Categories: ArtikelsPublished On: 18th September 2026

KAESER: Meer as ’n eeu se kundigheid agter saamgeperste lug

By 4 min read
834 words

KAESER

Saamgeperste lug is een van daardie hulpbronne wat maklik op ’n myn of in ’n aanleg misgekyk word – totdat dit nie beskikbaar is nie. Van pneumatiese gereedskap en materiaalhantering tot ventilasie, waterbehandeling en produksieprosesse:  betroubare lugtoevoer vorm dikwels ’n onmisbare deel van die groter bedryf.

Dit is die wêreld waarin KAESER Kompressors S.A. reeds vir meer as ’n eeu werk.

ProAgri het tydens Electra Mining Africa 2026 by KAESER se indrukwekkende uitstalling gaan kuier, waar ’n verskeidenheid tegnologieë gewys het dat die onderneming vandag veel meer as bloot ’n vervaardiger van kompressors is.

Van ’n klein werkswinkel tot ’n wêreldwye spesialis

KAESER se geskiedenis het in 1919 begin toe Carl Kaeser snr. ’n masjienwerkswinkel in Coburg, Duitsland, gestig het. Die onderneming het aanvanklik onderdele vir voertuie en enjins vervaardig voordat sy eerste suierkompressor in 1948 gevolg het. ’n Belangrike deurbraak het in 1973 gekom toe KAESER sy eerste skroefkompressor met die onderneming se eie SIGMA PROFILE ontwikkel het.

Vandag bied KAESER volledige oplossings vir saamgeperste lug, vakuum en laedruklug. Die portefeulje sluit onder meer industriële en draagbare skroefkompressors, olievrye kompressors, suierkompressors, blasers, vakuumpompe, lugbehandeling, beheerstelsels en verwante toerusting in.

Die uitgangspunt bly egter dieselfde: om die nodige lug so betroubaar en energiedoeltreffend moontlik te lewer.

Die hart van die masjien

Een van die interessantste stukke toerusting wat KAESER uitgestal het, was ’n deursigtige model wat besoekers ’n blik binne die werking van ’n skroefkompressor gegee het.

Die kern van KAESER se skroefkompressors is die SIGMA PROFILE-kompressorelement. Twee presies gevormde rotors werk saam om die lug saam te pers, en volgens KAESER kan sy rotorprofiel energiebesparings van tot 15% bied in vergelyking met konvensionele rotorprofiele.

Dit is belangrik omdat die aankoopprys van ’n kompressor slegs een deel van die groter prentjie is. ’n Kompressor wat vir duisende ure loop, verbruik oor sy leeftyd beduidende hoeveelhede elektrisiteit. Doeltreffendheid speel dus ’n direkte rol in die totale bedryfskoste.

Groot genoeg vir die myn, kompak genoeg vir die werkswinkel

Die omvang van KAESER se reeks was ook duidelik by Electra Mining.

Vir mobiele toepassings bied die MOBILAIR-reeks draagbare skroefkompressors wat vir robuuste gebruik ontwikkel is. In mynbou kan draagbare saamgeperste lug onder meer gebruik word om pneumatiese toerusting aan te dryf, terwyl KAESER se tegnologie ook in toepassings soos materiaalvervoer, ventilasie, flotasie, ontwatering en waterbehandeling gebruik word.

Aan die ander kant van die skaal is daar kompakte oplossings soos die i.Comp 9, waarvan die TOWER T-weergawe by die skou te sien was. Hierdie olievrye suierkompressor kombineer die kompressor, lugontvanger en verkoelingsdroër in ’n enkele kompakte stelsel. Die i.Comp 8- en 9-reeks kan druk van tot 11 bar lewer, terwyl die veranderlike spoedbeheer die lewering volgens die werklike behoefte kan aanpas.

Dit maak die tegnologie geskik vir toepassings waar skoon, olievrye saamgeperste lug benodig word, maar waar ruimte en doeltreffendheid ewe belangrik is.

’n Volledige lugstasie in een pakket

KAESER se SM 10 AIRCENTER is ook by Electra Mining uitgestal.

Die AIRCENTER-konsep kombineer ’n skroefkompressor, lugontvanger en verkoelingsdroër in een gereed-vir-gebruik pakket. Dit verminder die hoeveelheid afsonderlike toerusting wat geïnstalleer moet word en bied ’n kompakte oplossing vir ondernemings wat ’n volledige saamgeperste-lugstasie benodig.

Hier speel slim beheer ook ’n toenemend belangrike rol. KAESER se SIGMA CONTROL 2 monitor en beheer die kompressor outomaties en bied netwerk- en kommunikasievermoë waarmee bedryfsdata gebruik kan word om die stelsel beter te bestuur.

Dié ontwikkeling weerspieël ’n groter verandering in die bedryf: ’n moderne kompressor moet nie slegs lug lewer nie; die gebruiker wil ook weet hoe doeltreffend die stelsel werk, hoeveel energie dit gebruik en wanneer aandag daaraan geskenk moet word.

’n Kykie binne die KAESER SM 10, waar die komponente van die roterende skroefkompressorstelsel netjies en toeganklik saamgebring word vir betroubare werking en maklike instandhouding.

Wanneer elke uur se produksie tel

Vir die mynsektor is betroubaarheid van besondere belang. KAESER se saamgeperste-lug- en blaserstelsels word wêreldwyd in mynprosesse gebruik, van pneumatiese gereedskap en materiaalvervoer tot flotasie, smelting, raffinering, ontwatering en filterterugspoeling.

Maar dieselfde tegnologie strek veel verder as mynbou. Saamgeperste lug word ook in vervaardiging, werkswinkels, voedselverwerking, waterbehandeling en talle ander industriële prosesse gebruik.

KAESER se uitstalling by Electra Mining Africa het daarom ’n goeie blik gegee op hoe wyd die wêreld van saamgeperste lug werklik strek, van ’n mobiele kompressor wat saam na die werksterrein beweeg tot ’n intelligente lugstasie wat deel vorm van ’n veel groter produksieproses.

Ná meer as 100 jaar het die tegnologie aansienlik verander, maar die behoefte bly dieselfde: betroubare lug, op die regte plek, teen die regte druk en met so min vermorsing as moontlik.

Laat die regte lugoplossing vir jou werk

Of jou toepassing ’n mobiele kompressor vir moeilike terrein, ’n kompakte werkswinkeloplossing of ’n volledige industriële saamgeperste-lugstelsel vereis, KAESER bied toerusting en stelselkennis vir ’n wye verskeidenheid bedryfsbehoeftes.

Besoek https://www.kaeser.com/za-en om die volledige reeks te besigtig of met die plaaslike span oor jou saamgeperste-lugbehoeftes te gesels.

’n Deursneemodel wys die werking van KAESER se SIGMA PROFILE®-skroefkompressortegnologie – die kern van die onderneming se doeltreffende saamgeperste-lugstelsels.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0