gewasproduksie
Droogtebestuur deel 1: Red jou veld – ruigteveld
Die lekkerste lekker vir ՚n boer is om te sien hoe sy diere aan geil, gesonde weiding smul. Maar niks maak so seer as om diere te sien honger ly nie. Weidingsbestuur tydens en veral na ՚n droogte soos wat tans wydverspreid voorkom kan jou veld help om uiteindelik te herstel. En dit kan jou boerdery maak of breek. Die sukses van vee- en wildboerdery berus op die veld se drakrag wat nie net moet voldoen aan die boer se geldelike verwagtings nie, maar ook aan die ekologiese vereistes van natuurlike weiding.
Dit beteken dat die boer realisties moet wees oor hoeveel vee of wild hy op die plaas kan aanhou sonder om die veld te vernietig. Dit geld veral in droogtetye, en met die veranderende klimaatspatrone weens aardverwarming, is droogte, net soos vloede, amper ՚n gegewe. Februarie vanjaar was die droogste in 40 jaar in Suid-Afrika en die hoë temperatuur het ՚n vernietigende uitwerking op natuurlike veld.
Boere moet alles in hulle vermoë doen om die veld te beskerm.
Ken Coetzee van Conservation Management Services in George in die Suid-Kaap verduidelik in sy boek Caring for Natural Rangelands (2023) hoe boere die uitwerking van droogte in drie soorte veld kan versag sodat die plantegroei die droogte kan oorleef.
In hierdie kort reeks verskaf Ken riglyne vir die bestuur van natuurlike weiding in droë en half droë gebiede soos die subtropiese ruigteveld van die Oos-Kaap, waar spekboom (Portulacaria afra) ՚n kernrol speel; die Nama-Karoo wat gekenmerk word deur struikveld; en die grasveldbioom wat wyd voorkom.
“Die riglyne sal nie oral ewe maklik toegepas kan word nie en weens geldelike oorwegings dalk glad nie moontlik wees nie. Maar die riglyne kan help om te voorkom dat die droogte veld totaal verwoes sodat die boer na die droogte sy boerdery kan voortsit,” sê Ken.

‘n Koedoe in die subtropiese ruigteveld van die Oos-Kaap. Die veld bied goeie weiding vir wild en vee, maar moet goed bestuur word tydens en na ՚n droogte. (Bron: Pixabay)
Subtropiese ruigteveld
Die subtropiese ruigteveld van die Oos-Kaap is baie belangrik vir vee- en wildboerdery. Die droogte van 2016 tot 2019 het katastrofiese gevolge vir Oos-Kaapse boere gehad, want toe die veld nie meer die vee en wild kon onderhou nie, moes hulle duur voer aankoop.
Die ruigteveld word gereeld onderwerp aan droogtes want die reënval is laag en onvoorspelbaar. “Deesdae is daar ՚n 25% kans dat die gebied minder as 80% van die normale jaarlikse reënval ontvang wat, gepaardgaande met uitermate hoë temperatuur, lei tot uiterste droogtetoestande,” sê Ken. Die uiterste droë toestande kan veroorsaak dat plante soveel blare verloor dat dit permanent beskadig word.
Om te voorkom dat dit gebeur moet die plantegroei gedurende die droogte, maar veral ook nadat die droogte gebreek is, uiters omsigtig bestuur word om hergroei te verseker.

Spekboom is ՚n belangrike voedselbron, maar dit moet teen oorbenutting beskerm word.
Struikkomponent
Die struikkomponent van die ruigteveld vorm die basis waaruit die veld moet herontwikkel, maar as dit deur oorbeweiding beskadig is, gaan dit nooit weer volkome herstel nie.
Weens die wisselvallige reënval kan daar nie staatgemaak word op die struik- en graskomponent van ruigteveld as bron van voeding vir plantvreters nie. Om dit te beskerm moet dit oordeelkundig of verkieslik glad nie gedurende ՚n kwaai droogte benut word nie, want selfs goeie reëns sal dit nie kan red nie.
Wanneer diere toegelaat word om die veld te swaar te bewei, stroop hulle die blare, takkies en stamme van die struike kaal. Afhangend van die seisoen en watter plante swaar bewei is, herstel die plante nie eenvormig nie. Dit is ook nie moontlik om te voorspel hoe lank dit gaan duur voor die plante wat hulle blare verloor het herstel nie. Weens herhaalde oorbeweiding kan die plant dalk glad nie herstel nie en dan is die boer die voedingsbron kwyt.
Spekboom is ՚n sleutelplant van ruigteveld en moet beskerm word as ՚n belangrike voedselbron vir vee en wild. As die takke en blare voortdurend stomp afgevreet word verloor die boom die vermoë om laaghangende takke te laat wortel skiet waar dit aan die grond raak. Die takke vorm ՚n gordyn wat help om ՚n mikroklimaat onder die boom te skep wat nodig is vir gesonde groei.
Verskeie doringagtige maar eetbare struike soos wolwedoring (Gymnosporia buxifolia), byangelbos of groendoring (Azima tetracantha), soetdoring (Vachellia karroo), kriedoring (Lycium oxycarpum) en doringtaaibos (Searsia longispina) kom ook in die ruigtes voor. Die plante help om oorbeweiding van ander eetbare plante te voorkom.
Die laag plantmateriaal op die grond onder die spekboom en ander struike is noodsaaklik vir gesonde veld. In die afwesigheid daarvan daal die voginhoud, die grondtemperatuur styg en as dit dan reën verspoel die grond. Die grond verarm en die ruigte word al droër en yler en oper.
Groot stukke ruigteveld is nodig om nuwe groei te beskerm en dit is belangrik dat hulle ook nie oorbewei word nie. Die ooptes gee die vee toegang tot weiding en help die plante om te groei, maar te veel oop ruimtes lei tot minder veld en minder voëls en ander diere wat kan help met saadverspreiding en ontkieming.
As die plantegroei te yl raak, sal nuwe plante te blootgestel wees aan die elemente om te oorleef en te herstel. Volgens Ken is die diere se kondisie nie ՚n maatstaf vir oorbeweiding nie, want teen die tyd dat hulle merkbaar agteruitgaan is die ruigteveld gewoonlik al so verniel dat karoobossies dit inneem.
Verseker dat die ruigteveld oorleef deur:
- ongefragmenteerde ruigtes te behou;
- te verseker daar is ՚n onversteurde laag blare en ander organiese materiaal onder die struike;
- noodsaaklike plante wat beskerming aan nuwe plante bied te behou;
- konserwatiewe weiding gedurende en na ՚n droogte.

Spekboom in blom. (Bron: Ken Coetzee)
Bestuurswenke
Monitering
Moniteer reënval en verminder die aantal vee/wild ooreenkomstig as ՚n tydige maatreël wanneer die veld al droër raak ten einde ՚n ramp te voorkom. Maak veral seker die spekbome se takke en die gebied onder die boom is onversteurd. Oorbeweiding en hoefaksie kan die blaremat vernietig en minder blare en takke aan die struike lei tot minder blare op die grond.
Moniteer die weidingsdruk oral in die kampe en let op hoeveel blare aan die vreetbare plante is. Verwyder diere wat die plante teiken.
Let op watter jong plante in die ruigte besig is om terug te sterf, want dit kan ՚n teken van oorbeweiding wees. Maak seker die oop ruimtes word nie groter nie. Kap penne in as merkers en neem foto’s met ՚n datum op vanaf dieselfde plek sodat dit later vergelyk kan word.
Weidingsrotasie
Moenie meer as 50% vir die drakrag vir grasvreters (beeste) en gemengde vreters (skape), en 50% van die drakrag vir blaarvreters (bokke) oorskry nie.
Roteer die weiding volgens hierdie drakrag. As die plante swaar bewei is, moet dit vir ՚n lang rustydperk toegelaat word om te herstel sodat die blare, takke en gras wat opgevreet is weer kan groei.
՚n Behoorlike rustyd sal ook die plante toelaat om te blom en saad te skiet, wat weer kan uitloop en nuwe plante word.
Hou noukeurig boek van die weidingsrotasie in die kampe sodat dit in die toekoms vergelyk en aangepas kan word indien nodig.
Hoe gemaak as die ruigte heeltemal vernietig is?
Wanneer die plantegroei heeltemal opgevreet, onherstelbaar beskadig en die ruigteveld met dwergstruikveld vervang
is, kan jy die volgende oorweeg:
Omhein enige oorblywende ruigteveld om te voorkom dat dit verder bewei en beskadig word en restoureer die veld met pionierspesies.
Bestuur die plantbedekking op so ՚n manier dat dit die digste bedekking moontlik kan vorm. Hoe digter die plantbedekking, hoe minder gronderosie sal plaasvind en dit sal gunstige toestande skep vir nuwe plante om te groei.
Pas aktiewe gronderosiebeheer toe waar die verlies aan ruigteveld tot versnelde gronderosie gelei het.
Caring for Natural Rangelands (bygewerkte tweede uitgawe 2023 is ՚n praktiese gids vir die bewaring van natuurlike veld). Dit word uitgegee deur New Voices Publishing en is beskikbaar by Ken Coetzee by +27-76-227-5056 of consken@mweb.co.za.
Grasse van Suid-Afrika deel 6: Onvertakte bloeiwyses
Koperdraadgras (Elionurus muticus)
Hierdie gras groei in suur grasvelde, sanderige en klipperige grond, en in die bosveld. Dit is ՚n baie onsmaaklike, bitter gras. Alhoewel dit onsmaaklik is, is dit een van die eerste grasse wat in die lente begin uitloop, en daarom word dit soms benut as daar nie ander weiding beskikbaar is nie. Waar daar in die verlede oorbeweiding was, groei hierdie gras baie sterk. Dit bevat belangrike olies wat voordelig vir mense kan wees, soos kamfeen.
Hoe ken ek dit uit?
- Digte, meerjarige polgras
- Blare is aan die basis van die plant
- Blaarskyf is harig aan die basis
- Blare is koperbruin

Bron: Marinda Koekemoer (Koperdraadgras)
Borseltjiegras (Anthephora pubescens)
Hierdie gras kom meestal voor in onversteurde grasvelde met verkieslik leem- of kleigrond. Dit is ՚n baie smaaklike en belangrike gras vir weiding. Gewoonlik dien dit ook as ՚n aanduiding van goeie veldtoestande. Boere moet waaksaam wees dat die gras nie oorbewei word nie,
juis aangesien dit so smaaklik is.
Hoe ken ek dit uit?
- Meerjarige polgras
- Blougroen blare
- Droë blare is gekrul

Bron: SA Grain (Borseltjiegras)
Kousklits (Tragus berteronianus)
Kousklits groei goed in daardie gebiede waar ՚n mens dit juis nie sou verwag nie, soos kaal kolle in die veld en in harde, gekompakteerde grond. Omdat die blaarproduksie van die plant so laag is, is dit ook nie ՚n goeie weidingsgras nie. Dit is ՚n uiters geharde gras en groei daar waar ander spesies nie kan oorleef nie. Waar hierdie gras groei, is dit gewoonlik ՚n aanduiding van veldagteruitgang.
Hoe ken ek dit uit?
- Eenjarige polgras
- Blompakkies het weerhakies
- Knope is pers

Bron: CABI Digital Library (Kousklits)
Katstertgras (Perotis patens)
Katstertgras groei in versteurde plekke, soos droë en oop kolle en in ou boorde. Jy sal dit soms teen klipperige hellings aantref. Dit is nie ՚n goeie weigras nie omdat die blaarproduksie laag is. Dit is ՚n pioniergras en word soms as ՚n onkruid beskou.
Hoe ken ek dit uit?
- Polgras
- Min blare
- Klein blompakkies
- Droë blare is gekrul

Bron: Richard Wadley (Katstertgras)
Pronkgras (Pennisetum setaceum)
Hierdie gras word in Suid-Afrika as ՚n onkruid beskou. Dit kom in versteurde en klipperige gebiede voor, soms ook op mynhope. Pronkgras is ՚n baie aantreklike gras wat soms as versiering gebruik word. Alhoewel dit ՚n mooi gras is, is dit ՚n indringer en daarom is dit onwettig om dit aan te plant. Dit bevat ook geen waarde vir weiding nie.
Hoe ken ek dit uit?
- Meerjarige polgras
- Blompakkies is pers
- Blare is skurf en draadvormig

Pronkgras
Bloubuffelsgras (Cenchrus ciliaris)
Jy sal hierdie gras aantref in droë, warm dele, en verkieslik in sandleem- en leemgrond. Bloubuffelsgras het hoë blaarproduksie en is baie smaaklik, daarom is dit ՚n goeie weidingsgras. Die smaaklikheid neem egter af hoe ouer die plant word. Dit is goeie gras om hooi van te maak.
Hoe ken ek dit uit?
- Meerjarige polgras
- Bloeiwyse is pers
- Halms is vertak

Bron: SANBI (Bloubuffelgras)
Gouemannagras (Setaria sphacelata var. sericea)
Bergagtige grasvelde, hoëreënvalbosveld en tropiese gebiede, dít is waar jy hierdie gras sal aantref. Dit is baie lief vir klam gebiede en klam grond. Hierdie smaaklike gras het ՚n hoë blaarproduksie, daarom word dit aangeplant as weiding in Suid-Afrika. Dit kan baie maklik van die saad af gekweek word en is ook bestand teen vloede.
Hoe ken ek dit uit?
- Meerjarige polgras
- Borselhare is geel, oranje en bruin
- Haarlose knope

Bron: Richard Wadley (Gouemannagras)
Gewone mannagras (Setaria sphacelata var. sphacelata)
Hierdie gras kom voor in oop grasvelde en sanderige bosveld. Dit verkies sanderige grond wat goed gedreineer is. Dit word soms aangeplant vir weiding of hooi, maar is ook baie goed in tuine om voëls te lok.
Hoe ken ek dit uit?
- Digte polgras
- Kort bloeiwyses
- Risome is kort en kompak

Bron: Michael Hickman (Gewone mannagras)
Kruipmannagras (Setaria sphacelata var. torta)
Kruipmannagras groei in oop grasvelde en sanderige bosveld. Dit groei gereeld in grond wat voorheen versteur was. Hierdie smaaklike gras word baie goed bewei, alhoewel dit ՚n lae blaarproduksie het.
Hoe ken ek dit uit?
- Droë blare krul
- Meerjarige kruipgras
- Blaarskedes is sterk afgeplat

Bron: Chris Whitehouse (Kruipmannagras)
Tuinmannagras (Setaria pumila)
Daar waar baie water versamel in die reënseisoen en in versteurde grond, dit is waar jy hierdie gras sal teëkom. Dit is maklike gras wat in byna enige grondsoort groei. Hierdie gras is smaaklik, maar is beperk in blaarproduksie. Die nadeel is dat dit in die somer ՚n onkruid is wat baie moeilik beheer word. In Lesotho word die halms saamgedraai om toue te maak.
Hoe ken ek dit uit?
- Eenjarige polgras
- Onderste lemma is geplooi
- Blaarskede is saamgedruk en haarloos

Bron: Gelisensieer deur Google (Tuinmannagras)
Vleimannagras (Setaria incrassata)
Vleimannagras groei in swart kleigrond. Dit is lief vir klam plekke, soos vleie en rivieroewers. Dit word gebruik vir weiding, maar ook vir erosiebeheer. Hierdie gras is sterk en gehard teen droogte en versuiptoestande.
Hoe ken ek dit uit?
- Meerjarige polgras
- Knope is harig
- Onderste deel van halms is pienk

Bron: Steenbok Nature Reserve (Vleimannagras)
Thunberg-se-pennisetum (Pennisetum thunbergii)
Hierdie gras groei in hoogliggende, klam dele. Dit hou van gebiede met hoë reënval. Dit is te hard en skurf om te dien as ՚n weidingsgras.
Hoe ken ek dit uit?
- Digte polgras
- Blaarpunte is lank en draadvormig
- Blaarskede is afgeplat

Bron: de Aardigheyt (Thunberg-se-pennisetum)
Vingerhoedgras (Fingerhuthia africana)
Jy sal die gras vind in klipperige grond en geërodeerde plekke. Dit is lief vir sonnige gebiede, maar kom selde algemeen in die veld voor. Hierdie gras word partykeer gebruik om besems van te maak.
Hoe ken ek dit uit?
- Onvertakte halms
- Blompakkies is afgeplat
- Bloeiwyses lyk soos ՚n vingerhoed

Bron: African Plants (Vingerhoedgras)
Beddinggras (Pennisetum macrourum)
Beddinggras groei langs riviere, strome en op plekke wat tydelik nat is. Dit is nie goeie weiding nie, want dit is grof en hard. Hierdie gras is belangrik vir die rol wat dit speel om rivieroewers teen verspoeling te beskerm.
Hoe ken ek dit uit?
- Digte polgras
- Blaarskyf is skurf
- Blaarpunte is gerol

Bron: Beth Chatto’s plants and gardens (Bulgras)
Bulgras (Pennisetum sphacelatum)
Bulgras groei in hoogliggende dele waar dit nat is. Dit is lief vir kleigrond, maar sal in ander grondsoorte groei as dit nat is. Hierdie gras het ՚n hoë blaarproduksie, maar is onsmaaklik. Vroeg in die seisoen word dit goed bewei, maar weiding neem af namate die seisoen vorder. Dit is ook ՚n belangrike gras om die grond naby dreineringsgebiede te stabiliseer.

Bulgras
ProAgri sê dankie vir Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ՚n handleiding vir die reeks. Frits is ՚n weidingskonsultant en kan gekontak word by (+27)78-228-0008 of frits@alut.co.za.
Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria, of aanlyn via marketing@briza.co.za.
Groentetuine vir beginners deel 12: Oes en verwerking van groente
Die belangrikste voordeel van ՚n groentetuin is die gesonde groente wat jy oes. Jy weet immers dat die grond gesond is sonder enige chemiese voedingstowwe en plaagdoders. Maar wanneer is die regte tyd om te oes? Groente smaak die beste wanneer dit toegelaat word om aan die plant ryp te word.
Moenie wag dat die groente groter word nie, pluk dit sodra dit ryp is. Die inligting op die saadpakkie sal ՚n aanduiding gee van wanneer die groente oesgereed is. Dit hang egter af van talle faktore wat die groei beïnvloed, naamlik die voedingstowwe in die grond, die klimaat, hoe warm en nat die seisoen was, en die tyd van die jaar.
Wanneer is groente gereed om geoes te word?
Aartappelfamilie
Die aartappelfamilie sluit aartappels, soet- en brandrissies, tamaties, eiervrug en patats in. Kies ՚n droë dag om aartappels waarvan die loof teruggesterf het, uit die grond te lig. Laat ՚n paar uur staan voor jy dit bêre sodat die skil kan hard word, maar moenie dit oornag buite los nie. Bêre in dig verseëlde papiersakke in ՚n koel plek. Dit kan in gebiede met ՚n matige klimaat ook in die grond gelos word, of in ՚n voor uitgevoer met ՚n laag strooi (10 cm dik) en met ՚n dun lagie grond bedek.
Patats kan vanaf laatsomer wanneer die loof vergeel het geoes word. Patats wat ՚n melkerige sap afskei as jy ՚n gaatjie daarin maak is nog nie gereed om geoes te word nie. Lig die knolle uit en laat hulle ՚n paar dae lank in die son droog word. Bewaar in klam sand in ՚n koel plek met goeie ventilasie. Eiervrug moet geoes word wanneer die skil nog glansend, die vleis ferm en die saadjies nog klein en sag is. Knip die stingel met ՚n skêr of snoeiskêr af en gebruik vars. Geblansjeerde eiervrug kan in enkel skywe gevries en verpak word.
Pluk tamaties wanneer dit heeltemal aan die plant verkleur het en nog ferm is. Tamaties kan gevries, gedroog of ingemaak word, of jy kan sous, konfyt of blatjang daarvan maak. Vries die tamaties individueel sommer met skil en al; die skil kom af wanneer jy dit onder lopende kraanwater hou. Om te droog halveer jy ferm ryp tamaties en krap die pitjies uit en hou eenkant. Pak die tamaties op ՚n draadrak wat met olie bestryk is. Sit die rak op ՚n oondpan en bak sowat twee uur lank teen 100 °C. Jy kan die gedroogde helftes in ՚n fles met geskilde knoffel, peperkorrels en vars kruie pak en tot 2 cm bo die tamaties met olyf- of sonneblomolie vul. Bêre dit op ՚n koel donker plek.

Oes tamaties wat aan die plant ryp geword het. (Bron: Pixabay)
Beetfamilie
Die beetfamilie sluit beet, spinasiebeet en spinasie in. Oes die beet sowat nege weke nadat dit gesaai is, maar omdat daar verskeie variëteite is, is dit beter om op die saadpakkie te kyk wanneer dit oesgereed behoort te wees. Kook beet tot sag, dompel in koue water en vryf skilletjies af. Vries klein beetjies heel of sny groteres in skyfies of blokkies, pak in lugdigte vrieshouers en bevries tot nege maande lank.
Maak blatjang, konfyt of piekel dit so: Kook 500 ml water, 250 ml bruinasyn en 200 g witsuiker vyf minute lank saam. Voeg beetskywe of blokkies by en kook tien minute met die deksel op. Pak in inmaakflesse en vul met die kokende asynmengsel, verseël en bêre. Pluk gereeld die buitenste blare van spinasiebeet en los die binnestes om verder te groei. Eet die spinasiebeet vars in slaai of roerbraai. Dit vries nie goed nie, so eet dit maar op. Oes spinasieblare aan die buitekant van die plant terwyl dit jonk en sag is en los die moederplant om verder te groei. Blansjeer spinasie, plaas in ՚n sif en druk al die water uit en bevries.
Boontjiefamilie
Die boontjiefamilie bestaan uit stoel en rankboontjies, boerbone en ertjies. Oes jong, sagte groenbone gereeld vir ՚n deurlopende oes. Vars, gesnipperde boontjies kan twee tot drie minute lank geblansjeer word voor dit bevries word. Ingemaakte kerrie- of mosterdboontjies is heerlike slaai.
Bêre droëbone in die yskas om te voorkom dat dit miet kry. Bring droëbone tot kookpunt en kook vir 10 minute, skakel die hitte af en laat week vir ՚n uur voordat jy dit dreineer en met vars water verder kook. Geur eers met sout of suiker wanneer die bone gaar is anders kook dit nie sag nie. Ertjies moet geoes word terwyl die peule klein en sag, maar goed gevul is as jy die ertjies uitdop. Wanneer jy die ertjies peule en al wil gaarmaak, moet die peule nog net half gevul wees.

Kool vries nie goed nie en dit is beter om dit rou te eet, gaar te stoom of in ՚n roerbraai te gebruik. (Bron: Pixabay)
Kopkoolfamilie
Kopkool, blomkool, brokkoli, Brusselse spruite en radyse behoort aan die Brassica-familie. Sny lente- en somerkopkool wanneer die koppe ferm en hard is, maar ՚n jonger, kleiner of mediumgroot kopkool het ՚n soeter geur. Vars kopkool is die lekkerste. Dit vries nie goed nie. Net soos Asiatiese blaargroente, is dit beter om kool eerder rou te eet, te stoom of in roerbraai te gebruik. Brokkoli word geoes wanneer die hofies gevorm is en die blomme steeds in die knop is. Dit vorm spruite wat deurlopend geoes kan word. Brusselse spruite is sowat vyf maande na dit geplant is oesgereed. Pluk die laagste spruite eerste. Blomkool word geoes wanneer die koppe stewig en styfgepak is.
Kop- en rooikool, blomkool- en brokkoliblommetjies en Brusselse spruite moet gewas en ՚n minuut lank geblansjeer word voordat dit lugdig verpak en gevries word.
Pampoenfamilie
Die familie bestaan onder meer uit pampoene, skorsies, murgpampoentjies en komkommers. Oes komkommers wanneer dit jonk en klein is. Hoe meer jy oes, hoe meer dra die plant. Pampoene word geoes wanneer dit maklik van die rank afgebreek kan word, terwyl skorsies geoes kan word wanneer hulle klein tot medium groot is.
Murgpampoentjies (zucchini en patty pans) word geoes terwyl hulle jonk en sag is. Hulle kan heel of opgesny en geblansjeer word en tot drie maande gevries word. Pampoene het ՚n lang raklewe en veral erfenisvariëteite hou maande lank. Sny geel pampoen in blokkies en vries tot drie maande; blansjeer wit pampoen wat in blokkies gesny is drie minute en laat afkoel voor dit bevries word.
Sonneblomfamilie
Blaarslaai, artisjokke en Jerusalemartisjokke behoort tot die familie. Moderne blaarslaai word gekweek om deurlopend geoes te word. Breek die buitenste blare af en gebruik dit terwyl die plant aanhou groei. Artisjokke is die eetbare blom van ՚n dissel. Net die skubbe van die onvolwasse blomknop word geëet. Sny die blomknoppe saam met ՚n stuk singel van 5 cm af terwyl die skubbe nog dig toe is. Sodra die eindknop geoes is, sal nuwe knoppe aan laer sylote ontwikkel wat ook geoes kan word. Artisjokharte kan rou in slaai geëet of in olie ingemaak word.

Uie is gereed om te oes wanneer die blare vergeel en omval. Lig die uie uit die grond en laat droog word voordat jy dit in bossies ophang. (Bron: Pixabay)
Uifamilie
Uie, knoffel en preie behoort tot die familie. Oes uie en salotte wanneer die lowwe vergeel en begin omval. Maak seker dit is droog wanneer jy dit oes. Hang in stringe op, bewaar in nette of op rakke. Dit kan ook gepiekel of gevries word. Preie moet met ՚n handgrafie uitgelig word wanneer die stingels sowat 3 cm dik is. Dit kan in goedgedreineerde grond oorwinter, en die wit gedeelte vries ook goed. Knoffel word geoes wanneer die blaarstele vergeel en verdroog. Maak die bolle ՚n week lank in die son droog voor jy dit op ՚n droë plek bewaar. Vleg of knoop heel knoffelbolle aanmekaar vas en hang dit op, of bewaar dit los van mekaar op ՚n rak.
Wortelfamilie
Wortels kan sowat 10 weke nadat dit gesaai is geoes word. Oes die wortels jonk en draai die loof af om te keer dat dit vog uit die wortel onttrek. Wortels in repies of blokkies gesny vries goed. Oes net die buitenste stingels van seldery en laat die res toe om verder te groei. Vars seldery in foelie toegedraai hou lank in die yskas. Pietersielie kan gewas en opgekap word voordat dit in ysbakkies geplaas word wat met water opgevul word. Vries en gebruik die blokkies soos benodig in geregte.
Mielies
Ander groente, soos suikermielies, word geoes wanneer die kop se hare bruin is. Trek die mielieblare ՚n bietjie terug en druk op die pitte. As dit ՚n melkerige vloeistof afskei is dit gereed om geoes te word. Sny die pitte van die stronk af en vries.
Bronverwysings
Anthony, D. (2014) Enigeen kan groente kweek. Metz Press ISBN 978-1-928201-12-0
Boeckmann, C. (2023) Harvesting Guideline for the Home Gardener https://www.almanac.com/whenharvest-vegetables-and-fruit-bestflavor
Iannotti, M. (2020) When and How to Harvest Garden Vegetables How do you know when it’s time to pick? https://www.thespruce.com/when-to-harvest-vegetables-1403402
Tanner, C, (2020) Harvesting Vegetables. Home and Garden Information Centre https://hgic.clemson.edu/factsheet/harvesting-vegetables/