Categories: Artikels, Gewasproduksie, HulpbronbestuurPublished On: 7th October 2026

Hoe Afrika-boere op hommeltuigtegnologie reageer

By 5 min read
1012 words

DRONES2

Foto: 360mozambique.com

Ken Treloar, ’n wêreldkenner op die gebied waar plantwetenskap, plaasbestuur en tegnologie oorvleuel, het verlede maand vertel van watter beduidende waarde hommeltuie veral in Afrika-lande buite Suid-Afrika is. Hier volg deel 2 van die artikel.

Wanneer hommeltuigtegnologie sy opwagting maak

Skeptisisme, nuuskierigheid en dan vertroue, dit is gewoonlik die volgorde waarin hommeltegnologie op ’n plaas, waar ookal ter wêreld, sy opwagting maak. Wat van land tot land verskil, is hoe lank elke fase duur, asook wat nodig is om ’n boer van die een fase na die volgende te neem.

“Ná jare aan die agri-hommeltuigkant van hierdie bedryf, en gedurende die tydperk wat ek op landbou-energie gefokus het, het ek ’n eerstehandse blik op hierdie proses onder ’n wye verskeidenheid landboutoestande gekry,” sê Ken.

Van ‘sal dit werk?’ na ‘hoe betaal ons daarvoor?’

“Die eerste vraag wat ’n boer oor ’n hommeltuig vra, gaan selde oor die tegnologie self. Dit is eerder ’n weergawe van: ‘Het iemand wat ek vertrou dit al gebruik, en het dit vir hulle gewerk?’ ”

Mondelinge aanbevelings, tesame met ’n sigbare demonstrasie op ’n buurman se grond, doen meer om ’n skeptiese boer te oortuig as enige brosjure of webinaar. Wat verder noord, dieper in Afrika, anders is, is wat gebeur nadat daardie eerste vraag beantwoord is.

“In Suid-Afrika handel die volgende vraag gewoonlik oor die opbrengs op belegging teenoor ’n bestaande insetbegroting. Elders is die volgende vraag dikwels: ‘Hoe betaal ons hoegenaamd daarvoor?’. Dit is presies waarom die diensverskaffermodel so goed werk: ’n opgeleide operateur vlieg die hommeltuig teen ’n tarief, eerder as dat die boer self die toerusting moet aankoop en besit,” vertel Ken.

Waarom het hierdie benadering so vinnig posgevat? Ken sê dit skakel die kapitaalvraag heeltemal uit en vervang dit met ’n koste per hektaar of per vlug, iets wat vir ’n kleinskaalse boer baie makliker is om te oorweeg en te begryp.

Sodra daardie struikelblok uit die weg geruim is, is die ontvangs aansienlik beter, selfs meer as toe hy aanvanklik begin het om op plase rond te reis en sy stem by dié van ander te voeg ten gunste van die gebruik van hommeltuie.

“Boere is risiko-sku”

“Ons moet onthou: boere is nie tegnologie-sku nie. Hulle is risiko-sku. Dit is iets heeltemal anders, en ook heeltemal verstaanbaar wanneer ’n swak seisoen die verskil kan beteken tussen ’n onderneming wat ondergaan en een wat oorleef,” sê hy.

Tydens Ken se reise na Afrika-plase het sekere dinge veral vir hom uitgestaan.

Foto: Africandrone.org

Vindingrykheid

Hy het gesien hoe amateur operateurs hele hommeltuigvlote aan die gang hou met onderdele, praktiese planne en foutopsporingskennis wat sommige formeel opgeleide tegnici sou laat bloos.

Waar voorsieningskettings onbetroubaar is, word die mense wat hierdie toerusting bestuur, buitengewoon goed daarin om dit in die lug te hou, ongeag die uitdagings.

Die leapfrog-effek

In dele van die kontinent waar meganisasie nooit werklik posgevat het nie, beweeg sommige plase direk van handearbeid na hommeltuig-gebaseerde bespuiting en verkenning, sonder om ooit deur die trekker-en-spuitbalkfase te gaan wat Suid-Afrika lank as vanselfsprekend aanvaar het.

Dit is die landbou-ekwivalent daarvan om landlyne oor te slaan en reguit na slimfone te gaan, iets wat ons oral in Afrika sien, en dit sê baie oor hoe vinnig ’n werklik bruikbare hulpmiddel kan versprei sodra koste- en beskikbaarheidsbeperkings wegval.

Gemeenskap

Waar grond in klein erwe of persele verdeel is, word data en dienste gedeel op maniere wat minder algemeen op groter, kommersiële plase met ’n enkele eienaar voorkom.

’n Oorkoepelende groep wat een hommeltuig oor 40 kleinhoewes of kleinskaalse boere se erwe gebruik, is op sy eie manier ’n doeltreffender benutting van die tegnologie as 40 boere wat elkeen hul eie toerusting aankoop.

Foto: Afgoesdigital.com

Boere moet steeds uitdagings trotseer

“Die uitdagings waarmee boere te kampe het, is oor meeste van die lande waarin ek gewerk het, meestal dieselfde,” sê Ken. Daarom is dit die moeite werd om hulle hier te noem.”

Aanvangskoste: Selfs onder ’n diensverskaffermodel bly dit ’n werklike uitgawe vir ’n kleinskaalse boer wat met klein winsmarges werk.

Verbindings- en kragprobleme: Dit maak die aflaai van data, sagteware-opdaterings en die laai van batterye moeiliker as wat dit behoort te wees.

Onderdele en invoerregte op hommeltuigtoerusting kan veroorsaak dat eenvoudige herstelwerk in ’n weke lange vertraging ontaard.

Opleiding en vaardigheidsontwikkeling hou nie tred met die groeiende vraag na gekwalifiseerde operateurs nie.

Regulering verskil van een grens na die volgende, wat dit moeilik maak vir enige operateur of maatskappy wat oor meer as een land heen wil uitbrei.

Foto: Vecteezy.com

Die draad wat deur albei artikels loop

As jy die twee artikels saamlees, is die prentjie duidelik: Afrika se boere word nie aan hommeltuie “verkoop” nie; hulle kies dit self en op hul eie terme sodra dit ekonomiese sin maak en die nodige vertroue daar is.

“Die omstandighede verskil aansienlik van plaas tot plaas en van land tot land, en die tegnologie wat suksesvol is, is die weergawe wat buigsaam genoeg is om by daardie omstandighede aan te pas, eerder as om van die boer te verwag om by die tegnologie aan te pas,” sê Ken.

’n Hommeltuig-boodskap aan ‘ProAgri’-lesers

“As jy in Suid-Afrika boer en nog nooit ’n hommeltuig oor jou eie grond gevlieg het nie, behoort die voorbeeld verder noord nie vir jou te vreemd te voel nie.

Dieselfde logika, vertroue wat deur demonstrasie opgebou word, koste wat deur diensverskaffermodelle verlaag word, en besluite wat vroeër geneem kan word omdat die data vroeër beskikbaar is, geld vir ’n sitrusblok in die Oos-Kaap of ’n plaas in die Vrystaat as vir ’n kleinskaalse boerderyperseel in Oos-Afrika.

Die skaal verskil, maar die onderliggende patroon bly dieselfde. En as jy ’n landboubesigheid, insetverskaffer of voorligtingsbeampte is wat hierdie artikel lees met die res van die kontinent in gedagte, lê die geleentheid nie daarin om ’n Suid-Afrikaanse model onveranderd uit te voer nie.

“Dit lê daarin om die operateurs en diensverskaffers te ondersteun wat reeds besig is om die tegnologie aan te pas by omstandighede waaroor Suid-Afrikaanse boere en ander in die res van Afrika waarskynlik nie eens hoef te dink nie.”

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0