NAMPO 2024: Case IH maak presisieboerdery maklik

IMG_4181
Diederik Husselmann van CNH is opgewonde oor hulle nuwe verbindingskamer.
Die nuwe verbindingskamer wat Case IH by NAMPO 2024 bekendgestel het, het aan boere die geleentheid gegee om te sien hoe die wêreldklasstelsel werk en hoe boere by die sukses van presisieboerdery kan baat.
Schalk Oosthuizen, ‘n presisieboerderyspesialis verduidelik hoe Case IH se nuwe tegnologie werk. Raven-tegnologie se ligste en mees kostedoeltreffende 7-duim-skerm, CR7, is maklik om te gebruik en sluit die 500S-ontvanger in. Schalk verduidelik dat die 500S – ‘n intreevlak GNSS-ontvanger wat GPS-instruksies volg – ’n minimum akkuraatheid van tien sentimeter het. Dit gee aan boere die gemoedsrus dat elke lyn en kurwe in die boerderyproses gemerk gaan word. Hierdie eienskap is gesog, omdat die subskripsie nie jaarliks hernu hoef te word nie, maar steeds ’n lewenslange waarborg van tien sentimeter behou. Hierdie stelsel kan in enige trekker geïnstalleer word, maak nie saak van die ouderdom of fabrikaat nie en enige werktuig kan dit gebruik om die akkuraatheid van toediening te verhoog.

Schalk Oosthuizen, ‘n presisieboerderyspesialis van Case IH verduidelik hoe die CR7-tegnologie werk.
Nico Myburgh, verantwoordelik vir presisietegnologie in die Midde-Ooste en Afrika, neem oor by Schalk om oor die meer gevorderde tegnologie van die Raven CR12-skerm te praat. Die skerm bied meer funksies teenoor die CR7 omdat dit groter is, meer presisietoedienings kan hanteer en meer verwerkingsvermoëns het. Die CR12 spesialiseer in akkurate, komplekse roetebeplanning en is geskik vir boere wat ongelyke terrein het met rye wat nie reguit is nie. Die outostuur en generiese hidrouliese beheer wat in enige trekker geïnstalleer kan word, was op spesiale aanbod. Die RS1-ontvanger – ‘n volledig stuuroplossing wat GNSS, ‘n modem en outostuur in ‘n verbindingsoplossing kombineer – loop hand-aan-hand met die CR7.
Diederik Husselmann, naverkoop-gekoppeldedienstebestuurder by CNH Industrial Suid-Afrika, vertel met opwinding dat dit die eerste keer is wat hulle die verbindingskamer by NAMPO uitstal. Dit bestaan uit ’n universele beheerstelsel (UCR) wat die hele Case IH-vloot in Suid-Afrika moniteer. Hy vertel dat al die boere se trekkers op hierdie interne stelsel vertoon en wanneer daar ’n waarskuwing verskyn in verband met ‘n masjien kan die naaste handelaar of tak, sowel as die boer dadelik gekontak word om die probleem proaktief op te los.

Nico Myburgh van Case IH praat oor die Raven CR12.
Boere kan ook AFS gebruik – ‘n gevorderde boerderystelsel wat brandstofverbruik, ligging van masjinerie en foutkodes moniteer. Hierdie ontwikkeling help dat masjinerie aan die werk bly en dat boere dadelik gehelp kan word. Afstandbeheer laat die handelaar toe om self in die boerderystelsel in te gaan sodat enige waarskuwings hanteer of probleme opgelos kan word.
Die vernuwing en passie vir presisieboerdery wat skitter in Case IH se stelsels en produkte, bring opwinding en afwagtig vir die toekoms van boerdery in Suid-Afrika.
Vir meer inligting oor alles van CASE IH, besoek hulle webtuiste by www.caseih.com.