Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 9th October 2026

AgroFors: Jou vennoot in gehaltesaad en volhoubare voeroplossings

By 5 min read
911 words

rita2000-wheat-9666681_1920

Foto: Pixabay

Elke hektaar moet ’n doel hê

Hoë insetkoste, wisselvallige klimaatstoestande en groter druk op winsgewendheid maak ’n doelgerigte gewas- en kultivarkeuse belangriker as ooit. AgroFors se fokus daarop om boere te help om saadkeuses te maak wat by hul voervloei, boerderystelsel en langertermyndoelwitte pas.

’n Hektaar kan vandag nie bloot geplant word omdat daar grond beskikbaar is nie. Dit moet ’n bepaalde rol binne die boerdery vervul.

Vir ’n melkboer kan dit beteken dat voldoende weiding van goeie gehalte beskikbaar moet wees wanneer die koeie dit die nodigste het. ’n Vleisboer kan weer ’n voergaping in die somer of winter moet oorbrug, of ekstra voer benodig om diere deur ’n kritieke produksiefase te dra. Elders is die doel dalk hooi, kuilvoer of staande voer.

In ’n wisselboustelsel kan ’n gewas of mengsel ook ’n tweede funksie vervul deur grondbedekking te verbeter, meer worteldiversiteit in die profiel te bring en ’n volgende kontant- of voergewasseisoen te ondersteun.

Die vraag is dus nie bloot wat om te plant nie, maar eerder wat daardie aanplanting moet bereik.

Dit is presies dié gesprek waarop AgroFors fokus.

Die regte gewas vir die regte behoefte

AgroFors spesialiseer in saad vir aangeplante weidings en voergewasse, met ’n uitgebreide reeks vir somer- en winterboerderystelsels.

Van lusern en grasse tot wintervoergrane, voersorghum, basterbabala en verskillende gewasse vir mengsels en dekgewasse – die fokus bly daarop om die regte opsie by die boer se boerderystelsel te laat pas.

Daar is immers nie een gewas of kultivar wat op elke plaas dieselfde rol kan vervul nie.

’n Gewas wat vinnig vestig en vroeg voer beskikbaar stel, kan waardevol wees wanneer ’n onmiddellike voergaping gevul moet word. ’n Ander opsie kan beter geskik wees waar langer produksie, hergroei of herhaalde beweiding benodig word. Waar hooi of kuilvoer die einddoel is, verskuif die klem weer na ander eienskappe.

Dieselfde geld binne aangeplante weidings. ’n Intensiewe melkboerderystelsel onder besproeiing stel ander vereistes as ’n droëland-vleisboerderystelsel. Klimaat, grondtipe, plantdatum, beskikbare grondvog, benuttingsmetode en die tyd van die jaar waarin die voer benodig word, behoort alles deel van die besluit te vorm.

Daarom is die kultivar met die hoogste totale opbrengs op papier nie noodwendig die beste keuse vir elke stelsel nie.

Die meer relevante vraag is: Lewer dit die regte hoeveelheid bruikbare voer op die tyd wanneer dit benodig word?

Meer as een antwoord op dieselfde vraag

AgroFors werk met plaaslike én internasionale telers en saadmaatskappye om toegang tot ’n breë basis van kultivars en produk-opsies te verkry.

Dit gee die onderneming die ruimte om verbeterde kultivars met spesifieke eienskappe aan te bied, maar ook mededingende kommoditeitsaad waar dit die meer toepaslike opsie vir die boer se behoefte en begroting is.

Die waarde lê dus nie bloot in hoeveel produkte op ’n lys verskyn nie. Dit lê in die vermoë om tussen die opsies te onderskei.

’n Boer wat winterweiding vroeg benodig, het nie noodwendig dieselfde kultivar nodig as iemand wat later in die seisoen produksie wil verleng nie. ’n Sorghum wat vir kuilvoer geplant word, word volgens ’n ander doel beoordeel as ’n gewas wat hoofsaaklik bewei gaan word. Dieselfde beginsel geld wanneer lusern, grasse, wintervoergrane, peulgewasse of mengsels gekies word.

Hier maak tegniese kennis en plaaslike ervaring ’n verskil.

Baie van die nuwe genetika wat in Suid-Afrika beskikbaar raak, kom uit internasionale teelprogramme. ’n Kultivar se prestasie in sy land van oorsprong vertel egter nie noodwendig die volle verhaal van hoe dit onder Suid-Afrikaanse toestande gaan reageer nie.

AgroFors ondersoek daarom nuwe produkte en kultivars en evalueer dit plaaslik. Eienskappe soos vestiging, droëmateriaalproduksie, seisoenale produksie, blomgedrag, hergroei en standhoudendheid help om ’n beter beeld te vorm van waar ’n kultivar prakties kan inpas.

Die doel is nie om bloot nuwe genetika in die mark te plaas nie, maar om beter te verstaan waar dit waarde kan toevoeg.

Voerproduksie én die groter stelsel

Goeie voerproduksie bly ’n kernvereiste in melk- en vleisproduksie, maar toenemend word daar ook gekyk na die rol wat aangeplante gewasse binne die groter boerderystelsel kan speel.

Mengsels, peulgewasse, grasse en ander dekgewasopsies kan, indien dit volgens die regte doel saamgestel en bestuur word, ’n rol speel in grondbedekking, gewasdiversiteit en wortelontwikkeling.

Dit beteken egter nie dat enige mengsel outomaties grondgesondheid gaan verbeter nie.

Net soos met voerproduksie moet die doel vooraf duidelik wees. Is die prioriteit voer? Grondbedekking? ’n Breek in die bestaande wisselbou? Meer diversiteit? Of ’n kombinasie van hierdie doelwitte?

Die samestelling en bestuur behoort daarvolgens bepaal te word.

Gehalte bly die grondslag

AgroFors is in Oudtshoorn gevestig en vorm deel van die Klein Karoo Saad Groep. Hoewel AgroFors in 2022 tot stand gekom het, steun die onderneming op dekades se ervaring binne die groep in saadproduksie, verwerking, gehaltebeheer en die bemarking van voer- en weidingsaad.

Hierdie verbintenis bied toegang tot professionele saadverwerkingsfasiliteite, tegniese kundigheid en ’n ISTA-geakkrediteerde saadlaboratorium.

Dit is belangrik, want selfs die regte kultivar kan nie sy potensiaal bereik as saadgehalte en vestiging tekortskiet nie.

Uiteindelik gaan ’n goeie saadkeuse daarom oor meer as ’n naam op ’n sak.

Dit gaan oor die boer se omgewing, die rol van die gewas in die boerderystelsel, wanneer die produksie benodig word en hoe die gewas benut gaan word.

AgroFors se uitgangspunt is eenvoudig: Begin by wat die hektaar moet bereik en kies daarvandaan die regte gewas en kultivar.

Gesels met ons oor die regte oplossing vir jou boerderystelsel by (+27)44-203-5295, stuur ’n e-pos na agrofors@kleinkaroo.com of besoek www.agrofors.co.za vir meer inligting.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0