Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 14th September 2026

Cheetah Conservation Botswana baan die weg vir vreedsame bestaan tussen veeboere en uiters bedreigde jagluiperds

By 7 min read
1409 words

CCB1

Vir Cheetah Conservation Botswana (CCB) begin die beskerming van die jagluiperd nie binne ’n omheinde reservaat nie, maar op die plase waar mense en roofdiere dieselfde landskap deel.

Hierdie merkwaardige organisasie beywer hom vir die bewaring van Botswana se jagluiperdbevolking deur wetenskaplike navorsing, gemeenskapsbetrokkenheid en omgewingsopvoeding. Deur nou saam met landelike gemeenskappe te werk, bevorder CCB ’n vreedsame bestaan tussen mense en Botswana se groot verskeidenheid roofdiere.

“CCB is in 2004 deur Rebecca Klein, Ann-Marie Compton en dr. Kyle Good gestig en werk sedert sy ontstaan nou saam met die Botswana-regering om die vreedsame bestaan tussen landelike gemeenskappe en roofdiere te bevorder,” sê Jane Horgan, ’n navorser, toesighouer van Farming for Conservation (FFC) en PhD-kandidaat by CCB.

“Met ’n sterk fokus daarop om plaaslike gemeenskappe toe te rus om konflik tussen mens en dier te beperk, asook ’n passie vir praktiese en doeltreffende programme, kon CCB duisende Batswana help om vreedsaam saam met wilde diere te leef,” sê Horgan.

CCB se hoofkantoor is in Botswana se hoofstad, Gaborone, en die organisasie bedryf twee veldkampe in die wildryke Ghanzi-distrik, by Bere en Ghanzi. Die veldkampe huisves die organisasie se verskillende afdelings, waarvan die spanne regstreeks met gemeenskappe regoor die westelike Kalahari saamwerk.

Die FFC- en Human-Wildlife Coexistence (HWC)-afdelings omskep die bevindinge van die wetenskaplike navorsingsafdeling se werk in praktiese oplossings wat tot voordeel van boerderygemeenskappe strek. Dit sluit onder meer die ontwikkeling van bewaringsvriendelike veeboerderypraktyke, weiveldbestuur en perdpatrollies in, asook die opleiding en beskikbaarstelling van veewaghonde (livestock guarding dogs, of LGD’s) as niedodelike afskrikmiddels teen roofdiere, sê Horgan.

“Deur middel van mobiele en plaaslike werkswinkels skep die FFC-afdeling geleenthede waar boere kennis en ervaring met mekaar deel, wat daarop gemik is om gemeenskappe se gesamentlike veerkragtigheid te versterk.

“Die Communities for Conservation (C4C)-afdeling bied ondersteuning aan inisiatiewe wat op die diversifisering van bestaansmiddele fokus, waaronder opvoeding en ontwikkeling in die vroeë kinderjare, die oes en verhandeling van veldprodukte, asook die vervaardiging van handwerk. Hierdie afdeling stel gemeenskapslede in staat om hul bestaans- en ekonomiese sekerheid te versterk sodat dit nie slegs van vee- en wildverwante bedrywighede afhanklik is nie.”

Onrusbarende afname in jagluiperdgetalle

“Botswana is gesetel in die hart van die wêreld se grootste gekoppelde jagluiperdbevolking, naamlik die bevolking wat oor Suider-Afrika strek, van Angola en Namibië tot Zambië, Zimbabwe, Suid-Afrika en Mosambiek,” sê Horgan.

“Botswana en Namibië is die tuiste van die helfte van die wêreld se jagluiperds. “Dit was egter tot onlangs die geval. In Junie het kenners van Suider-Afrika nuwe bewyse voorgelê wat toon dat jagluiperdgetalle in Suider-Afrika oor die afgelope 15 jaar met meer as 50% afgeneem het. Botswana se geraamde bevolking het die eerste keer sedert rekordhouding begin het tot minder as 1 000 jagluiperds gedaal.”

Volgens Horgan het hierdie ongekende afname daartoe gelei dat daar nou ’n beroep gedoen word om die jagluiperd se Suider-Afrikaanse subspesie vir die eerste keer as ‘bedreig’ op te gradeer. Die spesie word tans deur die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) se rooilys as ‘kwesbaar’ gelys.

“Dit is ongelukkig asof hierdie tendens ook in ander lande in Oos- en Noord-Afrika weerspieël word, hoewel ons steeds wag op amptelike syfers uit die res van hul verspreidingsgebied in Afrika.”

Die redes vir die daling in luiperdgetalle verskil van plek tot plek. In die algemeen is dit egter ’n kombinasie van konflik tussen mens en dier, habitatverlies as gevolg van menslike nedersetting en oorbeweiding, habitatfragmentasie weens paaie en heinings, ’n afname in prooispesies (grootliks as gevolg van stropery en vererger deur klimaatsverandering), asook die onwettige handel in wild. Laasgenoemde kom meer algemeen in Oos-Afrika voor, maar vind ook in Suider-Afrika plaas, hoofsaaklik in die vorm van die onwettige handel in wilde diere as troeteldiere, sê Horgan.

Patrolleerders tel die beeste wat teruggekeer het. (Foto: Brodie Hopkins)

Doelgerigte navorsing … en ’n nasionale jagluiperdsensus

“In die lig van hierdie onlangse bevindinge fokus CCB nou ons navorsingspogings daarop om vas te stel wat moontlik die afname in Botswana veroorsaak. Verskeie plaaslike en internasionale nagraadse studente ondersoek tans die afname in prooispesies, mededingende roofdierbevolkings en -gedrag, vlakke van konflik tussen mens en dier, asook die impak van paaie en heinings op jagluiperds in Botswana,” beklemtoon Horgan.

Sy sê dié werk gaan hand aan hand met verskerpte pogings om jagluiperdbevolkings gereeld oor die land heen te monitor. CCB doen hierdie werk in samewerking met die Botswana-regering se Departement van Wildlewe en Nasionale Parke (DWNP), asook ander nieregeringsorganisasies wat navorsing doen in Botswana.

“Ons het goedkoper en makliker maniere nodig om jagluiperds te tel, en dit is iets wat ons tans ondersoek. “Sodra ons die doeltreffendste metode gevind het om die bevolkingsdigteid van jagluiperds te bepaal, hoop ons om saam met DWNP ’n nasionale jagluiperdsensus van stapel te stuur wat elke drie tot vyf jaar uitgevoer sal word.”

Dit sal die span in staat stel om die stand van jagluiperdbevolkings te monitor, te bepaal of bepaalde ingrypings daarin slaag om die afname om te keer, en vas te stel waar bykomende hulpbronne vir bewaringspogings gemobiliseer moet word.

“Op die oomblik sien ons ’n daling in konflikvlakke met jagluiperds in gebiede waar ons ons programme implementeer, wat bemoedigend is,” sê Horgan. “Ons sien dat al hoe meer boere volhoubare boerderypraktyke toepas, insluitend roofdiervriendelike plaasbestuur, en daar is ’n enorme toename in die gebruik van veewaghonde.”

Balekanye Mbinda, senior beampte van Farming for Conservation, hou ’n mobiele werkswinkel vir boere in afgeleë gebiede. (Foto: Brodie Hopkins)

Beskerm die kuddes, bewaar die wild

Volgens Horgan is mense se lewensbestaan nou verweef met konflik tussen mens en dier, want wanneer mense meer suksesvol is en finansieel beter daaraan toe is, kan hulle die verlies van een of twee stuks vee makliker absorbeer sonder om tot uiterste maatreëls, soos dodelike ingrypings, oor te gaan.

“Wanneer iemand finansieel swaar trek, is hulle meer geneig om ná net een verlies tot dodelike optrede oor te gaan. Daarom sien CCB dikwels ’n toename in konflik wanneer daar klimaatskokke of probleme in die beesvleismark is, soos bek-en-klouseer.

“By CCB is ons bewus daarvan dat jagluiperds nie vir baie boere ’n prioriteit is nie. Dit maak dus geen sin om by ’n plaas op te daag en bloot vir boere te sê hulle moenie jagluiperds skiet nie. Waar is die aansporing?

“Maar uiteindelik wil ons eintlik dieselfde hê: ons wil hê jagluiperds moet nie vee doodmaak nie, want dan sal boere nie ’n rede hê om jagluiperds (of ander roofdiere) te gaan skiet nie. Daarom werk ons saam met boere om die kwesbaarheid van hul vee te verminder.”

Volgens Horgan loop vee ’n groter risiko om deur roofdiere gevang te word wanneer hulle swak, beseer, siek of klein is (byvoorbeeld pasgebore kalwers), of wanneer hulle alleen en ver van die res van die kudde of die opstal afdwaal. Vee kan ook snags besonder kwesbaar wees wanneer nagtelike roofdiere soos leeus en luiperds aktief is.

“Ons gebruik hierdie kwesbaarhede as uitgangspunt vir die metodes wat ons aanwend om vee se vatbaarheid te verminder. As vee byvoorbeeld meer geneig is om deur roofdiere gevang te word wanneer hulle siek is, hoe kan ons boere help om die gesondheid van hul kuddes te verbeter?

“Ons bied opleiding oor veesiektes aan, soos hoe om dit te herken en hoe om diere in te ent, en ons ontwikkel en druk ’n maklik verstaanbare inentingskalender wat ons aan boere versprei. Ons publiseer ook artikels in plaaslike andboutydskrifte oor hoe om siektes by jou vee te voorkom.”

In dieselfde asem is swak diere meer kwesbaar en wanvoeding kan tot swakheid lei. Daarom fokus die span op “verbeterde beweiding, opleiding oor hoe om jou eie voedingslekke en aanvullende voer te maak, asook hoe die rus van jou weiveld kan help om die volhoubaarheid van jou weiveld te verbeter”.

Al hierdie faktore, soos goeie kuddegesondheid, verbeterde beweiding en die vermindering van vee se kwesbaarheid,
beteken dat boere gesonder diere het wat meer geneig is om voort te plant en wat teen slagtyd waarskynlik meer sal  weeg en gesonder sal wees, sê Horgan.

“Verder het boere groter kuddes omdat hulle nie meer diere aan roofdiere verloor nie. Alles in ag genome, weeg die voordele van roofdiervriendelike boerdery dan swaarder.”

Vir meer inligting en/of navrae, stuur ’n e-pos aan info@cheetahconservationbotswana.org of kontak Connie Modise, Farming for Conservation-koördineerder, by cmodise@cheetahconservationbotswana.org. Volg CCB ook op Facebook en Instagram. Hierdie is die eerste deel van ’n reeks van drie artikels oor die noodsaaklike werk wat Cheetah Conservation Botswana doen.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0