Op die grootpad met jou viervoetkinders: Wat jy moet weet voordat jy wegtrek

dominickvietor-cat-7541324_1920
Om met jou troeteldiere op vakansie te gaan is ’n wonderlike manier om herinneringe te skep, maar dit verg goeie beplanning om te verseker dat die reis vir jou en jou diere veilig en aangenaam bly. Met die regte voorbereiding kan jy die langpad sonder enige stres aanpak.
Wat om in te pak?
Net soos wat jy jou eie tas pak, het jou troeteldier ook sy eie noodsaaklikhede nodig:
- Vat genoeg kos en water. Jy kan die kos wat jou dier gewoonlik eet saamvat, asook kos- en waterbakke.
- Indien jou troeteldier medisyne neem, is dit een van die belangrikste dinge om in te pak. Jy kan ook ’n basiese noodhulptassie saamvat, asook hul inentingsrekords.
- Om stres te verminder, kan jy dinge saamvat wat jou dier gemaklik laat voel, soos hul gunstelingkombers, bed of speelgoed sodat die bekende reuk van die huis hulle rustig hou tydens die rit.
- Skoonmaakbenodigdhede en leibande is baie belangrik. Onthou ook ’n ekstra handdoek vir die modderige pote.

Hoe gereeld om te stop
Diere, net soos mense, het die behoefte om hul bene te strek. Troeteldiereienaars word aangeraai om sowat elke twee tot drie uur by ’n veilige vulstasie of rusplek te stop sodat jou troeteldier ’n bietjie rond kan loop. Moet nooit jou troeteldier alleen in ’n geparkeerde motor los nie, selfs nie met die vensters op ’n skrefie oop nie, temperature in ’n voertuig kan binne minute lewensgevaarlik hoog styg.
Voeding op die pad
Moenie jou diere ’n groot maaltyd direk voor of tydens die rit gee nie, aangesien dit bewegingsiekte of ’n omgekrapte maag kan veroorsaak. Voer hulle eerder ’n ligte maaltyd drie tot vier uur voordat julle vertrek.
Bied gereeld klein hoeveelhede vars water tydens jul rusposes aan, maar hou die groot kosbeurt vir wanneer julle veilig by jul eindbestemming aangekom het.
Veiligheid in die voertuig
Veiligheid kom altyd eerste. Troeteldiere moet nooit los in die motor rondloop terwyl jy ry nie, aangesien dit die bestuurder kan pla of beserings tydens ’n skielike remaksie kan veroorsaak.
Gebruik ’n goedgekeurde troeteldier-veiligheidsgordel wat aan ’n harnas vasmaak, of plaas kleiner diere in ’n stewige, goed geventileerde vervoerkrat.
Hou die vensters net oop genoeg vir vars lug; moenie toelaat dat honde hul koppe heeltemal by die venster uitsteek nie, aangesien dit oog- en oorbeserings kan veroorsaak.

Hoe om hulle kalm te hou
Die gedruis van die motor en ’n verandering in roetine kan angs veroorsaak. Skep ’n rustige omgewing deur kalm musiek te speel en ’n bekende kombers in hul spasie te sit.
As jou dier baie angstig is, kan jy vooraf jou veearts raadpleeg oor natuurlike kalmeermiddels of reismedikasie.

Reëls en regulasies in die publiek
Wanneer julle by openbare rusplekke of jul bestemming stop, moet jy altyd die plaaslike reëls respekteer.
Hou jou hond ten alle tye aan ’n leiband in openbare ruimtes tensy dit ’n duidelik gemerkte, omheinde geen-leiband-area is.
Maak altyd seker dat jou troeteldier ’n halsband met ’n mikroskyfie en ’n naamplaatjie met jou huidige selfoonnommer dra.
Tel altyd jou dier se rommel op en gooi dit in die drom wat daarvoor bestem is.
Met goeie voorbereiding en genoeg geduld sal die reis saam met jou viervoetige gesinslede ’n prettige avontuur vir almal wees!