Biobrandstof bied ’n groeigeleentheid vir Suid-Afrika se landbou- en energiebedryf

engin-akyurt-H4GGjhkhwF0-unsplash
Biobrandstof kan ’n rol speel in die verligting van die finansiële druk op Suid-Afrikaners. Foto: Engin Akyurt, Unsplash
Biobrandstof is nie ’n vreemde begrip vir enigiemand wat op hoogte bly van wêreldgebeure nie. Dit is brandstof wat uit verskillende bronne vervaardig word met slegs een doel: om skoner te brand en minder afhanklik van ruolie te wees.
Suid-Afrika is in ’n unieke situasie: die land raak al hoe meer afhanklik van ingevoerde, reeds verfynde brandstof. Volgens Novonesis, ʼn wêreldleier in biologiese oplossings is sowat 75% van die land se brandstof uit die buiteland ingevoer, terwyl slegs 25% plaaslik uit ruolie verfyn word.
Terselfdertyd is daar talle boerderye wat nuwe maniere soek om inkomste te verdien. Dit is hier waar biobrandstof ’n oplossing vir twee probleme bied. Boere kan sekere gewasse verbou, terwyl die raffineringsbedryf spesifieke grondstowwe nodig het om brandstof van hoë gehalte te vervaardig.
Daarbenewens kan biobrandstof van gebruikte kookolie en organiese afval uit boerderye vervaardig word. Die verwerking van suikerriet en ander graansoorte kan ook bydra tot die ontwikkeling van dié brandstof.

Soja is ook uiters geskik vir die vervaardiging van biobrandstof.
Wat boere kan verbou
Uit ’n boer se perspektief is daar baie gewasse wat vir biobrandstof geskik is, en baie daarvan word reeds op groot skaal in Suid-Afrika verbou. Een van die doeltreffendste gewasse is suikerriet, wat ’n gulde geleentheid vir boere regoor KwaZulu-Natal bied om meer verkope te maak.
Boere hier soek al jare lank na alternatiewe maniere om wins te maak en die invoer van suiker uit Brasilië en ander lande teen te werk. Biobrandstof kan moontlik die oplossing wees om suikerriet weer koning te maak.
Daar is egter ook ander boerderye wat regstreeks saam met die biobrandstofbedryf in Suid-Afrika kan groei. Boere wat met sojabone, kanola, sonneblom en kamelina boer, kan ook daarby baatvind. Omdat die sade gebruik word om olie te vervaardig, kan dit maklik as grondstof vir biobrandstof dien.
Boere in Mpumalanga is reeds besig met sojaboonverbouing, kanola en kamelina word op groot plase in die Wes-Kaap verbou, en in die Vrystaat is daar talle sonneblomplase. Die waarde van dié sade kan verhoog word deur die ontwikkeling van Suid-Afrika se eie biobrandstofbedryf.

Suikerriet is een van die beste gewasse waaruit biobrandstof vervaardig
kan word.
Hoe die vervaardiging van biobrandstof kan begin
Voordat verskaffers van gebruikte kookolie en oorblywende oliesade asook suikerrietboere hul hoop op biobrandstof kan vestig, moet daar eers ’n bedryf wees wat hierdie grondstowwe benut. Nanda Kishore Chanda, senior uitvoerende bestuurder vir Novonesis se Suid-Afrikaanse bedrywighede, verduidelik:
“Suid-Afrika beskik oor aansienlike landboupotensiaal en het die geleentheid om te ondersoek hoe biologie kan help om meer waarde te skep uit die hulpbronne wat reeds in die land beskikbaar is.”
Novonesis is ’n wêreldwye biotegnologiemaatskappy wat in biologiese oplossings spesialiseer. Die maatskappy gebruik nie konvensionele raffinering om biobrandstof te vervaardig nie, maar wel ensieme, funksionele proteïene en mikrobiese kulture.
Dit is danksy hierdie tegnologie dat biobrandstof uit soveel verskillende bronne vervaardig kan word. Dit verklaar ook waarom dié soort biobrandstof minder skadelik is om te vervaardig en te verbrand.
“Die geleentheid lê nie bloot daarin om biobrandstof te vervaardig nie, maar om ’n meer veerkragtige stelsel te bou wat boere, die bedryf, energie en die breër ekonomie met mekaar verbind,” sê Chanda.
Vir biobrandstof om in Suid-Afrika suksesvol te wees, is meer as net vervaardigingsfasiliteite nodig.

Baie boere in Suid-Afrika fokus reeds op gewasse wat geskik is vir biobrandstof.
Regeringsbeleid is nodig vir verdere groei
Een van die belangrikste vereistes vir die groei van biobrandstof in Suid-Afrika is regeringsondersteuning. Doelgerigte regeringsbeleid, tesame met infrastruktuur en beleggings, is nodig om die bedryf te ontwikkel.
Regeringsondersteuning vir biobrandstof dui op groeipotensiaal in die bedryf en maak dit makliker om grondstowwe vir verwerking te bekom. Private maatskappye soos Novonesis kan dan ook meer beleggings in die land maak om die nodige verwerkingskapasiteit te ontwikkel.
Dit is van kardinale belang dat, indien vervaardiging groot genoeg word, biobrandstof kan verander van ’n manier om binnelandse brandstofdruk te verlig na ’n winsgewende uitvoerproduk. Dit bied ’n tweeledige oplossing: dit kan petrol- en dieselpryse in die land verlaag en terselfdertyd buitelandse beleggings lok om Suid-Afrika se plase en infrastruktuur te ontwikkel.
Chanda sluit af: “Vir Novonesis lê die rol van biologiese oplossings in Suid-Afrika se energie-oorgang daarin om meer plaaslike opsies kommersieel haalbaar te maak. Deur biologie by landbou, afval en energie te betrek, kan Suid-Afrika voedsel- en energiesekerheid versterk, plaaslike produksie ondersteun en ekonomiese geleenthede skep.”

Sonneblomme en ander oliesade kan gebruik word om biobrandstof te ontwikkel.