Categories: Dieregesondheid, Nuus, Vee en WildPublished On: 5th July 2024

Bek-en-klouseer: Wes-Kaap rooivleisbedryf gooi wal

By 3 min read
644 words

cow-5299176_1920

Foto: Pixabay

Rolspelers in die rooivleisbedryf werp alles is die stryd om bek-en-klouseer uit die Wes-Kaap te hou.

Alle belanghebbendes in die bedryf het  gister (Donderdag 4 Julie)  ‘n vergadering van die Wes-Kaapse Bek-en-klouseer Werkgroep bygewoon om die dreigende gevaar van dié aanmeldbare, staatsbeheerde siekte te bespreek.

Dit  volg nadat die aanmeldbare, staatsbeheerde siekte einde April op ‘n suiwelplaas in die Humansdorpgebied  in die Oos-Kaap uitgebreek het. Die siekte het intussen na 14 ander plase in die Kouga- en Koukamma munisipale gebiede en twee by Berlin by Oos-Londen.

Die werkgroep het onder voorsitterskap van Jaco van den Berg, Wes-Kaap Rooivleisprodusente-organisasie (WKRPO), vergader om die uitdagings en die wyse waarop dit hanteer gaan word, te bespreek.

Die Departement van Landbou se Veeartsenykundige dienste het verduidelik wat die huidige stand van sake in die Wes-Kaap tans is, watter voorsorgmaatreëls getref word om te voorkom dat die provinsie besmet raak en wat die reaksieplan sou wees indien dit wel gebeur.

Hierdie vergadering is gereël na afloop van ʼn vergadering op 7 Junie wat deur die Wes-Kaapse Departement Landbou gefasiliteer is.

Die rolspelers sluit naas Agri Wes-Kaap, die Wes-Kaapse Landboudepartement en Veeartsenykundige dienste en die WKRPO, ook die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), Melkprodusente-organisasie (MPO), die Landbouprodukte Agente-raad (APAC), die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Lewendehawe Afslaers (SAFLA) en die Abattoir-vereniging in.

Voorkomingsmaatreëls: bewegingsbeheer

Die enigste manier om te voorkom dat die siekte versprei is om die vervoer van alle lewende hawe streng te beheer.

  • Alle beeste, skape en bokke wat vervoer word moet vergesel word deur ‘n verklaring van die eienaar wat die plek van oorsprong van die vee, hulle gesondheidstatus en hulle bestemming aandui.
  • Die  besending moet ook deur ‘n brief van die aankoper vergesel word waarin hy die onderneming gee dat die aangekoopte vee 28 dae lank onder kwarantyn gehou sal word.
  • Artikel 6 en 8 sertifikate in terme van die Veediefstalwet 57 van 1959 moet alle diere wat vervoer word vergesel.

Voertuie wat lewende hawe vervoer sal deur die Wes-Kaap Verkeersdienste en Veediefstaleenhede gemoniteer word.

Veeboere

Die poging om bek-en-klouseer uit die Wes-Kaap te hou is in die  hande van veeboere. Die volgende aanbevelings geld:

  • Moenie diere vanaf BKS-besmette gebiede of waar gebiede waar bewegingsbeheer toegepas word aankoop of vervoer nie.
  • Moenie  vee op ‘n veiling buite die Wes-Kaap aankoop nie en dan ook net by veilings wat aan die Landbouprodukte-agenteraad (Agricultural Produce Agents Council, APAC) se voorskrifte voldoen.
  • Voertuie wat diere vervoer moet gewas en ontsmet word nadat diere afgelaai voordat ander diere weer opgelaai word. ‘n Sertifikaat wat die datum, tyd en ontsmettingsmiddel wat gebruik is aandui, moet altyd die voertuie vergesel.
  • Alle voer wat diere vergesel het moet vernietig word.
  • ‘n Gesondheidsertifikaat van ‘n privaat veearts moet die aangekoopte vee vergesel, veral as die vee buite die Wes-Kaap aangekoop is.
  • Indien voorvalle van BKS vermoed word, moet dit by die naaste staatsveearts aangemeld word.

Gebeurlikheidsplan

Daar is reeds ‘n plan van aksie in plek indien BKS in die Wes-Kaap aangemeld word. Die werkgroep sal voortaan tweeweekliks vergader om die BKS-situasie te moniteer. Die volgende vergadering vind op 18 Julie plaas en die verskillende bedryfsorganisasies sal op hoogte gehou word van enige verwikkelinge.

“Dit is van uiterse belang dat elke veeboer pro-aktief optree en sorg dat hulle eie biosekuriteit in plek is,”: sê Jaco. “Hierdie inisiatief met die betrokkenheid van alle rolspelers in die rooivleisbedryf  se doel is om die regte nuus op die regte platforms met die regte bewyse te deel.”

Louis Wessels, Agri Wes-Kaap Bestuurder: Regsdienste, benadruk die noodsaaklikheid van onderlinge kommunikasie in die rooivleisbedryf.

“Ons wil verseker dat alle rolspelers in die rooivleisbedryf doeltreffend met mekaar kommunikeer en verseker dat pro-aktief opgetree word om die verspreiding van BKS na die Wes-Kaap te probeer verhoed.

“Ons wil ook alle rolspelers, insluitend produsente, aanmoedig om te verseker dat hulle biosekerheidsmaatreëls in plek is,” aldus Louis.

Kontakbesonderhede

Kontak Louis Wessels by louis@awk.co.za of  Helena van Eeden by helena@awk.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0