Categories: Artikels, Vee en Wild, VeilingsPublished On: 17th September 2026

Vat 5-Dormergroep bring weer uitstekende genetika na hul veiling

By 3 min read
508 words

807590277_1729609779172126_4946509024245553682_n

Wanneer ’n groep Dormertelers met ’n passie vir hierdie skaapras koppe bymekaar sit, is daar min dinge wat hulle kan keer. Die Vat 5-Dormergroep skud hul wol reg vir nog ’n opwindende Dormerveiling by die Afridome in Parys op 26 September 2026.

Hierdie Dormergroep is in 2023 deur vooruitstrewende skaaptelers gestig met een doel: om hoëgehalte-Dormers te teel en na die mark te bring. Hoewel die telers van regoor die land kom, handhaaf hulle steeds dieselfde teeldoelwitte en seleksiestandaarde, sodat hulle robuuste, vrugbare en kommersieel waardevolle diere kan lewer.

Kopers en belanghebbendes kan uitsien na ’n uitsoekversameling van topgehalte diere:

  • 40 SP- en kommersiële ramme
  • 40 SP-ooie
  • 120 Kommersiële ooie

Die stoete agter Vat 5-Dormers

Heyman Dormers

Heyman Dormers is naby Koffiefontein in die droë westelike Suid-Vrystaat met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van sowat 400 mm geleë. Die boerdery kombineer Beefmaster-beeste met Dormer-skape. Die skape word hard op die veld grootgemaak sodat hulle oor uitstekende aanpasbaarheid en geharde eienskappe beskik.

Die stoet is in 2020 amptelik geregistreer ná die aanvanklike aankoop van kommersiële ooie in 2017. Sedertdien word streng seleksie op die ooie toegepas en word beproefde ramgenetika ingespan om grootraam-, dikbeen- en vrugbare diere met uitstekende groei te teel.

Jakkalsdans Dormers

Jakkalsdans Dormers is in 2021 deur Marco en Madeli Klopper op die plaas Kromloop naby Hertzogville in die Vrystaat gestig, waar dit saam met ’n kommersiële Bonsmara-kudde bedryf word. Die stoet fokus op die vestiging van ’n vrugbare, eenvormige en goedgeboude vleisrasdier met sterk beenstruktuur en wye bouvorm.

Genetika is sorgvuldig uit van die land se voorste stoeterye verkry. Die teeldoelwitte fokus op hoë vrugbaarheid, goeie moederseienskappe, volop melkproduksie en uitstaande voor- en naspeengroei. Hierdie uitnemende genetika word ook suksesvol aangewend om die gehalte van hul eie kommersiële kudde voortdurend te verhoog.

Thaba Kwena Dormers

Geleë in die Waterberge van Limpopo, vorm Thaba Kwena Dormers deel van ’n wyer boerdery-onderneming wat ook ’n Bonsmara-stoet en ’n krokodilboerdery insluit. Die stoet fokus primêr op vrugbaarheid, meerlinggeboortes, melkproduksie en voortreflike naspeengroei.

Die stoetery het die natuurlike uitdagings van ’n hartwateromgewing suksesvol oorbrug, sodat die nageslag vandag ten volle aangepas en gehard is in die streek. Deur akkurate prestasietoetsing en streng genetiese seleksie lewer Thaba Kwena lammers wat uitblink in die voerkraal met ’n hoë gemiddelde daaglikse toename (GDT).

Johanri Dormers

Johanri Dormers, wat in 2005 deur Johan Barnard in die Lindley-distrik (Noordoos-Vrystaat) geregistreer is, is ’n gevestigde naam in die bedryf. Die stoet het oor jare heen rekordpryse op nasionale veilings behaal, waaronder die nasionale rekords vir die duurste SP-ram, SP-ooi en kommersiële ooi.

Die teelbeleid rus op die eenvoudige beginsel om die mees uitnemende diere met mekaar te kruis, ondersteun deur deeglike kennis van die kudde. Die Dormer-ras word benut vanweë sy uitstekende ekonomiese eienskappe, waaronder hoë vrugbaarheid en vinnige groei, asook die hoë aanvraag na Dormer-ramme vir waardetoevoegende kruisteling met wolrasse soos die wolmerino en Dohne-Merino.

Dagboek nou reeds die datum vir hierdie opwindende veiling en kom beleef die gehaltegenetika.

Vir meer inligting skakel gerus vir Marco Klopper by 083-627-0846 of Henk Kirchner by 072-805-9063.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0