Categories: Artikels, Gewasproduksie, SA293-GewasproduksiePublished On: 19th June 2024

Groentetuine vir beginners deel 12: Oes en verwerking van groente

By 8 min read
1513 words

oes 6

Die belangrikste voordeel van ՚n groentetuin is die gesonde groente wat jy oes. Jy weet immers dat die grond gesond is sonder enige chemiese voedingstowwe en plaagdoders. Maar wanneer is die regte tyd om te oes? Groente smaak die beste wanneer dit toegelaat word om aan die plant ryp te word.

Moenie wag dat die groente groter word nie, pluk dit sodra dit ryp is. Die inligting op die saadpakkie sal ՚n aanduiding gee van wanneer die groente oesgereed is. Dit hang egter af van talle faktore wat die groei beïnvloed, naamlik die voedingstowwe in die grond, die klimaat, hoe warm en nat die seisoen was, en die tyd van die jaar.

Wanneer is groente gereed om geoes te word?

Aartappelfamilie

Die aartappelfamilie sluit aartappels, soet- en brandrissies, tamaties, eiervrug en patats in. Kies ՚n droë dag om aartappels waarvan die loof teruggesterf het, uit die grond te lig. Laat ՚n paar uur staan voor jy dit bêre sodat die skil kan hard word, maar moenie dit oornag buite los nie. Bêre in dig verseëlde papiersakke in ՚n koel plek. Dit kan in gebiede met ՚n matige klimaat ook in die grond gelos word, of in ՚n voor uitgevoer met ՚n laag strooi (10 cm dik) en met ՚n dun lagie grond bedek.

Patats kan vanaf laatsomer wanneer die loof vergeel het geoes word. Patats wat ՚n melkerige sap afskei as jy ՚n gaatjie daarin maak is nog nie gereed om geoes te word nie. Lig die knolle uit en laat hulle ՚n paar dae lank in die son droog word. Bewaar in klam sand in ՚n koel plek met goeie ventilasie. Eiervrug moet geoes word wanneer die skil nog glansend, die vleis ferm en die saadjies nog klein en sag is. Knip die stingel met ՚n skêr of snoeiskêr af en gebruik vars. Geblansjeerde eiervrug kan in enkel skywe gevries en verpak word.

Pluk tamaties wanneer dit heeltemal aan die plant verkleur het en nog ferm is. Tamaties kan gevries, gedroog of ingemaak word, of jy kan sous, konfyt of blatjang daarvan maak. Vries die tamaties individueel sommer met skil en al; die skil kom af wanneer jy dit onder lopende kraanwater hou. Om te droog halveer jy ferm ryp tamaties en krap die pitjies uit en hou eenkant. Pak die tamaties op ՚n draadrak wat met olie bestryk is. Sit die rak op ՚n oondpan en bak sowat twee uur lank teen 100 °C. Jy kan die gedroogde helftes in ՚n fles met geskilde knoffel, peperkorrels en vars kruie pak en tot 2 cm bo die tamaties met olyf- of sonneblomolie vul. Bêre dit op ՚n koel donker plek.

Oes tamaties wat aan die plant ryp geword het. (Bron: Pixabay)

Beetfamilie

Die beetfamilie sluit beet, spinasiebeet en spinasie in. Oes die beet sowat nege weke nadat dit gesaai is, maar omdat daar verskeie variëteite is, is dit beter om op die saadpakkie te kyk wanneer dit oesgereed behoort te wees. Kook beet tot sag, dompel in koue water en vryf skilletjies af. Vries klein beetjies heel of sny groteres in skyfies of blokkies, pak in lugdigte vrieshouers en bevries tot nege maande lank.

Maak blatjang, konfyt of piekel dit so: Kook 500 ml water, 250 ml bruinasyn en 200 g witsuiker vyf minute lank saam. Voeg beetskywe of blokkies by en kook tien minute met die deksel op. Pak in inmaakflesse en vul met die kokende asynmengsel, verseël en bêre. Pluk gereeld die buitenste blare van spinasiebeet en los die binnestes om verder te groei. Eet die spinasiebeet vars in slaai of roerbraai. Dit vries nie goed nie, so eet dit maar op. Oes spinasieblare aan die buitekant van die plant terwyl dit jonk en sag is en los die moederplant om verder te groei. Blansjeer spinasie, plaas in ՚n sif en druk al die water uit en bevries.

Boontjiefamilie

Die boontjiefamilie bestaan uit stoel en rankboontjies, boerbone en ertjies. Oes jong, sagte groenbone gereeld vir ՚n deurlopende oes. Vars, gesnipperde boontjies kan twee tot drie minute lank geblansjeer word voor dit bevries word. Ingemaakte kerrie- of mosterdboontjies is heerlike slaai.

Bêre droëbone in die yskas om te voorkom dat dit miet kry. Bring droëbone tot kookpunt en kook vir 10 minute, skakel die hitte af en laat week vir ՚n uur voordat jy dit dreineer en met vars water verder kook. Geur eers met sout of suiker wanneer die bone gaar is anders kook dit nie sag nie. Ertjies moet geoes word terwyl die peule klein en sag, maar goed gevul is as jy die ertjies uitdop. Wanneer jy die ertjies peule en al wil gaarmaak, moet die peule nog net half gevul wees.

Kool vries nie goed nie en dit is beter om dit rou te eet, gaar te stoom of in ՚n roerbraai te gebruik. (Bron: Pixabay)

Kopkoolfamilie

Kopkool, blomkool, brokkoli, Brusselse spruite en radyse behoort aan die Brassica-familie. Sny lente- en somerkopkool wanneer die koppe ferm en hard is, maar ՚n jonger, kleiner of mediumgroot kopkool het ՚n soeter geur. Vars kopkool is die lekkerste. Dit vries nie goed nie. Net soos Asiatiese blaargroente, is dit beter om kool eerder rou te eet, te stoom of in roerbraai te gebruik. Brokkoli word geoes wanneer die hofies gevorm is en die blomme steeds in die knop is. Dit vorm spruite wat deurlopend geoes kan word. Brusselse spruite is sowat vyf maande na dit geplant is oesgereed. Pluk die laagste spruite eerste. Blomkool word geoes wanneer die koppe stewig en styfgepak is.

Kop- en rooikool, blomkool- en brokkoliblommetjies en Brusselse spruite moet gewas en ՚n minuut lank geblansjeer word voordat dit lugdig verpak en gevries word.

Pampoenfamilie

Die familie bestaan onder meer uit pampoene, skorsies, murgpampoentjies en komkommers. Oes komkommers wanneer dit jonk en klein is. Hoe meer jy oes, hoe meer dra die plant. Pampoene word geoes wanneer dit maklik van die rank afgebreek kan word, terwyl skorsies geoes kan word wanneer hulle klein tot medium groot is.

Murgpampoentjies (zucchini en patty pans) word geoes terwyl hulle jonk en sag is. Hulle kan heel of opgesny en geblansjeer word en tot drie maande gevries word. Pampoene het ՚n lang raklewe en veral erfenisvariëteite hou maande lank. Sny geel pampoen in blokkies en vries tot drie maande; blansjeer wit pampoen wat in blokkies gesny is drie minute en laat afkoel voor dit bevries word.

Sonneblomfamilie

Blaarslaai, artisjokke en Jerusalemartisjokke behoort tot die familie. Moderne blaarslaai word gekweek om deurlopend geoes te word. Breek die buitenste blare af en gebruik dit terwyl die plant aanhou groei. Artisjokke is die eetbare blom van ՚n dissel. Net die skubbe van die onvolwasse blomknop word geëet. Sny die blomknoppe saam met ՚n stuk singel van 5 cm af terwyl die skubbe nog dig toe is. Sodra die eindknop geoes is, sal nuwe knoppe aan laer sylote ontwikkel wat ook geoes kan word. Artisjokharte kan rou in slaai geëet of in olie ingemaak word.

Uie is gereed om te oes wanneer die blare vergeel en omval. Lig die uie uit die grond en laat droog word voordat jy dit in bossies ophang. (Bron: Pixabay)

Uifamilie

Uie, knoffel en preie behoort tot die familie. Oes uie en salotte wanneer die lowwe vergeel en begin omval. Maak seker dit is droog wanneer jy dit oes. Hang in stringe op, bewaar in nette of op rakke. Dit kan ook gepiekel of gevries word. Preie moet met ՚n handgrafie uitgelig word wanneer die stingels sowat 3 cm dik is. Dit kan in goedgedreineerde grond oorwinter, en die wit gedeelte vries ook goed. Knoffel word geoes wanneer die blaarstele vergeel en verdroog. Maak die bolle ՚n week lank in die son droog voor jy dit op ՚n droë plek bewaar. Vleg of knoop heel knoffelbolle aanmekaar vas en hang dit op, of bewaar dit los van mekaar op ՚n rak.

Wortelfamilie

Wortels kan sowat 10 weke nadat dit gesaai is geoes word. Oes die wortels jonk en draai die loof af om te keer dat dit vog uit die wortel onttrek. Wortels in repies of blokkies gesny vries goed. Oes net die buitenste stingels van seldery en laat die res toe om verder te groei. Vars seldery in foelie toegedraai hou lank in die yskas. Pietersielie kan gewas en opgekap word voordat dit in ysbakkies geplaas word wat met water opgevul word. Vries en gebruik die blokkies soos benodig in geregte.

Mielies

Ander groente, soos suikermielies, word geoes wanneer die kop se hare bruin is. Trek die mielieblare ՚n bietjie terug en druk op die pitte. As dit ՚n melkerige vloeistof afskei is dit gereed om geoes te word. Sny die pitte van die stronk af en vries.

Bronverwysings

Anthony, D. (2014) Enigeen kan groente kweek. Metz Press ISBN 978-1-928201-12-0

Boeckmann, C. (2023) Harvesting Guideline for the Home Gardener https://www.almanac.com/whenharvest-vegetables-and-fruit-bestflavor

Iannotti, M. (2020) When and How to Harvest Garden Vegetables How do you know when it’s time to pick? https://www.thespruce.com/when-to-harvest-vegetables-1403402

Tanner, C, (2020) Harvesting Vegetables. Home and Garden Information Centre https://hgic.clemson.edu/factsheet/harvesting-vegetables/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0