Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 17th February 2025

Ermelo se eerste Hooidag: ՚n Triomf vir die landbougemeenskap

By 4 min read
774 words

IMG_0977

Trotse lede van die Ermelo-Oos Boerevereniging na afloop van ‘n suksesvolle eerste Ermelo Hooidag.

Wanneer drome en deursettingsvermoë ontmoet, word geskiedenisgemaak – en dit is presies wat gebeur het tydens die eerste Ermelo Hooidag op die plaas Smitsfield. Met meer as 150 boere en belanghebbendes wat deur die hekke gestroom het, het die dag alle verwagtinge oortref en ՚n sterk fondament gelê vir ՚n blink toekoms.

՚n Droom wat werklikheid geword het

Vir Gerhard Grobler, ondervoorsitter van die Ermelo-Oos Boerevereniging en eienaar van die plaas Smitsfield, was hierdie dag se sukses ՚n droom wat sewe jaar in wording was. “Die idee om ՚n hooidag aan te bied, het lank reeds in my gedagtes gedraai, en vandag het dit uiteindelik gestalte gekry. Ons het gehoop vir 50 mense, maar die fenomenale opkoms wys dat daar ՚n groot behoefte aan só ՚n geleentheid is,” sê hy.

Hooimaak is vir boere in die Hoëveld van uiterste belang. “Die meeste boere in die omgewing het gemengde boerderye, vee en saaiery met suurveld, en dit is van die uiterste belang vir ons om hooi te maak, anders kom ons nie deur die winter nie,” vertel hy.

Praktiese demonstrasies en vernuwende tegnologie

Die dag was propvol demonstrasies van die voorste hooitoerusting deur prominente handelsmerke soos New Holland, Case IH, Rovic, Jupidex, Massey Ferguson, JWL Landbou en meer. Hierdie demonstrasies het boere die kans gegee om tegnologie in aksie te sien en ingeligte besluite te neem oor hulle eie hooibedrywighede.

“Met só ՚n suksesvolle afskop is daar geen twyfel dat die Ermelo Hooidag ՚n belangrike dag op die landboukalender gaan word nie – ՚n plek waar boere, verskaffers en kundiges jaarliks kan saamkom om kennis en vernuwende tegnologie te deel. Dagboek solank jou kalender vir volgende jaar se Ermelo Hooidag.”

Kverneland se 9542-kraghark wys hoe die gras flink en vinnig gehark word.

Derrick Coetzee, produkspesialis van New Holland, meen dat dae soos hierdie baie belangrik is vir verskeie handelsmerke om masjinerie in dieselfde toestande teen mekaar op te weeg en om aan boere te wys wat die masjinerie aan hulle kan bied om ‘n beter besluit te kan neem. Derrick sê ook dat dit vir New Holland Suid-Afrika belangrik is om deel te wees van dae soos hierdie omdat dit blootstelling vir hulle as New Holland in die mark gee. Benewens die indrukwekkende demonstrasies, het verskeie uitstallers hulle produkte en kundigheid ten toon gestel, wat boere die geleentheid gebied het om netwerke te bou en waardevolle insigte te verkry.

Die toekoms van landbou

Lion du Plessis, president van Agri Mpumalanga vertel: “Dae soos hierdie is nie net belangrik vir boere om ingeligte besluite te kan neem nie, maar dit bied ook aan hulle die geleentheid om ‘n wye verskeidenheid toerusting in aksie te sien.” Hy sien ook boeredae as ‘n belangrike geleentheid in boeregemeenskappe omdat dit as ‘n spreekbuis op grondvlak dien.

“Ek dink landbou in Suid-Afrika het nie ‘n toekoms sonder georganiseerde landbou nie, en dat strukture soos Agri SA belangrik is om landbou en die toekoms van landbou te verseker,” sluit hy af.

Benewens die indrukwekkende demonstrasies, het verskeie uitstallers hulle produkte en kundigheid ten toon gestel.

TWK se betrokkenheid

Charles Eagar, takbestuurder van TWK Ermelo, vertel dat TWK as maatskappy toegewyd is daaraan om betrokke te wees by die gemeenskap en dorp waarin hulle gevestig is – nie net in die landbousektor nie, maar ook in die groter gemeenskap.

“TWK se hart lê in die landboubedryf. Ons ondersteun boereverenigings soos Ermelo-Oos omdat hulle werklik ‘n verskil in die gemeenskap maak. Alles wat hulle aanpak, is suksesvol, en dit is vir ons ‘n voorreg om hande te vat met Ermelo-Oos Boerevereniging,” sê hy.

Hy beklemtoon dat dae soos Ermelo Hooidag ‘n waardevolle platform skep om TWK se kliëntebasis te versterk en vir nuwe besigheidsgeleenhede. “‘n Dag soos hierdie gee handelsmerke – ons s’n ingesluit, die geleentheid om produkte en dienste aan die regte teikengehoor bekend te stel en sodoende ingeligte besluite moontlik te maak.”

Oor die sukses van die dag sê hy: “Die eerste Hooidag was ‘n groot sukses! Die opkoms was uitstekend, nie net vanuit die oostelike dele van Ermelo nie, maar ook van omliggende gebiede soos Chrissiesmeer en Wakkerstroom. Ons as TWK is baie tevrede met die dag en sy uitkoms.”

Krone se Vari Pack V165-rondebaler maak netjiese, stewige bale.

՚n Nuwe tradisie word gebore

Die oorweldigende sukses van hierdie eerste Ermelo Hooidag dui daarop dat dit slegs die begin is. “Maak gereed en hou julle dagboeke oop – hierdie gaan ՚n jaarlikse instelling word!” sê Gerhard geesdriftig. Gerhard bedank ook in besonder vir TWK, die hoofborg van die dag, asook al die boere wat die dag bygewoon het en al die fabrikate en uitstallers wat betrokke was by die dag.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0