Van ’n klein begin tot die vierde grootste saadmaatskappy in die wêreld

NAM08088
Jacques Breytenbach (links), Limagrain Field Seeds Suid-Afrika se operasionele bestuurder, en Eugene Muller, besturende direkteur vir Limagrain Field Seeds in Suid-Afrika, gesels oor Limagrain se voetspoor in Suid Afrika.
Deesdae is Limagrain Field Seeds die naam op almal se lippe. In Suid-Afrika het hulle hul daartoe verbind om boere te ondersteun met dieselfde waardes waarmee hierdie maatskappy 65 jaar gelede gestig is.
Limagrain Field Seeds is deel van ’n Franse koöperasie wat in die Auvergne-streek in Frankryk gebaseer is met bedrywighede in 49 lande. Franse boere het oorspronklik die koöperasie gestig om volhoubaarheid vir die boere in hul omgewing te verseker weens die moeilike omstandighede vir boerdery. Die besigheidsmodel het egter so uitgebrei dat Limagrain vandag die vierde grootste saadmaatskappy in die wêreld is.

Jacques Breytenbach (links), Limagrain Field Seeds Suid Afrika se operasionele bestuurder, en Eugene Muller, besturende direkteur vir Limagrain Field Seeds in Suid-Afrika, gesels oor Limagrain se voetspoor in Suid Afrika.
Limagrain vestig wortels in Suid-Afrika
Eugene Muller is die besturende direkteur vir Limagrain Field Seeds in Suid-Afrika en hy vertel dat Limagrain weet wat boere benodig, omdat die maatskappy deur boere gestig en uitgebrei is.
“Ek dink die belangrikste ding om te onthou is dat Limagrain nie gestig is om ’n wins te maak nie. Die boere wat die koöperasie bedryf is deel van die waardeketting, so hulle weet wat die boere op die grond benodig.Hulle ken die uitdagings,” sê hy.
Onder leiding van hierdie boere verstaan Limagrain wat benodig word om volhoubaar te boer en voedselsekerheid te verkry. Dit wil sê dat Limagrain vandag ’n volledige pakket gewasse vir boere beskikbaar stel.
Hulle fokus op navorsing om te verseker dat boere by Limagrain net die beste genetika kry.
“In Suid-Afrika pluk boere reeds die vrugte van Limagrain se harde werk. Ek verwys nou sommer na ons mees onlangse ontwikkelings, soos ons nuwe koringkultivar wat ons in die Wes-Kaap vrygestel het. Ons sien reeds die ongelooflike groei, potensiaal en optimisme by boere rondom hierdie kultivar.
“Dieselfde kan gesê word vir ons sonneblomme: hoewel dit nog nie so bekend is in Suid-Afrika nie, is ons sonneblomme reeds besig om ’n groot impak in die res van Afrika te maak,” vertel Eugene.

Limagrain se wit mielies.
’n Bydrae wat ’n verskil maak
Wanneer Eugene aan landbou dink, sê hy is dit eenvoudig: ’n boer kan nog plant sonder kunsmis, maar hy kan nie plant sonder saad nie. Daarom, sê hy, is genetika die basis van hul besigheid.
“Ek glo dit is wat ons anders maak as ander multinasionale maatskappye: ons fokus uitsluitlik op saad. Daar is geen ander fokus op chemie of enigiets anders nie.
“Ons herbelê wêreldwyd en ook hier in Suid-Afrika elke jaar 15% van ons totale omset in navorsing om seker te maak dat ons die regte genetika beskikbaar het. Genetika wat aangepas is vir die omstandighede wat boere in die gesig staar sodat hulle volhoubaar en winsgewend kan boer. Ek dink dit is waarskynlik die grootste bydrae wat ons kan maak,” vertel Eugene.
Limagrain gaan egter ook ’n stap verder deur seker te maak dat hulle ’n pad saam met boere stap. Hulle het ’n sterk tegniese span wat advies gee en gereeld plase besoek.
“Ons wil verseker dat ons die uitdagings saam met die boere aanpak en help om oplossings te vind,” sê Eugene.
Hy sê dit is vir hom lekker om by boeregeleenthede soos NAMPO skouers te skuur met Limagrain se kliënte en selfs potensiële kliënte wat weet dat slegs Suid-Afrikaners, wat hul unieke probleme verstaan, betrokke is by Limagrain..
“Ons verstaan die uitdagings, soos pryse, wanneer ek maar net dink aan die besonder moeilike seisoene wat boere die laaste ruk moes deurmaak. Dit was vir Limagrain ook moeilik, maar selfs deur moeilike tye het ons dit moontlik gemaak om ons pryse te verlaag. Dit wys werklik hoe ver ons gaan om dit vir boere moontlik te maak om suksesvol en winsgewend te wees,” verduidelik Eugene.

In die Noord-Kaap floreer Limagrain se lusernkultivars.
Verbintenis tot Suid-Afrikaanse boere
Eugene vertel dat Limagrain Suid-Afrikaanse boere wil bystaan en daarom doen hulle soveel as moontlik om die regte produkte en dienste aan boere te verskaf. Hulle is ook altyd oop vir voorstelle, aangesien boere immers die voete op die grond is en vir hulle meer duidelikheid kan gee oor wat benodig word om suksesvol in Suid-Afrika te boer.
“ ’n Derde van die totale omset van Limagrain Field Seeds kom uit vennootskappe, so ons is daar om saam met die boer te werk,” vertel hy.
Limagrain werk op ’n eindpunt-tantième-stelsel wat verseker dat hulle as eienaar van die saadgenetika ook ’n regmatige deel van die inkomste kry om te kan aanhou om beter genetika na die mark te bring.
Dus vra hulle dat hul kliënte verklaar dat dit Limagrain-saad is wanneer hulle hul soja- of koringoes aan die silo’s lewer.
“Ek glo dit is ’n goeie voorbeeld van hoe ons vennootskappe hand aan hand gaan met ons inkomste om weer ’n beter produk vir die boer te lewer,” verduidelik Eugene.

Limagrain se koring staan hoog in die Kaap.
Suid-Afrikaanse gewasse
Wanneer daar spesifiek na Limagrain se Suid-Afrikaanse gewasse gekyk word, sê Eugene dat mielies, soja, sonneblom en koring hul sleutelgewasse in die land is. Hulle bied egter ook strategiese gewasse soos lusern en hawer, asook hul weidingsgewasse soos raaigras.
“In daardie pakket dink ek maak ons dit moontlik om vir die boer ’n algehele oplossing te bied vir beide die somer- en winterseisoen.”

Limagrain sorg vir voete op die grond sodat hulle eerstehands kan leer wat boere se behoeftes is.
Die toekoms van Limagrain
Limagrain is nie ’n maatskappy wat stilstaan nie – hulle hou hul oog konstant op die toekoms. Eugene sê soms klink dit soos ’n plaat wat vashaak, maar verbeterde genetika is heel bo aan Limagrain se lys.
Limagrain wil ook hul voetspoor in internasionale landbou verbreed en ’n groter markaandeel behaal deur verder uit te brei en winsgewendheid te verseker – nie net vir hulself nie, maar ook vir boere.
“Ek dink winsgewendheid en groei is die kerngedagtes. Limagrain is hier om te bly, in Suid-Afrika maar ook in die res van Afrika. Van my kant af wil ek baie sterkte sê vir die boere daarbuite. Ons weet dit is uitdagende realiteite wat ons almal in die gesig staar, maar saam sal ons die wa deur die drif trek.
“Ons boere het ’n manier om nie te lank te gaan lê nie,” sê Eugene.

Limagrain se geel mielies.
Indien jy meer oor Limagrain wil leer, besoek gerus hul webstuiste by https://lgseeds.co.za/