Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 7th July 2025

Val Boeredag vier sy 30ste bestaansjaar met reuse sukses

By 3 min read
507 words

IMG_4598

In 1995 het die Waterval Boerevereniging vir die eerste keer die Val Boeredag aangebied by Val, die geskiedkundige gehuggie halfpad tussen Balfour en Standerton. Tydens hierdie eerste boeredag was daar agt uitstallers en omtrent 30 besoekers. Vanjaar, 30 jaar later, het die aarde behoorlik gedreun op dieselfde terrein met 252 uitstallers en ’n geskatte 6 000 besoekers wat kom kyk het na die grootste, blinkste en beste trekkers en toerusting in die landboumark.

Die program het vermaak vir die hele gesin ingesluit, met gaskunstenaars soos Robbie Wessels en Ricus Nel wat op die verhoog verskyn het. Heerlike geure van koffie en smullekker disse het die lug gevul en besoekers gehelp om die koue te trotseer. Die hooffokus van die dag was egter steeds die demonstrasies van die nuutste en beste landboutoerusting wat tans aan boere beskikbaar is. Maak nie saak op watter skaal of met watter gewasse jy boer nie daar was iets vir almal.

Case IH het ’n verskeidenheid toerusting gedemonstreer. Die massiewe CASE IH Quadtrac 715 het sy krag gewys toe hy met gemak die Case Ecolo-Tiger 875‑dis sleep. ’n Kombinasie van brute krag en diep grondbewerking vir maksimum doeltreffendheid.

Die CASE IH 3250 selfaangedrewe spuit het ook op Val Boeredag beïndruk met sy krag, presisie en werkverrigting. Dis gebou vir ernstige spuitwerk op ernstige plase.

Smith Power het twee Deutz-Fahr-modelle gedemonstreer:

Die Deutz-Fahr Agrotron 9340 TTV Warrior in aksie met die swaardiens Buffalo XT-5000-i skeurploeg.

Die Deutz-Fahr Agrotron 6205.6 RC-shift met ’n robuuste Orbach skeurploeg, wat net so indrukwekkend sy merk gemaak het.

Smith Power het ook die Kubota M135GX saam met die Agromast BT30 hoëspoeddis vertoon. ’n Ware werkesel wat wys hoe doeltreffend en kragtig hierdie kombinasie op die land is.

John Deere het die veld groen gekleur met verskeie modelle wat ten toon gestel is. Veral die nuwe John Deere 9RX 830, die grootste massageproduseerde trekker ter wêreld, het beïndruk toe dit ’n spesiaal geboude Rovic 27‑tand-dis met gemak gesleep het. Krag, presisie en skaal, alles op sy plek in aksie op die veld.

New Holland het ook gewys wat in hulle stal steek. Die New Holland T8.410 het groot indruk gemaak toe hy ’n Amazone-grondbewerker met gemak hanteer het.

’n Interessante en nuwe toevoeging tot die dag se demonstrasies was die hommeltuig-afdeling, waar twee maatskappye gewys het hoe hierdie tegnologie boere help om bemesting toe te dien wanneer die landerye te nat is vir gewone trekkers en spuite.

Saam met die nuutste tegnologie was daar ook ’n terugblik en ’n tikkie nostalgie met ’n demonstrasie van veteraan‑trekkers en ploeë, wat die skare herinner het aan waarmee die hedendaagse landboubedryf in sy vroeë jare gebou is.

Met sy 30ste bestaansjaar agter die rug het Val Boeredag weereens bewys waarom dit as een van die belangrikste landbougeleenthede op die Suid-Afrikaanse kalender beskou word. Hierdie dag bring jaar na jaar boere, verskaffers, kundiges en gesinne bymekaar om die nuutste tegnologie, goeie geselskap en gedeelde kennis te beleef. Soos die trekkers en toerusting aanhou ontwikkel, bly Val Boeredag ’n toonbeeld van vooruitgang én tradisie. Sien julle by Val Boeredag 2026.

3

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

3