Boere bekommerd oor hernieude grondonteiening en grondhervormingsretoriek

Screen PPT_Hands Holding Sprouting Green Plant in Fertile Soil with Sunlight
Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die hernude politieke en wetgewende fokus op grondhervorming, veral die moontlikheid van verdere grondwetlike en wetgewende wysigings, op ’n tydstip wanneer Suid-Afrika reeds onder groot ekonomiese druk verkeer.
Onlangse verklarings vanuit regeringskringe wek verdere kommer. Advokaat Ngwako Maenetje, senior advokaat wat president Cyril Ramaphosa verteenwoordig, het vroeër vandeesmaand in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangevoer dat die Onteieningswet behoorlike uitvoering gee aan grondhervormingsmaatreëls in die Grondwet. Die Minister van Landelike Ontwikkeling het voorts aangedui dat verdere wetgewing, waaronder die voorgestelde Wetsontwerp op Billike Toegang tot Grond, oorweeg word om onder meer te verseker dat distrikte die demografie van Suid-Afrika weerspieël.
Dit laat die vraag ontstaan oor wat die werklike beleidsdoelwit van die nuwe onteienings- en grondhervormingsraamwerk werklik is?
Friedl von Maltitz, vise-president van VL sê: “Boere is herhaaldelik gerusgestel dat die Onteieningswet nie daarop gemik is om grondhervorming deur onteiening te dryf nie. Wanneer regeringsverteenwoordigers egter self grondhervorming en herverdeling as doelwitte van die breër wetgewende raamwerk voorhou, is dit onvermydelik dat grondeienaars en beleggers verdere onsekerheid ervaar.”
Von Maltitz sê verder dat VL ’n regverdige, grondwetlike en ekonomies volhoubare grondhervormingsproses ondersteun. “Ná ongeveer 30 jaar van grondhervorming moet Suid-Afrika egter eerlik vra watter modelle werklik werk. Daar is suksesverhale, maar ook talle gevalle waar staatsgedrewe nuwe opkomende boer programme nie die verwagte volhoubare produksie en ekonomiese waarde gelewer het nie.”
Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van VL, noem verder dat die organisasie ook bekommerd is oor moontlike nuwe bevoegdhede vir munisipaliteite om grond vir openbare doeleindes, insluitend grondhervorming, te identifiseer en te bekom. Dit moet beoordeel word teen die agtergrond van die Ouditeur-Generaal se jongste bevindings oor ernstige bestuurs- en finansiële probleme by plaaslike owerhede.
“Instellings wat sukkel om bestaande verantwoordelikhede na te kom, moet nie sonder voldoende kapasiteit en aanspreeklikheid verdere ingrypende magte oor privaat eiendom ontvang nie.”
Beleidsonsekerheid het ook ’n direkte ekonomiese koste.
Landbou is ’n belangrike bydraer tot Suid-Afrika se ekonomie, voedselsekerheid en landelike werkskepping. Onsekerheid oor eiendomsreg, grondgebruik en toekomstige beleid ontmoedig langtermynbeleggings en benadeel nie net grondeienaars nie, maar ook finansiers, insetverskaffers, werknemers en nuwe toetreders tot die landbou.
VL is daarom bekommerd dat toenemend gepolariseerde politieke uitsprake oor grond rasseverhoudinge kan verswak. “Grondhervorming moet nie ’n instrument word wat landelike gemeenskappe teen mekaar opstel nie. In ’n tyd van plaasaanvalle, landelike misdaad en ekonomiese druk behoort politieke leiers eerder vertroue, samewerking en stabiliteit te bevorder.” sê Von Maltitz.
doen daarom ’n beroep op die regering om grondhervorming te beoordeel aan die hand van produktiwiteit, werkskepping, voedselsekerheid, ekonomiese volhoubaarheid en die sukses van nuwe boere, eerder as bloot die hoeveelheid grond wat oorgedra word.
“Suid-Afrika het nie nog ’n rondte van beleidsonsekerheid nodig nie. Ons benodig regsekerheid, beleggingsvertroue en ’n landbousektor wat meer mense in staat stel om suksesvol aan die ekonomie deel te neem. VL is bereid om konstruktief saam te werk aan grondhervorming wat regverdig, grondwetlik, ekonomies volhoubaar en tot voordeel van alle Suid-Afrikaners is.”
Bron: Vrystaat Landbou