Categories: Articles, MechanisationPublished On: 16th July 2026

Rula Agri se nuwe Striptill-kombinasie bring presisie, aanpasbaarheid en doeltreffendheid na bewaringsboerdery

By 5 min read
978 words

WhatsApp Image 2026-07-07 at 11.36.31 (2)

Rula Agri het hul nuwe 8-ry-Stiptill-eenheid met EasyFert-kombinasie tydens Val Boeredag gedemonstreer en gewys hoe plaaslik vervaardigde tegnologie boere help om meer doeltreffend en presies te boer.

Bewaringsboerdery vra deesdae meer as net die regte implement, dit verg slim oplossings wat boere help om tyd, insetkoste en arbeid optimaal te benut. By vanjaar se Val Boeredag het Rula Agri weereens gewys waarom hulle bekend staan as ’n vervaardiger wat luister na Suid-Afrikaanse boere se behoeftes deur hulle Striptill-eenheid met EasyFert-kombinasie te demonstreer.

Volgens Ruan Jonas van Rula Agri is die implement ontwerp met een doel voor oë: om elke boerdery se unieke behoeftes te akkommodeer.

“Ons glo nie daar is ’n een-grootte-pas-almal-oplossing nie. Daarom bou ons implemente volgens die boer se rywydte, grondtoestande en bestuurspraktyke,” verduidelik Ruan.

Gebou vir Suid-Afrikaanse toestande

Die nuwe Striptill-eenheid begin sy werk met ’n snykouter, gevolg deur ‘n dubbelry skoonmakers (row cleaners) en ’n tand wat die grond losmaak en kunsmis plaas daar waar elke boer dit verlang. Boere kan kies tussen verskillende tandkonfigurasies, insluitend ’n 25 mm-tand of ’n 16 mm shank-tipe-tand waarin slegs die onderste punt vervang hoef te word wanneer dit verweer.

Hierdie ontwerp verminder onderhoudskoste aansienlik, aangesien slegs die slytasiedeel vervang word en nie die volledige tand nie.

Die implement beskik verder oor Rula Agri se vlekvryestaal-ontlugter (vent diffuser) en golfkouter (wavy coulters) wat optimale grondbewerking en kunsmisplasing ondersteun.

“Die demonstrasie-eenheid wat ons hier aan boere vandag by Val Boeredag wys werk tot ongeveer 300 mm diep, met ’n kragvereiste van ongeveer 17 tot 20 kW per ry, afhangend van grondtoestande,” sê Ruan.

Rula Agri se Striptill-EasyFert-kombinasie het groot belangstelling onder boere by Val Boeredag gelok, waar boere die implement van nader kon besigtig en meer oor die tegnologie en aanpasbare opsies kon uitvind.

Hidrouliese wegbreektand verseker konstante werkverrigting

Een van die grootste onderskeidende kenmerke van die implement is die hidrouliese wegbreektandstelsel.

“Waar baie soortgelyke implemente van vere gebruik maak om druk op die tand te plaas, gebruik Rula Agri ’n akkumulator wat vooraf tot die verlangde druk gelaai word. Dit beteken elke tand werk voortdurend teen dieselfde druk, ongeag terrein of werksomstandighede. Die resultaat is meer konsekwente grondbewerking oor die hele werktuigwydte en beter eenvormigheid tydens bewerking,” verduidelik Ruan.

Die Striptill-eenheid is toegerus met ’n hidrouliese wegbreektandstelsel wat verseker dat elke tand deurentyd teen dieselfde druk werk vir konsekwente grondbewerking.

Onderhoudsvry vir maksimum produktiwiteit

Nog ’n groot voordeel is dat die implement geen ghriespunte het nie. Selfsmerende busse vervang tradisionele smeerpunte, wat beteken dat boere nie meer elke oggend tyd aan smering hoef te spandeer voordat werk begin nie.

Vir boere beteken dit minder onderhoud en meer tyd in die land.

EasyFert: Meer werk in minder tyd

Die Striptill-eenheid word gekombineer met Rula Agri se EasyFert-stelsel, wat in tenk-konfigurasies van 2 000, 4 000 en 6 000 liter beskikbaar is.

Die EasyFert volg die implementraam en kan danksy sy artikulerende wiele tot 800 mm onafhanklik beweeg wanneer ongelyke terrein of obstruksies voorkom. Dit verseker uitstekende grondvolging en stabiliteit.

Boere kan saadbedvoorbereiding én kunsmistoediening in een werkgang voltooi, wat tyd bespaar, brandstofverbruik verminder en die aantal trekkergange beperk.

“So slaan jy twee vlieë met een klap, omdat plantvensters al hoe kleiner raak, bied hierdie kombinasie ’n groot voordeel,” meen Ruan.

Presiese kunsmisplasing

Een van die indrukwekkendste tegnologieë op die implement is die Venturi-kunsmis uitmeetmeganisme.

Anders as baie tradisionele stelsels wat van geslote sisteme gebruik maak, gebruik die EasyFert ’n Venturi-beginsel waar lug deur die uitmeter beweeg om ’n vakuum te skep. Die lug versnel die kunsmis totdat dit by die vlekvryestaal-lugverspreider kom, waar die lug uitgelaat word en die kunsmis deur gravitasie presies op die verlangde plek geplaas word.

Hierdie stelsel bied verskeie voordele:

  • Geen kunsmis word uit die voor geblaas en vermors nie.
  • Kunsmis word akkuraat geplaas waar die plant dit benodig.
  • Die stelsel is nie afhanklik van ’n geslote tenksisteem nie en funksioneer selfs wanneer die deksel oop is.

Hierdie spesifieke demonstrasie-eenheid beskik oor drie kunsmisuitlate wat kunsmis op drie verskillende vlakke in die grond kan plaas. Boere kan ook verskillende uitlaatkonfigurasies kies om by hul spesifieke behoeftes aan te pas.

Die sy-aansig van Rula Agri se 8-ry-Striptill-eenheid met EasyFert-kombinasie wys die geïntegreerde ontwerp wat grondbewerking, presiese kunsmistoediening en saadbedvoorbereiding in een doeltreffende werkgang moontlik maak.

Volledig aanpasbaar

Rula Agri se filosofie is eenvoudig: elke boerdery verskil. Die Striptill kan as ’n los implement aangekoop word, of as deel van ’n volledige voorplantkombinasie met EasyFert, sleepbare model (tow behind) of raamgemonteerde kunsmistelsels.

Verskillende rolleropsies is beskikbaar, waaronder:

  • ’n Sandroller vir ligter gronde.
  • ’n Meer aggressiewe roller om kluite effektief op swaarder gronde op te breek.

Die rollerdruk kan ook verstel word om by wisselende grondtoestande aan te pas.

Boere kan verder kies tussen ’n vaste raam of ’n stackfold-raam, terwyl groter bemestingsbehoeftes deur die Camelback-reeks aangespreek word. Die Camelback kan tot 10 500 liter kunsmis vervoer en selfs verskillende kunsmisprodukte gelyktydig hanteer.

Rula Agri bied verskillende rolleropsies om by uiteenlopende grondtoestande aan te pas.

Plaaslik vervaardig, plaaslik ondersteun

Vir Rula Agri lê hul grootste voordeel nie net in die tegnologie nie, maar ook in hul vermoë om vinnig op boere se behoeftes te reageer. Omdat Rula Agri se implemente plaaslik in Honeydew, Johannesburg, by hul fabriek vervaardig word, is aanpassings, onderdele en tegniese ondersteuning maklik beskikbaar.

“Ons is Suid-Afrikaans. Ons verstaan die uitdagings waarmee ons boere daagliks werk en daarom kan ons implemente ontwerp wat presies by hul behoeftes pas,” meen Ruan.

Slim tegnologie wat saam met die boer werk

Rula Agri se nuwe Striptill-EasyFert-kombinasie bewys dat moderne bewaringsboerdery nie net oor grondbewerking gaan nie, maar oor slimmer, meer doeltreffende werkvloeie.

Met presiese kunsmisplasing, minimale onderhoud, hidrouliese tandbeheer en die vermoë om elke implement volgens die boer se behoeftes saam te stel, bied Rula Agri ’n oplossing wat boere help om elke hektaar meer winsgewend te benut.

Vir boere wat hul plantvenster optimaal wil benut sonder om op gehalte of presisie in te boet, bied hierdie Suid-Afrikaans vervaardigde implement ’n praktiese oplossing wat gebou is vir plaaslike omstandighede.

Vir meer inligting, skakel Rula Agri by 011-795-1040 of besoek hul webwerf by https://rula-agri.co.za/

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0