Categories: Artikels, Hulpbronbestuur, VroueboerPublished On: 2nd August 2025

Debbie Bester: Landbou is nie net ’n besigheid nie; dit is die hartklop van ons samelewing

By 5 min read
914 words

DB Field pic

“Vroue het dikwels ’n natuurlike vermoë om empatie te wys, te luister en verhoudings te bou. Hierdie is vaardighede wat ongelooflik belangrik is in ՚n leier, veral in die landboubedryf waar menseverhoudings baie belangrik is.”

So sê die mooi, jong, slim en passievolle Debbie Bester. Sy is vanaf 1 April 2025 as Groep Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) by Senwes aangestel, gretig om ՚n verskil maak by Senwes asook in die landboubedryf.

Haar pad tot hier

Debbie is een van vyf dogters en het grootgeword in Virginia, ՚n klein dorpie in die Vrystaat. “As gevolg van finansies, kon ek nie voltyds gaan studeer het  nie en het direk na matriek by PwC begin werk en deeltyds studeer. Ek het as geoktrooieerde rekenmeester (CA) binne die minimum tydperk van vyf jaar gekwalifiseer,” voeg sy nederig by.

Debbie het nege jaar by PwC gewerk maar het besef dat sy nie ՚n tipiese ouditeur is nie.

“As Ouditeur, werk jy die heeltyd in die geskiedenis en dan kan jy nie die toekoms beïnvloed nie.”

Sy het in 2013 by Suidwes Landbou amptelik in die landboubedryf begin as Assistent-Groep Finansiële Bestuurder. Sedert 2020, na die Suidwes en Senwes  samesmelting,  het sy verskeie poste gevul.

Die afgelope drie jaar kon sy minder op finansies fokus en meer operasioneel betrokke raak by die besigheid. Gedurende hierdie tyd het sy werklike indiepte ondervinding en kennis van elke besigheid in groep opgedoen.

Die hoogtepunt in haar loopbaan is beslis waar sy nou is, as ’n leier van een van die grootste landboubesighede in Suid-Afrika.

Die rol van vroue in landbou

Volgens Debbie maak die besigheidswêreld toenemend plek vir vroue  aan die stuur van sakebedrywighede. Tans is 11% van die Fortune 500 maatskappye in die VSA se HUB’s vrouens. In Suid-Afrika het die volgende maatskappye, onder andere, ook vir die eerste keer vrouens aangestel as HUB’s:

2012 – JSE

2019 – PwC

2019 – Naspers

2019 – Bidvest

2022 – Clicks

2022 – Exxaro

2024 – FirstRand

“Ek dink die dae is lankal verby waar mens na geslag kyk om poste te vul, maar eerder na kundigheid en die regte persoon vir die posisie. Ek dink dit was ՚n dapper stap gewees vir die direksie om die eerste vrou in landbou as HUB aan te stel,” sê Debbie tong in die kies.

Sover was al haar ontmoetings met klante  wat hoofsaaklik mans is, baie positief en ondersteunend.

“Ek wil ander vroue inspireer om hulle plek in hul veld te vind en dit vol te staan. Dit is vir my ’n groot eer om ’n rolmodel te kan wees en by te dra tot ’n meer inklusiewe en diverse bedryf,” sê Debbie.

“Leierskap gaan nie oor wie die hardste praat nie, maar oor integriteit, deursettingsvermoë en hoe jy ander behandel.”

Senwes – een van Suid-Afrika se voorste  landboumaatskappye

Debbie is trots daarop om juis deel van Senwes te wees. “Om as vrou die  HUB by ’n gevestigde landbougroep soos Senwes te wees, is vir my ’n groot voorreg én ’n groot verantwoordelikheid. Senwes is ՚n strategiese, toekomsgerigte maatskappy en vergeet nie wie hulle dien nie – die produsent.

“Senwes het oor die jare bekend geword as ’n groep wat baie deeglike en gefokusde strategiese beplanning doen, sodat hulle in die regte posisie is wanneer daar geleenthede kom,” sê Debbie.

Sy is dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning van haar span, die direksie, die produsente, en selfs die gemeenskap wat haar met gebede en aanmoediging dra.

Haar liefde vir die landboubedryf

“Wat ek die meeste waardeer van die landboubedryf, is die diep sin van doelgerigtheid en die hegte verbintenis met mense, met die grond, en met iets wat baie groter is as onsself,” sê Debbie.

Landbou is nie net ’n besigheid nie – dit is die hartklop van ons samelewing. Dit voed ons nasies, ondersteun gemeenskappe en herinner ons daaraan dat elke seisoen sy eie uitdagings en geleenthede bring.

“Daar is iets besonder lonend daaraan om deel te wees van ’n sektor waar harde werk, veerkragtigheid en geloof elke dag leef. Ons werk met egte mense — boere, kliënte, en gemeenskappe wat toegewyd, nederig en dikwels die rentmeesters van hulle grond oor generasies heen is,” sê sy.

Die lewendige en dinamiese aard van landbou is iets wat Debbie fassineer. Dit vra konstante vernuwing, kreatiewe probleemoplossing en strategiese denke — van die bestuur van wêreldwye markte tot die hantering van plaaslike klimaatuitdagings. Geen twee dae is ooit dieselfde nie.

“Om by te dra tot die groei van landbou, om kliënte en gemeenskappe te ondersteun en deel te wees van iets so noodsaaklik  gee vir my ’n diep gevoel van betekenis,” voeg sy by.

Haar grootste inspirasie

Vir Debbie is haar ma haar grootste inspirasie en sy dink gereeld wat haar ma sou doen as sy voor ’n uitdaging te staan kom.

“Al is sy nie meer fisies teenwoordig nie, leef haar waardes, haar krag en haar voorbeeld daagliks in my voort. Sy het my geleer wat ware deursettingsvermoë is, om op te staan, aan te hou glo, en ander met nederigheid en deernis te hanteer, maak nie saak hoe moeilik die pad is nie,” sê sy.

Raad aan jong vroue in die landboubedryf

Mentors wat jou inspireer en aanmoedig speel ’n belangrike rol. “Glo in jouself, selfs al twyfel ander. Moenie wag vir iemand om vir jou ‘n geleentheid te skep nie, gryp dit aan. Wees nuuskierig, leer elke dag iets nuut, en wees dapper genoeg om jou stem te laat hoor, vrae te vra en jou idees op die tafel te sit,” sluit Debbie af.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0