Categories: ArtikelsPublished On: 11th November 2026

Jou hond se gesondheid begin by sy voeding

By 3 min read
597 words

Untitled design

’n Gesonde en gelukkige hond kry nie net genoeg skoon water, kos en oefening asook ’n veilige slaapplek nie. Net soos mense verskil diere se behoeftes ook regdeur hul lewe. Daarom is dit belangrik om jou dier se voedselbehoeftes na te gaan en sy kos aan te pas volgens die voedingstowwe wat hy benodig op spesifieke stadiums van sy lewe.

Foto: Pixabay.com

Dieet volgens lewensfase

’n Hond se voedingsbehoeftes verander gewoonlik drasties namate hulle ouer word.

  • Babahondjies benodig kos met meer kalorieë, proteïene, kalsium en gesonde vette om voldoende been- en spiergroei te verseker en te ondersteun. Omdat hul mae nog klein is en hulle uiters energiek is op hierdie ouderdom, moet hulle eerder drie tot vier kleiner maaltye per dag kry.
  • Wanneer honde volwassenheid bereik, verskuif die fokus na die instandhouding van ’n gesonde gewig. Die meeste volwasse honde floreer op twee daaglikse maaltye. Om vas te stel watter hoeveelheid kos in jou hond se daaglikse behoeftes sal voorsien, gaan die agterkant van hondevoerverpakkings na om vas te stel of die kos geskik is vir jou hond se unieke behoeftes.
  • Senior honde (7+ jaar) se metabolismes is gewoonlik stadiger en hul orgaanfunksie neem af. Hulle trek voordeel uit kos wat lae kalorieë bevat en wat beskik oor hoëgehalte, maklik verteerbare proteïene. Bykomende aanvullings, soos omega-3-vetsure, kan ook bydra tot gesonde gewrigte.

Dieetbehoeftes volgens aktiwiteitsvlak en liggaamstoestand

Aktiewe honde benodig kos met ’n hoër vet- en proteïeninhoud om volgehoue energie te verseker, terwyl minder aktiewe honde of skoothondjies afhanklik is van ’n ligter formule of kleiner porsies om gewigstoename tot die minimum te beperk of heeltemal te vermy. As honde te veel gewig dra, kan dit druk plaas op hul gewrigte – en selfs hul organe.

As jou hond sonder enige goeie rede gewig optel, moet jy seker maak dat jy nie te veel bederfies vir hom gee nie. Hul daaglikse bederfies se kalorie-inhoud moet nie meer as 10% van hul daaglikse inname oorskry nie. Jy kry ook hondekos wat spesifiek gemik is op gewigsgbeheer. Dit is meer doeltreffend vir gewigsverlies, en sodoende hoef jy jou beste vriend nie te ontneem van die nodige hoeveelheid daaglikse voedingstowwe deur hom net minder kos te gee nie.

Foto: Pixabay.com

Wees bewus van mediese toestande en let op na sekere tekens

Dit is belangrik om bewus te wees van tekens dat jou hond se dieet nie meer geskik is vir hom nie. Tekens soos ’n dowwe pels, ’n los stoelgang, gereelde winderigheid of ’n jeukerige vel kan daarop dui dat jy ’n ander dieet vir jou hond moet oorweeg.

  • Sensitiwiteite en allergieë: Honde wat sensitief is vir sekere kos, benodig moontlik ’n dieet met beperkte bestanddele of moet waarskynlik ’n hipoallergeniese dieet volg.
  • Gesondheidstoestande soos niersiekte, diabetes of artritis vereis geteikende veeartsenykundige diëte wat spesifieke makrovoedingstowwe aanpas om verligting te bring en simptome onder beheer te hou.

Hoe om jou hond veilig oor te skakel na ander kos

Skielike oorskakeling na ander kos kan jou hond se spysverteringskanaal skok en dalk lei tot braking of ernstige diarree. Skakel hulle geleidelik oor na ’n nuwe dieet oor ’n tydperk van sewe dae:

  • Dag 1 en 2: Meng 75% ou kos met 25% nuwe kos
  • Dag 3 en 4: Meng 50% ou kos met 50% nuwe kos
  • Dag 5 en 6: Meng 25% ou kos met 75% nuwe kos
  • Dag 7: 100% nuwe kos

JOCK weet wat jou hond se voedingsbehoeftes is en daarom verskaf hulle hondekos vir elke fase van ’n hond se lewe. Die kos is spesifiek geformuleer om te voorsien aan honde se unieke energiebehoeftes. Een ding is gewis, vrolike en gesonde honde maak staat op JOCK-hondekos!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0