Weidingsbestuur deel 1: Veldtoestande en drakrag

gras 1
As ’n kamp korrek bestuur word, is die grassamestelling ook reg en die basale bedekking goed, wat sal verseker dat die veld lei tot beter produksievermoë wat vir die boer finansiële voordele inhou. (Bron: Topveld, Facebook)
Jy boer nie met beeste of wild nie, maar met gras. Dis ook nie heeltemal waar nie, want eintlik boer jy met grond! Dit is die benadering van De Villiers (Shobie) Arnoldi, ’n veld-ekoloog van Ermelo wat op sy Facebook-blad Topveld raad gee oor weidingsbestuur.
“As bees- of wildboer boer jy eintlik met soorte gras,” vertel Shobie, wat landwyd konsultasie doen vir boere wat hul veld wil optimaliseer. Natuurlike veld in Suid-Afrika word gedefinieer as soetveld, suurveld en gemengde veld. Die onderskeiding is gebaseer op die smaaklikheid en voedingswaarde van die gras gedurende die dormante seisoen
wanneer die gras nie groei nie.
Die voedingswaarde verwys na die voedingstowwe in die plante in verskillende stadiums, terwyl die smaaklikheid berus op hoe graag vee en wild dit vreet. Die tipes veld word bepaal deur die reënval en -seisoen, gemiddelde temperature, hoogte bo seespieël en die tipe grond. Soetveld kom voor in laagliggende dele van die land met laer reënvalsyfers van tussen 250 en 500 mm per jaar en waar die winter matig en rypvry is. Weens die laer reënval was die voedingstowwe in die grond nie so maklik uit nie, die grond bly gesond en die voedingstowwe word in die blare gestoor eerder as in die wortels. Dit beteken die gras bly selfs in die winter smaaklik en ryk aan voedingstowwe.
Weens hierdie faktore gebeur dit maklik dat die veld oorbewei word, maar met goeie bestuur kan die veld optimaal benut word sonder dat dit skade ly.
Suurveld kom algemeen voor op hoër vlakke bo seespieël in kouer gebiede waar die reënval tot 625 mm per jaar is. Weens die hoër reënval, loop voedingstowwe uit die grond, wat daartoe lei dat die grond se pH verhoog en grondvrugbaarheid afneem. Gedurende die groeiseisoen is die jong plante smaaklik en redelik ryk aan voedingstowwe, maar wanneer die plant volwassenheid bereik, neem die voedsaamheid af. Dit gebeur gewoonlik in die winter omdat die plante aangepas is by die koue en ryp wat daartoe lei dat die voedingstowwe in die wortels gestoor word. Suurveld kan ook oorbewei word, maar indien dit gebeur, lei dit tot laer produksie.
Gemengde veld kom in oorgangsgebiede tussen soet- en suurveld voor waar toestande meer gemiddeld is. Gemengde veld wat oorwegend soet is, groei waar die grond se suurgehalte (pH) laer is en verskaf weiding vir tussen nege en 11 maande van die jaar. Waar gemengde veld oorwegend suur is, is die grond se suurgehalte hoër en die veld verskaf weiding vir tussen ses en agt maande van die jaar. emengde veld is minder vatbaar vir oorbeweiding omdat dit stadiger groei ná reëns en langer neem om volwassenheid te bereik.
Volhoubare bestuur van natuurlike veld en optimale vee- of wildproduksie per hektaar word grotendeels bepaal deur die tipe veld op die plaas. Boere moet die aantal vee of wild aanpas by die tipe veld. Wanbestuur lei tot hoër produksie- en insetkoste terwyl die vrugbaarheid, kalfpersentasie en aanwas laer is.

Shobie Arnoldi is ’n veld-ekoloog wat in volgende uitgawes van ProAgri Media praktiese wenke gaan gee oor hoe om veld ekologies korrek te bestuur.
Die doel is om die veld só te bestuur dat ’n volhoubare weidingstelsel geskep word wat die diere toelaat om volle produksiepotensiaal te bereik sonder dat die ekosisteem daaronder lei. Oorbeweiding en deur kampe nie af te wissel nie, kan daartoe lei dat die veld vertrap word, die grond kompakteer en gronderosie voorkom wat die gehalte en hoeveelheid van die gras in die volgende seisoen ernstig kan benadeel.
“Dit is baie belangrik om te weet watter grasspesies op jou plaas voorkom en watter gras ’n spesifieke kamp domineer,” sê Shobie. “Die toestand van die gras gee vir jou ’n aanduiding of jou veld reg bestuur word en of dit dalk oor- of onderbewei is. Die verskillende grasspesies se voeding- en weidingswaarde en die manier hoe die gras op jou bestuursplanne reageer, wys vir jou wat op jou veld aangaan.”
Toenemers en afnemers
Die benaming verwys na grasspesies wat verskillend reageer op oor- en onderbeweide veld.
•’n Afnemer is ’n dominante spesie op goeie veld wat afneem wanneer veld wanbestuur word.
•’n Toenemer I is ’n spesie wat dominant is op ’n swak veld, maar toeneem wanneer die veld onderbenut word of weidingsbestuur toegepas word.
•’n Toenemer IIa is ’n spesie wat toeneem tydens ligte oorbeweiding
•’n Toenemer IIb is ’n spesie wat toeneem tydens matige oorbeweiding
•’n Toenemer IIc is ’n spesie wat toeneem tydens swaar oorbeweiding
’n Kamp wat te veel rus, skep toestande wat daartoe lei dat sekere grasspesies toeneem (Toenemer 1). As die teenoorgestelde waar is en die veld oorbewei word, te dikwels en op die verkeerde tyd brand en weens droogte ly, word die veld oorbenut, wat daartoe lei dat ander grasspesies, genaamd Toenemer 2, dominant raak.
Nie een van die twee groepe graspesies is baie smaaklik of ryk aan voedingstowwe nie, en gevolglik neem die weidingspotensiaal van die veld af.
As daar ’n goeie balans tussen harde beweiding (nie oorbeweiding nie) en rus is, verbeter die toestande vir produktiewe, smaakliker gras om te floreer. Dié grasse staan bekend as Afnemer-spesies met goeie blaarontwikkling en hoë voedingswaarde.
As ’n kamp dus korrek bestuur word, is die grassamestelling ook korrek en die basale bedekking goed – wat sal verseker dat die veld tot beter produksievermoë van vee of wild lei, wat vir die boer finansiële voordele inhou.
Drakrag
Die sleutel is om die aantal vee wat die veld bewei in lyn te hou met die plantproduksie van die veld. Dit help nie die veegetalle is te hoog vir die plantproduksie waartoe die veld in staat is nie.
Drakrag of weidingskapasiteit word beskryf as die produktiwiteit van plantegroei om ’n aantal diere te onderhou sonder dat die plantegroei en die toestand van die grond agteruit gaan. Agteruitgang van die veld dui op die verlies aan lewenskrag en produksievermoë van die veld, verlies aan grondvrugbaarheid en stabiliteit, ontbloting en erosie.
Drakrag moet op lang termyn gebaseer wees en na aanleiding van reënval en veldtoestande aangepas word.

’n Veeboer boer nie met vee of gras nie, maar met grond, want gras en ander plante wat in ’n kamp voorkom, is ’n direkte uitvloeisel van die grondgesondheid. (Bron: Topveld, Facebook)
Reeksinhoud
Shobie gaan oor die volgende maande raad en praktiese wenke gee oor hoe om veld ekologies korrek te bestuur. Jy kan onder meer uitsien na die volgende:
Die beginsels van veldbestuur
•Waarom is veldbestuur belangrik
•Op watter beginsels berus dit
•Toenemers en afnemers
Drakrag
•Hoe word drakrag bepaal
•Hoekom is dit belangrik
•Wat is die korrekte drakrag vir verskillende veldtipes
Oor- en onderbeweiding
•Definisie
•Faktore wat bydra daartoe
•Tekens van oor- of onderbeweiding
•Wat gebeur met die veld as dit oorbewei of onderbewei word
•Wat gebeur met jou vee/wild as die veld oorbewei is
•Hoe raak dit jou bankbalans
•Hoe kan oorbeweiding reggestel word
Korrekte bestuur
•Beginsels van korrekte bestuur
•Tekens van korrekte bestuur
Kontak Shobie Arnoldi by 082-801-4114 of besoek sy Facebook-blad by https://www.facebook.com/veldmanagement
Bronverwysings
Veldtoestand en drakrag Universiteit van Pretoria
https://repository.up.ac.za/server/api/core/bitstreams/7686aef1-5062-4708-9155-ee0a184388f0/content
Bartman, S. (2023) Veld Types of South Africa MyFarm Volume 7
https://farmspace.co.za/articles/veld-types-of-south-africa/