Opwindende ontwikkelinge by opkomende Hatari Platinum Dormerveiling

WhatsApp Image 2026-08-21 at 12.56.08
Hatari Dormers is reeds jare lank ’n uitsonderlike naam wat betref genetika en gehalte in Dormer-kringe. By verlede jaar se Hatari Platinum Dormerveiling is een van die gehalteramme teen ’n allemintige R400 000 van die hand gesit. Dié opwindende veiling is weer om die draai, maar hierdie jaar doen hulle dinge ’n bietjie anders.
Steyn Steenekamp, teler van Graskaroo Dormers, wat deel is van Hatari Dormers vertel dat hulle teruggekyk het na verlede jaar se veiling en hoewel hulle baie redes het om dankbaar te wees vir goeie pryse en sterk ondersteuning, wil hulle dié jaar iets na die veiling bring vir kommersiële boere ook.
“As boere wat self elke dag in die praktyk staan, het ons besef dat dinge miskien ’n bietjie te duur begin raak het vir ons kommersiële kliënte. Ons visie met die Hatari-veiling was nog altyd om dit groter, beter en meer toeganklik te maak vir die mense wat die ruggraat van ons bedryf vorm, ons kuddeboere.”
Om hierdie rede het hulle ’n strategiese besluit geneem om hul veilings te konsolideer.
“Ons het die afsonderlike veilings in Parys en Bona Bona vir eers gekanselleer en al ons kragte en genetika op een sentrale plek gekombineer. In vandag se uitdagende ekonomiese klimaat, waar bek-en-klouseer en hoë vervoerkoste ’n wesenlike rol speel, maak dit vir ons en vir ons kopers meer sin om alles saam te bring.”
Verhoudings en winsgewendheid kom eerste
Stoetboere is natuurlik baie gelukkig wanneer hulle toppryse op ’n veiling kan behaal, maar Steyn vertel dat hulle uiteindelike doelwit is om diere na die veiling te vat wat ook vir kommersiële boere toeganklik sal wees. “Vir ons gaan dit oor die verhoudings met ons kommersiële boere en hulle sukses ook.”
Deur die veilings te kombineer, bied hulle groter getalle diere aan sodat almal die geleentheid kry om topgenetika teen ’n billike prys te bekom.
Iets nuuts om oor geraas te maak … en oor stil te word
Hierdie jaar bied die veiling iets aan wat spesiaal ontwerp is vir boere wat tradisioneel direk op die plaas gaan ramme koop.
Dus kan belangstellende boere ’n tradisionele veiling in die ramstal bywoon wat die organiseerders ’n “geraasveiling” noem. By die veiling sal Hatari en hul gasverkopers eksklusiewe stoetgenetika beskikbaar hê.
“Ons mikpunt is om geen ram of ooi onder ’n 8-punt-gradering aan te bied nie, en kopers kan uitsien na ongeveer 20 uitstaande stoetramme op die veiling.”
Ná afloop van die geraasveiling bied hulle dan ook ’n stilveiling aan.
“Sommige boere voel soms dat die stoetramme net te groot is, daarom beoog ons om tydens die stilveiling ramme aan te bied wat meer funksioneel is.”
Daar is nie ’n genetiese verskil tussen die stilveilingramme en die stoetramme nie; hoewel hulle dalk ’n bietjie jonger en sowat twee punte laer op die gradering is. Hierdie ramme sal ook nie heeltemal voorberei word soos die stoetramme nie, maar uiteindelik is hulle ligter, meer funksionele ramme wat sommer daardie selfde dag op die plaas losgelaat kan word.
Vir die stilveiling gaan die ramme in groepe van drie in kampe geplaas word buite die veilingslokaal. Boere kan dan deurloop en hul kopernommer en aanbod op ’n bord skryf. Wanneer die veiling verby is, behoort die ramme aan die koper met die hoogste bod.
Hierdie proses gaan ook noukeurig deur BKB behartig word en daar word beoog om sowat 100 van hierdie ramme op te veil.
Uitstekende genetika word weer ten toon gestel
Kopers kan uitsien na een van Hatari se bekendste Dormer-ramme, Tokkelos (22-153), asook sy seun wat die jaar op die veiling is.
Steyn vertel dat Tokkelos ’n baie besonderse teelram is wat hom reeds herhaaldelik bewys het in beide die Hatari- en Twee Broers-stoete.
“Met hierdie ram weet jy presies wat jy koop en wat hy vir jou gaan teel.”
Die gasverkopers by die veiling word deur Steyn beskryf as ’n besonder hegte groep telers wat soos familie saamkom, met ’n jarelange geskiedenis en sterk vriendskap onder mekaar. Die groep sluit 2 Broers Dormers, Hatari Farming, Buffelsfontein Dormers en Gras Karoo Dormers in.
Dagboek nou reeds 19 September 2026 by Plaas Content, Bainsvlei, Bloemfontein, om die veiling by te woon.
Diere beskikbaar op die dag:
- 200 SP-Dormer-ramme
- 100 SP-Dormer-ooie
- 150 Kommersiële Dormer-ooie
- SP-Suffolk-ramme
- 15 SP-Suffolk-ooie