Nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer
Nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer (BKS) by uPhongolo in KwaZulu-Natal is waarskynlik veroorsaak deur die onwettige beweging van beeste vanaf besmette diptenks na die gebied.
Dr Mpho Maja, hoof van die direktoraat van dieregesondheid, se owerhede doen tans voor- en na-opsporing om die bron van die nuwe besmetting te probeer vasstel.
Daar word vermoed dat kommunale boere of kleinskaalse boere onwettig beeste vanaf besmette diptenks na die nuwe gebied beweeg het.
Beeste is hierdie boere se belangrikste en dikwels enigste bron van inkomste en mens kan dit te wagte wees dat hulle vee onwettig kan verskuif om munt te slaan uit veeverkope in aanloop tot die feesseisoen.
Bewegingsbeheer soos deur die wet vereis word klaarblyklik laks toegepas, wat keer dat die siekte in die provinsie behoorlik onder beheer kom.
Die nuwe uitbreking kom voor kort nadat die Departement van Landbou aangekondig het dat uitbrekings in Mpumalanga, die Vrystaat, Noordwes en Gauteng opgelos is en dat die vier provinsies nou BKS-vry is.
Daar was ook geen nuwe uitbrekings sedert September in die Oos-Kaap nie. Een uitbreking by Oos-Londen is ten volle opgelos, maar die siektebeheergebied (SBG) by Humansdorp, waar die siekte einde April vanjaar vir die eerste keer in die provinsie uitgebreek het, bly in plek. Tot op daardie stadium was die Oos-Kaap, net soos die Wes-Kaap en Noord-Kaap nog vry van bek-en-klouseer sonder dat dit nodig was om diere met gesplete hoewe in te ent.
Altesaam 37 plase in die gebied is besmet en nog 36 is voorkomend ingeënt om verspreiding te voorkom en kliniese simptome te versag. Altesaam 96 906 beeste en 635 skape is sedert die uitbreking in die Oos-Kaap ingeënt, wat help voorkom het dat die virus verder versprei. Die SBG wat die munisipaliteite van Kouga en Kou-Kamma insluit word ook streng afgedwing deur toegangsbeheer.
Die bestaande groot SBG in KwaZulu-Natal sal uitgebrei word om die nuwe besmette gebied waar die siekte in die munisipale gebied van uPhongolo voorgekom het, asook ander geïdentifiseerde risikogebiede in te sluit. Altesaam 133 aktiewe uitbrekings kom voor in die bestaande SBG, wat kommunale diptenks, ‘n aantal kleinskaalse plase en vyf private wildreservate wat naby mekaar geleë is, insluit.
Daar is blykbaar nog nie ‘n abattoir in die SBG wat gemagtig is om besmette diere te slag nie. Dit noop waarskynlik desperate boere om hul vee buite die SBG te neem om te verkoop. Die uitbrekings sal waarskynlik voortgaan totdat verskerpte beheermaatreëls strenger toegepas word.
Die onus rus intussen op alle vee-eienaars of -bestuurders om hulle wetlike plig na te kom en te verseker dat streng biosekerheidsmaatreëls toegepas word en dat hulle vee slegs met die nodige dokumentasie beweeg word om te voorkom dat hulle eie vee besmet raak of die siekte na ander diere versprei.
ProAgri het vroeër berig dat epidemiologiese ondersoeke in KwaZulu-Natal tot dusver nog nie die bron van die 2021 SAT2-BKS-voorval daar identifiseer nie. Die virus wat vir die uitbreking verantwoordelik was, is egter nou verwant aan die SAT2-virus wat in 2019 verantwoordelik was vir ‘n uitbreking in die noordelike deel van Limpopo.
Dit word aanvaar dat die onwettige beweging van diere uit die beheerde sone van Limpopo na KZN die uitbreking daar veroorsaak het. Dieselfde virus is identifiseer in die uitbreking in Oos-Londen wat 30 April 2024 in die Oos-Kaap begin het.
Bronverwysings
Phillips, L. (2024) Bek-en-klouseer: Nuwe gevalle in KZN vereis uitgebreide beheersone
Steyn, T. (2024) Op die vae spoor van bek-en-klouseer
https://proagri.co.za/op-die-vae-spoor-van-bek-en-klouseer/