Staatsbate staan vir 9 maande langs pad terwyl boere self infrastruktuur moet herstel

Die verlate padskraper_1
“Terwyl boere self noodgedwonge paaie moet gelykmaak om produkte by die mark te kry, werkers te vervoer en te verseker dat noodsaaklike dienste toegang tot landelike gemeenskappe en kinders toegang tot skole kan kry, staan staatstoerusting vir maande in onbruik langs die pad,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.
Vrystaat Landbou (VL) spreek ernstige kommer uit oor die swak bestuur en benutting van provinsiale padinstandhoudingshulpbronne, nadat ’n relatief nuwe Bell-padskraper wat aan die Staatsmotorhawe behoort, na bewering reeds vir meer as nege maande langs die pad naby Vanstadensrus in die Suid-Vrystaat staan. Volgens Wilken is die aangeleentheid herhaaldelik via die amptelike WhatsApp-kanaal vir die Xhariep-distrik aangemeld, maar sonder enige sigbare oplossing.
‘n Besoek aan die staatsmotorhawe deur ‘n VL-lid op ‘n Vrydagoggend om die saak aan te spreek, het aan die lig gebring dat – na ‘n soektog deur die verlate perseel – die handjievol oorblywende werktuigkundiges wat verantwoordelik is vir die diens en instandhouding van die hele vloot geelmasjinerie, reeds besig was om te braai sodat hulle vroeg kon huis toe gaan.
“Hierdie swak bestuur van ‘n staatsbate is tekenend van die skokkende toestand waarin die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer verkeer”, meen Wilken. Daar is blykbaar nie fondse om die diensverskaffer te betaal wat op die Sentrale Databasis vir Diensverskaffers geregistreer is nie. Volgens Wilken het ‘n plaaslike privaatfirma in die omgewing aangebied om die padskraper op hul laebedwa te laai en dit teen die helfte van die koste na die sentrale garage te vervoer vir herstelwerk, maar die departement wil dit nie toelaat nie.
“Wanneer ’n private onderneming bereid is om ’n praktiese oplossing teen ’n aansienlik laer koste aan te bied, maar die staat steeds nie daarin slaag om ’n oplossing te implementeer nie, moet daar ernstige vrae oor bestuur, besluitneming en verantwoordbaarheid gevra word,” sê Wilken.
Die kwessie van infrastruktuurverval en die onvermoë van die staat om basiese instandhouding volhoubaar te bestuur, was ook onlangs tydens VL se kongres onder die soeklig.
Piet le Roux van Sakeliga, wat tydens die VL-kongres oor die infrastruktuuruitdagings gepraat het, het daarop gewys dat dit toenemend ’n werklikheid geword het dat gemeenskappe en die privaat sektor nie bloot meer kan aanvaar dat die staat basiese infrastruktuurdienste doeltreffend sal lewer nie. Volgens hom is ’n gesamentlike poging nodig om diegene met bestuursverantwoordelikheid tot verantwoording te roep.
“Vrystaat Landbou het oor baie jare probeer om konstruktief met die provinsiale departement saam te werk en oplossings vir infrastruktuurprobleme te vind. Ons wil steeds saamwerk, maar samewerking kan slegs werk wanneer daar na mekaar geluister word en probleme aangespreek word,” sê Wilken.
Volgens dr Jack Armour, Kommersële bestuurder van VL, het die organisasie al telkemale ’n beroep op die staat gedoen om openbare-private vennootskappe te oorweeg as ’n praktiese oplossing vir die provinsie se infrastruktuuruitdagings. “Die enigste voorstel wat tans van die staat se kant af kom, is dat boere die werk op eie koste doen, terwyl die staat slegs toestemming verleen – en dan onder sy eie voorwaardes.”
VL se standpunt is dat indien boere noodgedwonge staatsverantwoordelikhede oorneem en padinstandhoudingswerk verrig, hulle billik en mededingend vergoed moet word vir werk wat volgens die vereiste standaarde en ingenieurspesifikasies uitgevoer word. “Die Departement verwys voortdurend na die vereistes van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies (PFMA) en BBSEB-wetgewing as struikelblokke. Terselfdertyd word tenders vir hergruising en padinstandhouding dikwels vir ’n hele distrik uitgereik. Dit maak min praktiese sin vir boere wat bereid is om te help, maar wat nie noodwendig die kapasiteit het om toerusting en werkers oor groot afstande te mobiliseer nie,” sê Armour.
“Ons lede wil primêr boere wees, nie voltydse padkontrakteurs nie. Hulle is bereid om ’n rol in hul plaaslike gemeenskap te speel waar nodig en paaie naby hul plase te help onderhou, maar hulle kan nie hul eie boerdery bedryf én as onbetaalde, deeltydse padherstelwerkers vir die staat op tree nie.”
“Die instandhouding van provinsiale paaie is nie boere se verantwoordelikheid nie. Boere kan nie voortdurend verwag word om staatsverantwoordelikhede oor te neem en dit uit hul eie sak te finansier nie” sê Wilken. VL sal voortgaan om die provinsiale regering tot verantwoording te roep oor sy verantwoordelikheid om paaie behoorlik te onderhou, begrotings vir dié doel aan te wend en te verseker dat die nodige hulpbronne en personeel beskikbaar is om dié mandaat uit te voer.
Bron: Vrystaat Landbou