/670Nm by die 4wielaangedrewe model. By laasgenoemde word die 0-100kpu lopie aangegee as 4,9sekondes. Hierdie stelsels bied ‘n beweerde reikafstand van 130km by voorwielaandrywing en 115km in die 4wieltrek weergawe. Alle die PHEV-modelle beskik oor voertuig-tot-laai (V2L) funksie wat eienaars toelaat om die voertuig as ‘n 6 kW mobiele kragbron vir klein toestelle te gebruik – uitstekend vir die kampeer en buitelug entoesiaste.
Veiligheidskenmerke en bestuurderbystandstelsels
Standaard is alle modelle toegerus met dubbele voor-, voor-sy- en sygordynlugsakke.
Isofix-kinderstoel ankers bring gemoedsrus terwyl voor- en agterparkeerafstandsensors wat ondersteun word met deur ‘n 360-grade-omgewingskamerastelsel met deursigtige onderstelaansig uitstekende bestuurderhulp bied wanneer daar in knap parkeerplekke stilhouplek gesoek word. Standaard gevorderde bestuurdershulpstelsels (ADAS) sluit in aanpasbare spoedbeheer, botsingswaarskuwing voor met outonome noodrem, baanverlatingswaarskuwing en baanhou-bystand. Ultra Luxury modelle se ADAS- stelsel sluit ondermeer blindekolmonitering, kruisverkeer- en oop-deurwaarskuwings In.

Hantering en paddinamika
Op Suid-Afrikaanse paaie lewer die H7 ‘n sagte, goed gedempte ritgehalte wat insittendes doeltreffend teen ongelyke en swak padoppervlaktes isoleer. Opvallend was die stil kajuit tydens ons bekendstellingsritte op teer en gron met indrukwekkend demping teen wind- en enjingeraas asook die gewone bandgeraas wat selfs teen nasionale hoofwegspoed tot ‘n minimum beperk word.
Die stuur is effe aan die ligte kant, maar is moeiteloos wat stadsbestuur gemaklik behoort te maak.
Opsomming
Die 2026 GWM Haval H7 het beïndruk met ‘n aantreklike avontuurgerigte voorkoms, gerieflike rit, uitstekende kajuitontwerp, afwerking, uitleg en toerusting, asook ‘n premium gevoel.
Verdere pluspunte is uitstekende brandstofverbruik regoor die reeks (PHEV model het ons 5,8l/100km gegee), ruim en goed geïsoleerde kajuit met goeie beenruimte agter.
Verder bied GWM ook omvattende waarborge en diensondersteuning op alle H7-modelle en lewer ondubbelsinnig rugsteun aan sy produkte vir meer as 20jaar in Suid Afrika.
Die waarde aanbod is net te goed om te ignoreer.
Prys en waarborge
Haval H7 2.0T 2WD Superluuks 9DCT — R554 900
Haval H7 2.0T 2WD Ultra Luuks 9DCT — R594 900
Haval H7 1.5T HEV 2WD Superluukse DHT — R624 900
Haval H7 2.0T 4WD Ultra Luuks 9DCT — R654 900
Haval H7 1.5T PHEV 2WD Superluukse DHT — R734 900
Haval H7 1.5T PHEV 4WD Ultra Luukse DHT — R794 900
Ingesluit by die prys van elke model is ‘n voertuigwaarborg van 7 jaar/200 000 km, ‘n diensplan van 7 jaar/75 000 km en 7 jaar/onbeperkte km padbystanddiens. HEV- en PHEV-modelle kry ook ingesluit by die prys ‘n waarborg van agt jaar/150 000km uitsluitlik vir die batterypak.