Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 22nd July 2026

Blommeboerdery: Waar kleur, biodiversiteit en winsgewendheid bymekaarkom

By 4 min read
873 words

red-pincushion-protea-plant-2026-03-15-23-32-06-utc

Suid-Afrika is een van die wêreld se voorste produsente van beide inheemse en uitheemse blomme. Met uiteenlopende klimaatstoestande, ryk biodiversiteit en gevestigde uitvoermarkte speel die blommebedryf ’n belangrike rol in die land se landbou-ekonomie. Die bedryf voorsien nie net die plaaslike mark van vars snyblomme nie, maar voer ook groot hoeveelhede blomme na internasionale bestemmings uit.

’n Oorsig van die Suid-Afrikaanse blommebedryf

Die Suid-Afrikaanse blommebedryf bestaan hoofsaaklik uit twee organisasies:

  • Cape Flora SA, wat die produksie en uitvoer van inheemse snyblomme soos proteas en fynbos verteenwoordig.
  • Die Suid-Afrikaanse Blomkwekersvereniging (SAFGA), wat verantwoordelik is vir uitheemse snyblomme soos rose (Rosa rubiginosa), lelies (Lilium) en krisante (Chrysanthemum).

SAFGA, wat uit die laat 1940’s dateer (oorspronklik die Suid-Afrikaanse Bolkwekersvereniging)ondersteun boere deur middel van tegniese opleidingsdae, vergaderings en deelname aan internasionale handelskoue.

Die bedryf se geskiedenis strek terug na 1948 met die stigting van die Multiflora Blommemark in Johannesburg, wat vandag steeds die grootste blommeveiling in Afrika is. Ongeveer 40% tot 50% van Suid-Afrika se snyblomme word deur hierdie veilingstelsel bemark, terwyl die res direk aan groothandelaars, supermarkte en uitvoerders verkoop word.

Belangrike produksiegebiede

Wes-Kaap

Die Wes-Kaap is wêreldbekend vir sy inheemse blomproduksie. Die streek se Mediterreense klimaat bied ideale toestande vir proteas (Proteaceae), keurbosse (leucadendrons), speldekussingblomme (leucospermums) en talle ander fynbosspesies. Die unieke biodiversiteit van die Kaapse floraryk maak die streek een van die belangrikste bronne van inheemse snyblomme ter wêreld.

Noordelike provinsies

Die noordelike dele van Suid-Afrika fokus hoofsaaklik op die produksie van uitheemse snyblomme soos rose, lelies en krisante. Hierdie gewasse word dikwels onder beheerde toestande verbou om gehalte en konstante produksie te verseker.

Couple of young diverse florists working together inside their plant nursery and sorting flower pots in a wooden box. Cultivating flower plants potted in a greenhouse. Multiracial colleagues

Ander produksiegebiede

Verskeie plase regoor die land, soos Oak Valley Estate in Elgin en Khiza Farm in Knysna, produseer ook snyblomme, soos sonneblomme (helianthus) deur middel van intensiewe verbouingsmetodes om die opbrengs per hektaar te verhoog.

Die ekonomiese waarde van blomme

Die Suid-Afrikaanse blommemark bedien plaaslike sowel as internasionale kliënte. Die land se uiteenlopende mikroklimate en oorvloedige sonskyn maak produksie regdeur die jaar moontlik. Die bedryf bestaan uit groot kommersiële ondernemings sowel as kleiner produsente, en word gesteun  deur navorsing, en moet aan volhoubare boerderypraktyke en streng gehaltestandaarde voldoen.

Volgens markvooruitskattings kan die plaaslike blommark van 2024 tot 2029 teen meer as 7% per jaar groei, aangedryf deur toenemende verbruikersvraag na sierplante, eksotiese blomvariëteite en volhoubaar geproduseerde produkte.

Uitvoer skep groot geleenthede

Ongeveer 80% van Suid-Afrika se uitvoere van blomme bestaan uit proteas en fynbos, terwyl die res hoofsaaklik krisante en lelies insluit. Die belangrikste uitvoerbestemmings sluit Europa, Engeland, Rusland, Japan en Amerika in.

Hoewel rose die gewildste blom op die plaaslike mark is, word min Suid-Afrikaanse rose uitgevoer omdat boere in Kenia en Ethiopië die Europese mark oorheers. Suid-Afrikaanse krisante geniet egter sterk aanvraag in die Midde-Ooste. Die silverdollar-bloekom (Eucalyptus cinerea), leerblaarvaring (Rumohra adiantiformis)en sekere grassoorte het ook gewildheid in Europese markte verwerf.

Die meeste uitvoerders is strategies naby internasionale lughawens, soos die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe en die Kaapstad Internasionale Lughawe geleë om logistieke doeltreffendheid te verseker.

Hoe word blomme verbou?

Snyblomverbouing is ’n intensiewe boerderystelsel wat die noukeurige bestuur van plant-, ontkiemings- en oessiklusse vereis. By sonneblomme word tonnels byvoorbeeld gebruik om sade teen voëls te beskerm, terwyl blomme vroegoggend geoes word om uitdroging te voorkom. Moderne tegnologieë wat betref genetiese verbetering, naversorging en volhoubare besproeiing speel ’n belangrike rol in die bedryf.

Gewilde blomsoorte vir kleiner boere sluit sonneblomme, Jakobregops (Zinnia elegans), kosmos (Cosmos bipunnatus) en pronkertjies (Lathyrus odoratus) in, wat relatief maklik verbou kan word en in groot aanvraag is.

Meer as net snyblomme

Blommeboerdery bied verskeie inkomstegeleenthede buiten die verkoop van vars snyblomme.

Boere kan:

  • Blomsaad oes en verkoop.
  • Essensiële olies uit geurige blomme soos rose en laventel (Lavandula) produseer.
  • Gedroogde blomme bemark.
  • Nuwe kultivars ontwikkel deur teling.
  • Aan blomkompetisies en internasionale blommeskoue deelneem.

Sommige boere verhoog hul winsgewendheid deur die hele waardeketting te beheer: van kweek en produksie tot bemarking en uitvoer. Hierdie vertikale integrasie help om koste te verminder en waarde tot die eindproduk te voeg.

Gevolgtrekking

Blommeboerdery in Suid-Afrika beslaan veel meer as net die produksie van mooi blomme. Dit is ’n dinamiese landbousektor wat waarde toevoeg deur middel van uitvoere, werkskepping, biodiversiteitsbewaring en ondernemingsgeleenthede. Die regte bestuur, marktoegang en fokus op gehalte kan blommeboerdery ’n winsgewende nis vir beide kommersiële en opkomende boere maak.

Bronnelys

Africa. (n.d.) A guide to flower farming in South Africa. https://africa.com Bonafide Research. (n.d.). South Africa floriculture market overview, 2029. https://www.bonafideresearch.com

Flower Companies. (n.d.). Flower growers in South Africa. https://www.flowercompanies.com

Multiflora Flower Market. (n.d.). How flower auction works. https://www.multiflora.co.za

South African Flower Growers Association. (n.d.). Flower industry. https://www.safga.co.za

South African Flower Growers Association. (n.d.). Industry. https://www.safga.co.za

Start Now. (n.d.). How to start a successful flower farming operation. https://startnow.co.za

The Flower Industry in South Africa. (n.d.). The flower industry in South Africa.  https://southafrica.co.za/the-flower-industry-in-south-africa.htmlVantage Market Research. (n.d.). South Africa floriculture market (2022–2031): Revenue & companies. https://www.vantagemarketresearch.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0