Agri Afrika Cross-Till: Drie bewerkingsmetodes, een werktuig

Cross-Till
Geen twee lande is dieselfde nie, selfs op dieselfde plaas kan grondtoestande, plantreste en bewerkingsbehoeftes van seisoen tot seisoen verskil. Daarom maak dit sin om ’n werktuig te hê wat die boer nie net tot een bewerkingsmetode beperk nie.
Agri Afrika se Legend Cross-Till is juis met dié veelsydigheid in gedagte ontwikkel. Die Cross-Till is ’n 3-in-1-bewerkingswerktuig waarmee vertikale, minimum- én konvensionele bewerking met dieselfde werktuig gedoen kan word.
Die geheim lê grootliks in die verstelbare snyhoek van die werktuig. Met ’n snyhoek wat tussen 0° en 10° verstel kan word, kan die Cross-Till aangepas word volgens wat die boer met ’n spesifieke land wil bereik.
Van plantreste behou tot deeglik bewerk
Wanneer die Cross-Till teen ’n hoek van 0° tot 3° werk, word dit vir vertikale bewerking gebruik. Plantreste word grootliks bo-op die grond gelaat, terwyl die grond bewerk word sonder om ongewenste verdigtingslae te skep. Die plantreste op die oppervlak help terselfdertyd om vog te bewaar.
Verstel die hoek na 3° tot 6°, en die Cross-Till beweeg na minimum bewerking. In hierdie verstelling word plantreste vasgewerk en onkruid beheer, terwyl die grond steeds bewerk word met die doel om die vorming van digtheidslae te beperk.
Waar ’n meer aggressiewe bewerking nodig is, kan die hoek na 6° of meer verstel word vir konvensionele bewerking. Hier word plantreste in die grond ingewerk en onkruid doeltreffend aangespreek.
Dit beteken dat die boer nie noodwendig verskillende werktuie vir elke bewerkingstrategie nodig het nie. Die Cross-Till kan volgens die land, gewasreste en gewenste eindresultaat aangepas word.

’n Lem wat sy werk moet doen
’n Bewerkingswerktuig is uiteindelik net so goed as sy vermoë om die grond binne te dring en konsekwent te werk.
Die Cross-Till gebruik ’n Razor Blade met ’n geskulpte profiel wat ontwerp is om goeie grondpenetrasie en doeltreffende bewerking te lewer. Die werktuig het ’n effektiewe snywydte van 108 mm en kan tot ’n werkdiepte van 225 mm gebruik word.
Met ’n massa van 170 kg per skyf word genoeg gewig op die snykomponente geplaas om die werktuig te help om sy werk te doen, selfs wanneer toestande meer uitdagend raak.
Die kragbehoefte word op ongeveer 10 tot 12 kW per voet aangedui, wat die boer in staat stel om ’n gepaste model by sy beskikbare trekkerkrag te pas.
Die eindresultaat tel ook
Grondbewerking gaan nie net oor wat voor aan die werktuig gebeur nie. Die toestand waarin die land agtergelaat word, is net so belangrik.
Daarom is die Cross-Till met ’n dubbele rolmandjie toegerus. Die afwaartse druk van die rollers kan verstel word om te help om ’n egalige, hoëgehalte-saadbed agter die werktuig te laat.
Dit is veral belangrik wanneer ’n boer die aantal bewerkingsgange wil beperk. As die werktuig baie werk in een gang kan doen, sal die boer later meer tyd hê en duur uitgawes op diesel kan beperk.
Nog ’n praktiese kenmerk is die Cross-Till se onderhoudsvrye laers. Die unieke sewe-lip-seëls is ontwerp om vuiligheid en materiaal uit die laers te hou en sodoende duursaamheid te bevorder.
’n Cross-Till vir verskillende boerderye
Agri Afrika bied die Cross-Till in verskeie werkwydtes aan, wat boere die geleentheid gee om die werktuig volgens hul trekkerkrag en die grootte van hul boerdery te kies.
Die reeks sluit die volgende modelle in:
- 12 voet – 3,65 m
- 15 voet – 4,57 m
- 18 voet – 5,48 m
- 25 voet – 7,62 m
- 30 voet – 9,14 m
Hierdie verskeidenheid, saam met die verstelbare bewerkingsintensiteit, maak die Cross-Till geskik vir boere wat groter buigsaamheid van een werktuig verlang.

Werk volgens wat jou grond nodig het
Daar is nie een bewerkingsmetode wat onder alle omstandighede die antwoord is nie. Die hoeveelheid plantreste, vogtoestande, onkruiddruk en die gewenste saadbed kan bepaal hoe aggressief ’n land bewerk moet word.
Dit is waar die Cross-Till se 3-in-1-benadering sy waarde wys. In plaas daarvan dat die werktuig bepaal hoe die boer moet werk, kan die boer die werktuig verstel volgens wat die land op daardie oomblik nodig het.
Dit sluit mooi aan by Agri Afrika se benadering om werktuie volgens die werklike behoeftes van die boer te bied, met die oog op betroubaarheid, laer eienaarskapskoste en die beperking van staantyd.
Vir meer inligting oor die Legend Cross-Till en die model wat die beste by jou boerdery pas, kontak Agri Afrika by 086-111-3692 of info@agriafrika.co.za