NAMPO 2024 – Boere voel tuis by Case IH!

DSCF6970.00_09_12_24.Still001
Stephan Nel van Case IH by NAMPO 2024.
Die Case IH-standplaas was ‘n groot trekpleister by NAMPO en soos altyd het Case IH weer gesorg dat hulle die tonge los het met hulle nuutste tegnologie en bekendstellings.
Stephan Nel, besturende direkteur van Case IH Suid-Afrika, vertel dat NAMPO 2024 baie besig was vir hulle. “Ons het baie voete op ons standplaas gehad, baie positiewe ervarings en ontsettend baie navrae.”
Hy voeg by dat hoewel baie mense navraag gedoen het, was nie baie gereed om te koop nie. Hy skryf dit toe aan die stroopseisoen en die droogte.
“Daar is definitief ‘n bietjie onsekerheid wat die seisoen gaan oplewer, maar oor die algemeen is ons baie gelukkig en het ons fantastiese interaksies met ons boere gehad.”
Case IH se tema by NAMPO was ‘Tuis met tegnologie’ en dit het hulle beslis reg gekry met die bekendstelling van hulle verbindingskamersagteware en Raven-hardeware.

Case IH se Raven-raakskerms wat versoenbaar is met enige trekker, is aan boere bekendgestel in Case IH se verbindingskamer tydens NAMPO 2024.
Case IH tuis met tegnologie by NAMPO
Hulle het die klem geplaas op tegnologie wat die boer kan help om meer doeltreffend te boer. Die verbindingskamertegnologie sluit vlootmonitering en afstanddiagnose in. Die tegnologie kan gebruik word om jou toerusting se rekenaarprogrammatuur op te gradeer en kan jou help om voorkomend op te tree indien iets fout gaan met jou trekker.
Aan die toerustingkant het hulle ook die Raven-produkreeks ten toon gestel. Die produk is versoenbaar met verskillende trekkermodelle, van oud tot jonk en van verskillende vervaardigers.
Lees meer hier: https://proagri.co.za/nampo-2024-case-ih-maak-presisieboerdery-maklik/

Case IH het hulle nuwe Optum-reeks by NAMPO 2024 bekendgestel.
So gepraat van trekkers
Die maatskappy was baie opgewonde om hulle Case IH Optum-trekkerreeks bekend te stel. Die trekkers word in Oostenryk gebou by een van die beste CNH fabrieke ter wêreld.
“Dit word fisies gebou deur boere wat deeltyds boer en deeltyds in die fabriek werk,” spog Stephan. Die reeks val tussen hulle Puma- en Magnumreekse.
Lees meer hier: https://proagri.co.za/hier-is-case-ih-se-jongste-bul/
Dit is nie al nie
Case IH het hulle mielietafels asook hulle 95220 klas 9 Case IH stroper wat uit Amerika kom, saamgebring.

Landbou studente het die Case IH standplaas besoek en oor hulle nuwe Raven tegnologie geleer.
Case IH belê in jong boere
Daar was heelwat landboustudente wat ‘n draai by die uitstalling kom maak het.
“Jongboere is vir ons ontsettend belangrik, ons begin nie net by die jongboere wat reeds boer nie en in die landboupraktyk is nie, maar ook die jongmense wat wil boer,” sê Stephan oor die nuwe geslag boere wat die stalletjie besoek het.
Lees meer hier: https://proagri.co.za/landboustudente-kry-n-les-in-presisietegnologie-by-case-ih/
CNH en spesifiek Case IH is baie betrokke by landbouskole asook universiteite en kolleges se landboudepartemente. Hulle borg onder ander Kovsies en Tuks gedurende die saai-seisoen.
Stephan verduidelik dat dit vir hulle belangrik is dat die studente nie net bewus is van die nuutste tegnologie wat hulle bied nie, maar dat hulle ook weet hoe om dit te gebruik.
“Ek dink dit is waar ons daai saadjie van vroeg af plant, dat ‘n student wat voel hy wil in landbou ingaan, weet dit gaan nie net oor wat hulle leer nie, maar oor hoe hulle dit gaan kan toepas eendag,” verduidelik Stephan.
Uiteindelik het NAMPO 2024 vir die Case IH span daaroor gegaan om weer hand te skud met die boere en hulle families, saam ‘n koffie te geniet en die uitdagings van landbou te bespreek.
“Dit gaan bloot oor daai interaksie en die verhouding met ons boere. Om te verstaan wat is dit wat die boere ervaar in die bedryf en uiteindelik ons ook in staat te stel om die regte oplossings te bring. Ek wil net dankie sê vir die boere wat met ons kom gesels het. Baie dankie vir die tyd en vir die ondersteuning,” sluit Stephan af.