WEIDINGSBESTUUR DEEL 2: DIE GROND IS DIE FABRIEK

gras 8
’n Grasplant uit ’n ander hoek beskou. (Bron: Topveld)
“Elke suksesvolle veeboer is eintlik ’n grondbestuurder, gras is net die sigbare produk, die grond is die fabriek.”
So verduidelik De Villiers (Shobie) Arnoldi, ’n veldekoloog van Ermelo wat op sy Facebook-blad, Topveld, praktiese raad oor weidingsbestuur deel. Hierdie eenvoudige maar kragtige stelling vat die kern van grondgesondheid saam: ware produksie begin onder die oppervlak. Grondgesondheid verwys na hoe goed die grond as ’n lewende stelsel
funksioneer. Gesonde grond is nie bloot ‘sand en klei’ nie; dit is ’n dinamiese ekostelsel vol lewe.
Mikrobes, swamme, insekte, erdwurms, plantwortels, organiese materiaal en goeie belugting werk saam in ’n fyn gebalanseerde stelsel wat produksie moontlik maak. Hierdie ondergrondse wêreld bepaal hoeveel water die grond kan opneem en stoor, hoe doeltreffend voedingstowwe sirkuleer, hoe diep en sterk plante se wortels groei, en hoe veerkragtig die veld teen droogte en weidingsdruk is. Met ander woorde: sterk veld begin onder jou voete, nie bo jou knieë nie.
Grondgesondheid en weidingsbestuur
Wanneer grondgesondheid agteruitgaan – deur oorbeweiding, kaal kolle, kompaksie of swak rusperiodes – verloor die grond sy struktuur. Water loop af pleks van in. Organiese materiaal neem af. Mikrolewe sterf uit. Die eindresultaat is beperkte grasproduksie. Die simptoom is swak veld, maar die oorsaak lê onder die oppervlak.
Elke beweidingsbesluit is dus eintlik ’n grondbesluit. Die boer moet hom voortdurend afvra:
• Hoeveel blaarmassa bly oor ná weiding om die wortels te voed?
• Word die grond voldoende bedek, of word dit kaal gelaat?
• Kry plante genoeg kans om reserwes te herstel deur hergroei?
Grondgesondheid word van bo af bestuur deur wyse weidingsbestuur. Dit sluit in:
• Hoe lank vee in ’n kamp vertoef.
• Hoe lank die kamp kans kry om te rus.
• Of die hele kamp eweredig bewei word.
• Hoe vuur toegepas word – tydsberekening, intensiteit, frekwensie, die area wat gebrand word en die grassamestelling tydens brand.
Wanneer ’n boer doelbewus grondgesondheid bestuur, gebeur iets merkwaardigs: meer water infiltreer die grond, meer wortels ontwikkel, organiese materiaal bou op, mikrobiese lewe vermeerder en meer – én beter – gras volg vanself. Wie grond bestuur, bestuur produksie, winsgewendheid en langtermynvolhoubaarheid.

Hoe vuur toegepas word beïnvloed die gesondheid van die grond. (Bron: Topveld)
Grond en wortelgesondheid: ’n Onlosmaaklike vennootskap
Grond- en wortelgesondheid gaan hand aan hand. Hoe gesonder die grond, hoe gesonder die wortels; en hoe gesonder die wortels, hoe vrugbaarder en meer stabiel word die grond. Dit is ’n wedersydse verhouding.
Grond is ’n lewende en dinamiese sisteem waarin plante ontwikkel. Die vrugbaarheid van grond kan beskryf word as die teenwoordigheid van voldoende plantvoedingstowwe en die afwesigheid van elemente wat plantgroei beperk.
Grondgesondheid kan beskryf word as die grond se potensiaal om biologiese produktiwiteit te onderhou. Grondgesondheid word dikwels sinoniem met grondkwaliteit gebruik en moet ook plant- én dieregesondheid bevorder. Omdat grond ’n komplekse lewende sisteem is, is dit moeilik om sy gesondheid direk te meet. Daarom kyk ons na indirekte aanduiders soos oesopbrengs, die kleur en reuk van die grond, waterkwaliteit en die teenwoordigheid van organismes.
Ander belangrike aanwysers sluit in:
• pH (suurvlak)
• Koolstofvlakke
• Organiese materiaalinhoud
• Die teenwoordigheid van lewende organismes
Wortels: Die boustene van struktuur
Wortelgesondheid is die bousteen van grondgesondheid, want wortels verbeter die grond se struktuur. Hulle skep kanale waardeur water en lug kan beweeg en laat organiese materiaal agter wanneer hulle afsterf. Hierdie prosesse verhoog infiltrasie, verminder kompaksie en bevorder mikrobiese aktiwiteit.
Net soos wat die grondoppervlak altyd bedek moet wees met plantmateriaal, moet daar altyd lewende wortels in die grond wees. Dit vind plaas as gevolg van wisselbou en die aanplant van dekgewasse wat nie net organiese materiaal verskaf nie, maar ook grondmikrobes voed.

’n Wuiwende grasveld wat veeproduksie kan onderhou is die doelwit van grondgesondheid. (Bron: Topveld)
Basiese beginsels vir wortelgesondheid sluit in:
• Die verbouing van dekgewasse.
• Klein toedienings van kalk of gips om grondstruktuur te verbeter.
• Toediening van organiese materiaal soos kompos en deklaag (mulch).
• ’n Fokus op grondvoeding eerder as net plantvoeding.
“Ten opsigte van wisselbou glo baie boere steeds daaraan om chemiese kunsmis te gebruik,” sê Shobie.
“Daardie kunsmis is ’n doodsteek vir grondlewe, van die mikrobes op die wortels tot erdwurms in hulle tonnels. Dan móét so ’n boer ten duurste aanhou daarmee aangesien daar geen natuurlike omskakelaars van voedingstowwe vir die plante is nie.”
Daarom is die neiging al meer na geen-bewerking waar die vorige jaar se oesreste natuurlike bemesting is wat die balans in die grondlewe herstel en as beskerming van die grondoppervlak dien.
Rol van organiese materiaal en mikrobes
Organiese grondmateriaal vorm die basis van gesonde grond. Dit ondersteun ’n diverse gemeenskap van mikro-organismes wat organiese materiaal afbreek en voedingstowwe vrystel in vorme wat plante kan opneem. Grondmikrobes bevoordeel plante op verskeie maniere. Sekere bakterieë kan antibiotiese stowwe afskei wat plante teen siektes beskerm. Ander stimuleer wortelgroei. Erdwurms verminder kompaksie en verbeter belugting, terwyl
mikoriza-swamsimbiose plante help om voedingstowwe, veral fosfor, meer doeltreffend te benut.
Hierdie biologiese aktiwiteit dra by tot beter waterinfiltrasie, groter voedingsbeskikbaarheid en sterker plante. Die eerste stap na gesonde, vooruitstrewende plante is dus om gesonde grond te verseker – hoofsaaklik deur die toevoeging van groot hoeveelhede organiese materiaal en die ondersteuning van mikrobiese diversiteit.
Grondgesondheid en plantweerstandigheid
Grondgesondheid lei direk tot plantgesondheid. Plante wat in gesonde grond groei word minder deur peste en siektes aangeval. Inteendeel, peste en siektes is dikwels ’n aanduiding van swak grondgesondheid. Peste floreer op plante waar daar ’n hoë opbou van wateroplosbare suikers, aminosure en minerale in plantselle is. In gesonde plante met ’n aktiewe metabolisme word hierdie verbindings teen dieselfde tempo gebruik as wat dit vervaardig word. Daar is dus nie ’n oormaat beskikbaar vir peste om op te teer nie.
Die oormatige gebruik van landbouchemikalieë kan egter plantmetabolisme ontwrig. Dit kan proteïensintese vertraag en lei tot ’n opbou van aminosure in die plantselle – ’n ideale voedingsbron vir peste. Net so kan oormatige stikstoftoediening ’n oorproduksie van aminosure veroorsaak. Daarom moet die fokus verskuif van blote plantvoeding na grondvoeding. Deur grondmikrobes te voed en te ondersteun, verbeter ’n mens nie net vrugbaarheid nie, maar ook waterinfiltrasie en plantweerstandigheid.
Die balans tussen fisieke, chemiese en biologiese faktore
Grond is gesond wanneer biologiese, chemiese en fisieke toestande in balans is. Hierdie drie komponente beïnvloed mekaar voortdurend. Byvoorbeeld: die fisieke toestand van swaar, versuipte grond kan tot stikstofverliese lei – ’n chemiese probleem. Nitraat kan onder anaerobiese toestande omgeskakel word na molekulêre stikstof (N₂) – en as gas verlore gaan. Op sy beurt kan chemiese wanbalanse plantgroei beperk en biologiese aktiwiteit onderdruk.
Wanneer plante onder stres verkeer weens droogte, ongunstige pH, voedingstekorte of kompaksie, daal hul weerstand teen peste en siektes. Dit bevestig weer die noue verband tussen grondtoestand en plantgesondheid.

Wanneer die plantwortels gesond is, is die grond ook gesond, en andersom. (Bron: Topveld)
Aanwysers van gesonde en ongesonde grond
Gesonde plante is een van die duidelikste aanduiders van gesonde grond. ’n Lewende grond sal:
• Hoë bevolkings van mikrobes ondersteun.
• Erdwurms en ander organismes huisves.
• ’n Donker kleur hê vanweë organiese materiaal.
• Goeie infiltrasie toon ná reën.
Tekens van swak grondgesondheid sluit in:
• Gronderosie.
• Korsvorming ná reën of aanplanting.
• Swak waterinfiltrasie.
• Min lewende organismes.
• Ongelyke of swak plantgroei.
Wanneer erosie en korsvorming voorkom, dui dit daarop dat die grondstruktuur afgebreek het en dat voedingstowwe nie optimaal beskikbaar is nie.
’n Bestuursfilosofie vir volhoubaarheid
Die kernboodskap is eenvoudig: grondgesondheid is nie ’n bysaak nie – dit is die fondament van landbouproduksie. Elke besluit oor beweiding, bemesting, vuur of bewerking beïnvloed die ondergrondse fabriek. Deur die grond altyd bedek te hou, lewende wortels in die profiel te handhaaf, organiese materiaal aan te vul en mikrobiese lewe te ondersteun, bou ’n mens ’n veerkragtige stelsel wat droogtes, peste en druk beter kan hanteer.
Op lang termyn lei hierdie benadering tot beter produksie, laer insetkoste, gesonder plante en diere en groter winsgewendheid. Maar meer as dit – dit verseker dat die grond self as hulpbron bewaar en verbeter word vir
toekomstige geslagte. Sterk veld begin onder jou voete. Wie die grond verstaan en bestuur, verstaan uiteindelik die hele produksiesisteem.
Bronverwysings
Wortelgesondheid bevorder grondgesondheid en grondvrugbaarheid (g.d.) Atlantic Fertilisers https://atlanticfertilisers.co.za/wp-content/uploads/2021/07/Wortelgesondheid-bevordergrondgesondheid-
1.pdf
Grond Gesondheid en Plantgesondheid (2026). https://southafrica.co.za/af/grondgesondheid-plantgesondheid.html