Categories: NuusPublished On: 24th August 2026

Vroue se stemme help bou aan ‘n landbou waar vertroue saak maak

By 6 min read
1235 words

landbou 1

Vrouemaand herinner ons aan die krag van vroue se bydraes. Ook in die landbou laat vroue vanuit verskillende hoeke hul stemme hoor – nie net op plase nie, maar in laboratoriums, raadsale, navorsing en tegniese rolle waar besluite geneem word wat die bedryf se toekoms help vorm. 

Agter elke suksesvolle oes, nuwe produk of wetenskaplike deurbraak is mense wat daagliks verantwoordelikheid moet neem. Hul kundigheid en perspektiewe speel ’n toenemend belangrike rol in hoe die landbou vorentoe ontwikkel. Verantwoordbaarheid en etiese leierskap is nie meer bysaak in die landbou nie – dit vorm die grondslag waarop die vertroue van produsente, werknemers, vennote en gemeenskappe gebou word.

Die onlangse aanstelling van Jandri Nienaber as WinField United Suid-Afrika (WUSA) se eerste Groepsnakomingsbeampte is een voorbeeld van hoe vroue toenemend sleutelrolle vervul in die bou van geloofwaardigheid in die bedryf. 

Met meer as 13 jaar se ervaring in die finansiële en landbousektor beskryf Nienaber haar nuwe rol nie bloot as voldoening aan wetgewing nie, maar as om verantwoordelikheid te neem, integriteit te handhaaf en risiko’s vooruit te bestuur.

“Dit is eenvoudig deel van verantwoordelike sakebestuur,” sê Nienaber. “Ons wil risiko’s voorkom voordat dit probleme word. Wanneer mense weet wat van hulle verwag word en die regte ondersteuning ontvang, bou dit ‘n kultuur van verantwoordbaarheid reg deur die organisasie.”

Meer as 150 stukke wetgewing is van toepassing op die organisasie se bedrywighede, benewens bedryfstandaarde, interne beleide en plaaslike munisipale vereistes. Veiligheid van werknemers, besoekers, kliënte en omliggende gemeenskappe bly daarom ‘n hoogste prioriteit.

Volgens Jan Vermaak, Uitvoerende Hoof van WinField United South Africa (WUSA), is die fokus op verantwoordbaarheid ‘n belangrike deel van die groep se kultuur. “Rentmeesterskap beteken vir ons om elke besluit só te neem dat dit die vertroue van produsente, werknemers, vennote en die volgende geslag versterk.”

Nienaber het op ‘n plaas in die Sentrale Vrystaat grootgeword waar landbou eenvoudig deel van die alledaagse lewe was.

“Ons het vandag baie suksesvolle vroue wat groot, gevestigde boerderye in Suid-Afrika het. Ek haal my hoed af vir alle vroue wat op grondvlak boer. Maar moenie dink jy moet noodwendig self boer om deel van die bedryf te wees nie. Landbou het plek vir regsgeleerdes, wetenskaplikes, bemarkers, finansiële kundiges en talle ander beroepe.

“Oor die laaste vyf tot 10 jaar ervaar ek daadwerklik dat meer en ook jonger vroue leierskapposisies in die landbou beklee. Hoe meer vroue hulself beskikbaar stel vir leierskap en hul stem laat hoor, hoe vinniger verander die beeld van die bedryf.”

Nienaber se raad aan vroue wat in die bedryf betrokke wil raak: “Moenie bang wees vir landbou nie. Gryp geleenthede aan, selfs al voel jy nog nie gereed nie. Baie van die vaardighede leer ‘n mens langs die pad.”

Nog ‘n betekenisvolle nuwe aanstelling, is Gabrielle Redelinghuys wat sedert begin Augustus die rol van Groepsvolhoubaarheidsbestuurder by WUSA vervul.

Redelinghuys bring ’n breë agtergrond in politieke en veiligheidsrisiko-ontleding en -bestuur na die landbou. Sy het die afgelope jare dié ervaring toenemend in die bedryf toegepas, onder meer deur betrokke te wees by volhoubaarheidsprojekte rondom geïntegreerde plaagbeheer, biologiese middels en klimaatslimlandbou.

“Een van die grootste struikelblokke in die Suid-Afrikaanse landbou is die onderverteenwoordiging van vroue,” sê Redelinghuis. “Vroue is ook dikwels sterk voorstanders van volhoubaarheid en kan só strategieë en sakebesluite beïnvloed om bewaring, klimaatsaksie en die algehele welstand van die planeet te bevorder.”

Haar boodskap aan vroue: “Die landbou het jou nodig. As jy ’n passie vir landbou het, omarm dit. Dit sal een van die lonendste sektore wees waarin jy ooit kan werk. Staan op, neem jou plek in en omarm dit.”

Bianca Rabie, Regulatoriese en Ontwikkelingsbestuurder by Villa Crop Protection, werk reeds langer as ‘n dekade in die landbou-regulatoriese omgewing nadat sy met ‘n honneursgraad in chemie die landboubedryf betree het.

Rabie en haar span help om nuwe produkte verantwoordelik deur die regulatoriese proses te neem voordat dit produsente bereik. Hierdie proses vorm ’n belangrike skakel tussen innovasie en die mark en verseker dat produkte aan streng gehalte-, veiligheids- en wetgewende vereistes voldoen.

“Ons is baie verskillende mense wat met mekaar moet kan saamwerk – van verskillende departemente binne die maatskappy tot ons kliënte daar buite,” sê Rabie. “Ek het geleer dat selfvertroue een van die belangrikste eienskappe is wat jy as ‘n jong vrou in die landbou kan ontwikkel. Jy moet eenvoudig glo in jouself en die bydrae wat jy kan lewer.”

Sy meen landbou sal in die toekoms net nog meer loopbaangeleenthede bied, veral in navorsing, biotegnologie, presisieboerdery, produkontwikkeling en data.

“Die wêreld verander voortdurend, en dieselfde geld vir loopbane. Bly nuuskierig, hou deure oop en wees bereid om nuwe dinge te leer.”

Dr. Karen Truter het onlangs die rol as Tegniese Bemarkingspesialis: Plantvoeding by InteliGro ingeneem, waar sy haar ervaring in grondkunde, agronomie, plantvoeding en presisielandbou toepas.

Truter het vroeër vanjaar haar PhD in Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, met ‘n fokus op datagedrewe oplossings en plaasvlak-eksperimentering vir veldgewasse.

“Ek het doelbewus gekies om in ‘n landboutegniese rol direk met produsente en die praktyk te werk,” sê Truter. “Maar landbou is soveel meer as boerdery. Daar is reeds vroue wat op elke vlak van die waardeketting ‘n verskil maak. Hulle bring kundigheid, nuwe perspektiewe en sterk waardes na die bedryf. Ons moet daardie stories meer vertel. Ek glo nie dat daar te min vroue in die landbou is nie, maar dat hul bydraes nog nie altyd die sigbaarheid kry wat dit verdien nie.”

“Ek sien uit na die dag wanneer vroue se stemme in die landbou nie meer merkwaardig is nie, maar eenvoudig net deel is van landbou. Landbou gaan oor kundigheid, deursettingsvermoë en respek. Vertroue word nie oornag verdien nie, maar gebou deur verhoudings. Hoe langer jy in die bedryf is en hoe meer mense jou werk leer ken, hoe minder maak ouderdom of geslag saak.”

Louise Duminy, WUSA se Groephandelsmerkbestuurder, sê sy is bevoorreg om reeds sedert die totstandkoming van WUSA by die groep betrokke te wees, en stap voor dit reeds sedert 2006 die pad saam met InteliGro.

In haar rol help Duminy om die groep se handelsmerke, kennis en waarde-aanbod op ‘n betekenisvolle wyse met produsente, vennote en ander belanghebbendes te verbind. Deur strategiese kommunikasie en handelsmerkbou dra sy by tot die geloofwaardigheid, sigbaarheid en vertrouensverhoudings waarop langtermyn-sukses in die landbou berus.

“Landboumense is voorwaar die lekkerste mense – ná aan die aarde, opreg, innoveerders en ‘go-getters’,” sê Duminy. “Dit is spesiaal om deel te kan wees van ’n bedryf wat werklike daaglikse waarde bring na elke huishouding, want voedselsekuriteit is nie net ’n landboukwessie nie; dit is die fondament van ’n gesonde, stabiele en voorspoedige samelewing.”

“Ons bydraes lyk verskillend – van nakoming en volhoubaarheid tot regulering, plantvoeding en handelsmerkbou – maar elkeen bring kennis en ’n ander perspektief na die bedryf. Saam help dit om ’n sterker bedryf te bou.

Sy rig ’n uitdaging aan alle vroue om in landbou betrokke te raak: “Daar is soveel geleenthede in gewasproduksie – van saad en grondgesondheid tot plantvoeding, gewasbeskerming, bystand en tegnologie wat in die veld help boer. Die bedryf het ons kundigheid nodig. As jy belangstel in landbou, doen dit!”

Soos Nienaber, Redelinghuys, Rabie, Truter en Duminy se stories wys, het die landbou beslis nie net méér vroue nodig nie; dit het hul stemme, kundigheid, selfvertroue en unieke perspektiewe nodig. Dit is mense soos hulle wat help om die vertroue te verdien waarop die landbou se toekoms berus.

Uitgereik deur WinField United South Africa

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0