Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 9th October 2026

Cheetah Conservation Botswana baan die weg vir vreedsame bestaan tussen veeboere en uiters bedreigde jagluiperds: deel 2

By 5 min read
996 words

Botswana, Kgalagadi Transfrontier Park, Cheetahs, Acinonyx Jubatus, drinking

Botswana, Kgalagadi Transfrontier Park, Cheetahs, Acinonyx Jubatus, drinking

“Roofdiere is onlosmaaklik deel van die ekosisteem.”

Vir Cheetah Conservation Botswana (CCB) begin die beskerming van die jagluiperd nie binne ’n omheinde reservaat nie, maar op die plase waar mense en roofdiere dieselfde landskap deel.

Botswana se jagluiperds kan nie bloot tot beskermde gebiede beperk word nie, omdat soveel van hulle in landbougebiede en ander werkende landskappe saam met mense leef. Hoe lyk suksesvolle naasbestaan in die praktyk? En hoe naby is ons daaraan om dié model op ’n skaal toe te pas wat Botswana se jagluiperdbevolking vir die toekoms kan beveilig?

Botswana is bevoorreg met uitgestrekte, oop landskappe wat grootliks onomhein is. Dit is presies wat jagluiperds – ’n spesie wat oor enorme gebiede beweeg – nodig het om op sowel individuele as bevolkingsvlak te oorleef.

“Jagluipers het ’n buitengewoon lae genetiese diversiteit, en daarom is dit van kardinale belang dat bevolkings oor landscape heen met mekaar verbind bly,” sê Jane Horgan, ’n navorser, toesighouer van Farming for Conservation (FFC) en PhD-kandidaat by CCB. “Dit is noodsaaklik om die spesie se voortbestaan nie net op nasionale nie, maar ook op streekskaal te verseker.”

Omdat jagluiperds gewoonlik beter in gebiede aard waar leeus en gevlekte hiënas nie voorkom nie, kom hulle nie in groot getalle in beskermde gebiede voor nie. Dít is waarom landbougrond so belangrik vir jagluiperdbewaring is, sê Jane. “Die gebiede tussen beskermde gebiede moet ruimte bied waar jagluiperds en ander wild kan beweeg en leef, sodat die verbinding tussen verskillende wildbevolkings behoue kan bly.”

Suksesvolle naasbestaan beteken dat spesies wat oor groot gebiede beweeg, soos jagluiperds en wildehonde, deur landbougebiede kan beweeg sonder dat boere vee verloor. Volgens Jane kan dit bereik word deur vee op plase doeltreffend te beskerm én vrylopende prooispesies soos koedoes, steenbokke, duikers en ander wild te bewaar. Waar daar volop natuurlike prooi is en vee goed beskerm word, sal jagluipers eerder wilde prooi as vee jag.

CCB besorg oor effek van klimaatsverandering op konflik tussen mens en dier

 “Konflik met roofdiere in Botswana neem altyd gedurende die droë seisoen toe. Dit is as gevolg van ’n kombinasie van faktore, veral die afname in wild as prooi, asook vee wat weens ’n swakker kondisie verder moet rondtrek om genoeg weiding te vind en sodoende meer blootgestel is aan roofdiere,” vertel Jane.

Daarom is kwessies soos klimaatsverandering en El Niño ’n groot bron van kommer vir CCB. Die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in Botswana het sake verder bemoeilik vanjaar. Met ’n moontlike droogte wat dreig en geen geleentheid om oortollige beeste te bemark nie, sal boere ’n te hoë veebesetting hê wanneer die droogte toeslaan. Dit sal oorbeweiding vererger wat waarskynlik konflik met roofdiere tot gevolg sal hê.

“In die verlede het ons beginsels van veldbestuur en klimaatslimboerdery by ons gesprekke met boere ingesluit. Die doel was om praktiese kennis te deel oor hoe goeie weiveldbestuur kan help om konflik tussen die mens en wild te beperk,” sê Jane.

“Onlangs het ons egter toenemend saam met boere begin werk om hulle te help om die uitdagings van uiterste klimaatstoestande die hoof te bied. Ons leer hulle byvoorbeeld hoe om goedkoop, doeltreffende aanvullingsvoer vir hul vee te maak om moeilike droë seisoene te oorbrug. Só kan die kondisie van die kudde op ’n hoë vlak gehou word en is vee tydens droogtes minder kwesbaar.”

Dit is belangrik om te onthou dat roofdiere onlosmaaklik deel van die ekosisteem is – ’n ekosisteem wat wild, klimaat, vee én mense insluit. “Wanneer bestuursmaatreëls op plase ontwikkel word om die gevolge van klimaatskokke te hanteer, is dit dus belangrik om ook roofdiere in ag te neem. Só kan die risiko van veeverliese beperk word,” sê Jane.

Verkeerde opvattings oor jagluiperds bedreig bewaring

Meeste jagluiperds maak nie vee dood nie

Wanpersepsies oor jagluiperds is veral ’n groot struikelblok in bewaringspogings. “Ek wens boere wil besef dat jagluiperds nie naastenby so ’n groot bedreiging is as wat baie mense dink nie. Ons data uit Botswana het getoon dat vee slegs sowat 6% van die gemiddelde jagluiperd se dieet uitmaak en dis heelwat minder as wat die meeste boere sou verwag,” sê Jane.

Die werklikheid is dat die meeste jagluiperds nie vee doodmaak nie, omdat hulle nie snags aktief is nie. Daarom is dit nie net sinneloos om jagluiperds onoordeelkundig dood te maak nie, dit kan die konflik tussen mense en wild eerder vererger.

“Wanneer ’n territoriale jagluiperd wat nie vee vang nie doodgemaak word, kan sy gebied beskikbaar word vir jagluiperds wat om een of ander rede voortdurend aan die beweeg is. In plaas van een jagluiperd wat hom goed gedra, kan jy dus skielik ’n paar onbekende, rondtrekkende jagluiperds op jou plaas hê, sê Jane, “en dié rondtrekkende jagluiperds is juis meer geneig om vee te vang.”

Jagluiperds beweeg oor reusegebiede en kan tot 35 km per dag aflê. As ’n boer ewe skielik vee begin verloor, is dit waarskynlik nie ’n territoriale jagluiperd maar eerder “rondloperjagluiperds”. Wanneer ’n boer dan twee dae later ’n jagluiperd skiet, kan die ware sondebok dan reeds 70 km verder wees.

Boere besef nie erns van afname in jagluiperdgetalle nie

Boere dink dikwels daar is volop jagluiperds omdat hulle hul gereeld op hul plase sien. Wat die boere dalk nie besef nie, is dat jagluiperds, hoewel hulle in sekere gebiede nog in redelike groot getalle voorkom, wêreldwyd besig is om te verdwyn.

“Dus is dit nou belangriker as ooit om die aantal jagluiperds wat weens konflik en vergelding doodgemaak word, te probeer verminder, want hulle tyd is vinnig besig om al minder te raak.

“Daarom is ons werk met boere en ons opvoedingsinisiatiewe wat hulle leer van vreedsame naasbestaan, uiters belangrik is. Nou meer as ooit tevore,” sê Jane.

Vir meer inligting en/of navrae, stuur ’n e-pos aan info@cheetahconservationbotswana.org of kontak Connie Modise, Farming for Conservation-koördineerder, by cmodise@cheetahconservationbotswana.org. Volg CCB ook op Facebook en Instagram.

Hierdie is die tweede deel van ’n reeks van drie artikels oor die noodsaaklike werk wat Cheetah Conservation Botswana doen.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0