Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 8th October 2026

Rooibos maak reeds jare lank wêreldwyd opgang

By 5 min read
1038 words

No38

Die rooibosplant groei net in die Cederberg-area, sowat 250 km noord van Kaapstad. (Bron: Suid-Afrikaanse Rooibosraad)

Eeue gelede het die inheemse mense van die Cederbergstreek, sowat 250 kilometer noord van Kaapstad, die blare en takkies van ’n plaaslike struik gepluk. Hulle het soms dae lank in warm water getrek, en dit dan as ’n warm drankie geniet.

Dit is onbekend of die mens destyds bewus was van die drankie se gesondheidseienskappe, maar vandag is dit n volslae feit dat hierdie struikie uiters gesond is. Dit is een van die seldsame plante van sy soort wat nie kafeïen as ’n natuurlike afweermiddel gebruik nie, en dit staan algemeen bekend as rooibostee, een van Suid-Afrika se gewildste uitvoerprodukte.

Die plant, wat aan die fynbosfamilie behoort, groei amper uitsluitlik in die klipperige grond van die Cederberg en kan tot drie keer geoes word voordat dit weer aangeplant moet word.

In hierdie artikel kyk ons egter uit ’n ander perspektief na die rooibosplant en hoe hy op vele maniere aangewend kan word.

Rooibos word met die hand geoes met ’n sekel en sowat 50 cm vanaf die grond. (Bron: Suid-Afrikaanse Rooibosraad)

Van ’n klein oes tot wêreldwye sukses: ’n Rooibosavontuur

Voordat ons kyk na hoe en waar rooibos gebruik word, moet ons eers praat oor hoe elke sakkie rooibos begin. Sedert die laat 1800’s, toe Suid-Afrikaners rooibos as ’n kruietee begin gebruik het, tot vandag, waar duisende tonne uitgevoer word, groei die plant feitlik uitsluitlik in die Cederbergstreek.

Daar is verskillende plase wat bestuur word deur boere wie se families hul geskiedenis kan terugvoer tot die dae van hierdie wilde plantjies. In die beginjare is rooibosfynbos nie soos vandag voortgeplant nie; dit het eers begin verander namate rooibos gedurende die middel van die 1900’s gewilder geraak het.

Eers met moderner tegnologie het dit moontlik geword om plantlyne voort te plant wat in die vraag na groter oeste kon voorsien. Toe die plant nog volop in die natuur gegroei het, is alles met die hand, met ’n sekel en ’n sak, geoes. Vandag verbou boere die plante in rye, soos enige ander gewas.

Dit neem sowat ’n jaar en ’n half vir ’n plant om volgroeid te raak, waarna dit net soos in die verlede, met die hand geoes word. Spanne stap die landerye binne en sny die takke sowat 50 cm bo die grond af, bondel dit in lappe en laai dit op vragmotors of sleepwaens.

Die takke word dan fyngekap en uitgesprei om droog te word. Wat rooibostee weereens so besonders maak, is dat dit ná 12 ure droog is. Daarna word dit met stoom gepasteuriseer, verpak en regoor die wêreld vervoer.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, verduidelik dat 2025 ’n rekordjaar was: “2015 was voorheen ’n rekordjaar, maar 2025 was nog beter, met altesaam byna 11 000 ton wat uitgevoer is!”

Daar is al talle resepte met rooibos as bestanddeel, onder meer verskillende soorte tee tot roomys en ramen. (Bron: Suid-Afrikaanse Rooibosraad)

Waarheen gaan al dié tee?

In die verlede was rooibostee hoofsaaklik iets eg Suid-Afrikaans, deel van ons unieke karakter wat ’n mens eenvoudig nie aan buitelanders kon verduidelik nie. Sit saans saam met ’n boer op sy voorstoep met ’n koppie tee in die een hand en beskuit in die ander, en niks was verkeerd met die wêreld nie.

Vandag lyk dinge egter anders. Rooibostee word nie meer net in Suid-Afrika aangetref nie, en daar is ook nie meer net een handelsmerk wat met die teesakkies verbind word nie. Die drankie het vinnig veld gewen in gesondheidsbewuste lande soos Japan, waar die strewe om jonk te bly besonder belangrik is.

Dit het dus ’n reuse-impak in Japan gehad toe rooibos se kategorie van ’n gesondheidsproduk na ’n alledaagse drankie verander het. “Dit het veroorsaak dat baie mense begin eksperimenteer het om te kyk wat hulle met rooibos kan doen,” sê Adele.

Sodoende het rooibos in meer as net ’n tee ontwikkel. As ’n mens Japan vandag besoek, kan jy selfs ramen, ’n noedelsop met geurige aftreksel en verskeie bestanddele, kry wat met rooibos gemaak is.

Maar dit is nie net Japan wat rooibos ontdek het nie. In Engeland is rooibostee reeds sedert die 1970’s gewild, en daar word nou ook op nuwe maniere met hierdie eg Suid-Afrikaanse drankie geëksperimenteer, Iets soos rooibos sorbet wat ʼn gevriesde gereg is, word gemaak met ʼn rooibos aftreksel en suiker wat gevries word om ʼn nagereg te maak wat soortgelyk aan roomys, net sonder die melk.

Elders in Europa, soos Duitsland, Frankryk, en Nederland word rooibos ook al hoe bekender as gevolg van die belangrike rol wat tee in die lande al vir eeue speel.  [PT4.1]Hierdie bekendheid kan daaraan toegeken word dat produkte soos roomys en kombucha ook deur teehandelaars soos Tick Tock bekend gestel is.

Volgende maand gesels ons oor die impak van rooibostee in Suid-Afrika, hoe boere hul landerye steeds uitbrei en die besondere invloed van rooibos in Japan. Ons deel ook ander resepte wat jy dalk sal wil probeer om in die warm maande iets anders as tee te geniet en sodat jy ’n bietjie af kan koel op ’n snikhete dag .

Dit neem ongeveer 12 ure vir rooibos om uit te droog in die Afrika-son en dan kan jy ’n lekker koppie tee daarmee maak. (Bron: Suid-Afrikaanse Rooibosraad)

Probeer dié rooibosresep

Tradisionele Suid-Afrikaanse boeretee

Teen die vroeë 1900’s was rooibostee reeds onder boere en inwoners van die Kaap bekend. Die manier waarop dit berei is, het egter heeltemal verskil van vandag se metode. Daar was geen teesakkies of vinnige manier om dit te maak nie. Let wel: om die resep te volg, het jy meer as net ’n sakkie rooibostee nodig.

Bestanddele:

4 eetlepels los rooibostee

2 liter water

Opsioneel: 1 kaneelstokkie, ’n paar naeltjies of ’n paar skywe vars suurlemoen

Aanwysings:

  1. Bring tot kookpunt: Gooi die water in ’n groot kastrol of teepot en voeg die los rooibostee en opsionele speserye by. Bring dit tot kookpunt.
  2. Laat prut: Sodra dit kook, draai die hitte na die laagste verstelling sodat die tee net liggies prut.
  3. Bedien wanneer nodig: Jy kan die tee heeldag oor ’n lae hitte laat staan. Anders as swart tee word rooibos nie bitter nie, omdat dit baie min tanniene bevat; hoe langer dit prut, hoe ryker en dieper word die smaak.
  4. Bediening: Skep die tee in ’n koppie en voeg melk, heuning of suiker na smaak by.
0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0