Categories: Boer slim!, MeganisasiePublished On: 31st October 2024

Sien is glo! Carbon Bee is hier.

By 4 min read
793 words

DSC08017

Die Carbon Bee tegnologie van AxioTeq is onlangs op ’n reeks demonstrasiedae saam met die Case IH Patriot-hoogloopspuite ten toon gestel.

Deur die Carbon Bee sigspuitstelsel bied Case IH nou ’n na-verkope tegnologie-opsie wat die Patriot spuitreeks se vermoëns nog verder uitbou.

Met ’n formidabele spuitstelsel soos AIM Command Flex 2 en die Raven Hawkeye II spuitstukbeheerstelsel op die Case IH Patriot-spuitreeks sou mens beswaarlik kon glo dat ’n verbetering moontlik is, maar deur slim spuittegnologie van Carbon Bee by te voeg, het produsente ’n verdere opsie om spuitdoeltreffendheid te verhoog, terwyl insetkostes besnoei word.

Die Carbon Bee sigspuitstelsel wat nou as opsie op Case IH se Patriot-reeks van hoogloopspuite beskikbaar is en wat ook as na-verkope stelsel aangebring kan word, bied ’n koste-doeltreffende en betroubare bykomstigheid vir produsente wat wil verseker dat lande moeiteloos en winsgewend skoongehou word.

Sigspuittegnologiestelsels wat kan onderskei tussen onkruid en grond in groen-op-bruin toepassings en onkruid en kontantgewasse in groen-op-groen toepassings, tree al hoe sterker op die voorgrond namate produsente op soek is na doeltreffende spuitstelsels wat ook insetkostes kan help besnoei.

Die Carbon Bee stelsel, wat deur die tegnologiese-innovasie maatskappy AxioTeq van Omnia verskaf word, bestaan uit ’n reeks kameras wat soomloos met die bestaande Case IH AIM Command 2 of Raven Hawkeye II werk en spuitstukke oop en toe maak om slegs onkruid te bespuit. Die stelsel kan gebruik word in eerste bespuitingstoepassings (“burndown”) om jong onkruide te beheer asook in onkruidbeheer tussen aangeplante gewasse en maak gebruik van herkenningsagteware om tussen bruin-en-groen en groen-en-groen te onderskei. Terselfdertyd kan die Carbon Bee doeltreffend tot ’n spoed van 25 km/h funksioneer, wat ’n groot tydbesparing in die hand werk.

“’n Produsent kan dus meer hektare in ’n dag bespuit en op insetkoste bespaar. Die spuit word minder volgemaak en die produk slegs aangewend waar dit die nodigste is,” sê Louis Jacobs, senior presisieboerdery-spesialis: Omnia AxioTeq.

Presies hoe “suinig” die Carbon Bee stelsel te werk gaan is op ’n demonstrasiedag in die Noordwes geillustreer toe die Carbon Bee stelsel 110 ha uit ’n tenk met ‘n 50 ha-kapasiteit gespuit het. “Die mengsel was effens sterker om te verseker dat onkruid doeltreffend beheer word, maar die besparing het sowat R16,500 oor die 110 ha beloop,” sê Louis.

Die Carbon Bee stelsel is ook opgegradeer sedert sy bekendstelling in 2023 met verbeterde kabels en meer robuuste kamerahulsels. Spuitgegewens word nou ook op die spuit se skerm weergegee eerder as op ’n bykomende, aangewese Carbon Bee skerm soos wat die geval in die verlede was. ’n Meer aanvullende spuitstelsel vir tegnologie wat reeds as markleier funksioneer gaan moeilik gevind word en boonop kan die Carbon Bee stelsel met die druk van ’n knoppie gedeaktiveer word om die spuit weer op die konvensionele basis te laat werk.

Die volgende stap, sê Louis, is om ’n toepassing te ontwikkel wat die Carbon Bee stelsel in staat sal stel om intydse spuitdata in die wolk te stoor, waarna telemetriese data op ’n selfoon afgelaai kan word. “Omdat die Carbon Bee so netjies by AIM Command II inskakel, word die spuitdata op die Viper+ skerm gehou en die produsent kan onmiddellik sien waar onkruiddruk hoër is. Dit stel hom in staat om ’n meer ingeligte besluit rakende sy onkruidbeheer, hetsy om te spuit of om meganiese beheer op probleemkolle toe te pas, in die toekoms te maak. Alle bewerkings begin dus nou na een lyn beweeg ten einde grond beter te bestuur,” sê Louis.

Die stelsel wat tydens die Patriot-inligtingsdae gewys was, bestaan uit twaalf kameras op ‘n 30 meter balk en word in die bestaande Case IH-tegnologie geïntegreer.

“Wat ons hier bygesit het, is ’n ekstra tegnologie-pakkie wat die Suid-Afrikaanse mark op sy kop kan keer. Ons het hande gevat met ons vriende van AxioTeq-Omnia en nou kan ons die Carbon Bee-stelsel as na-verkope onderdeel op enige van ons spuite monteer, of dit as voor-verkope opsie aanbring. Case IH sal ook die volle voorraad Carbon Bee onderdele dra. Vir die produsent beteken dit minder chemie, meer grondgesondheid en gewasse word nie in hulle groei belemmer deur die produk wat gespuit word nie. Dit bly Case IH se doelwit om nie net kostes te bespaar en opbrengste te verbeter nie, maar om vir die produsent daardie mees kosbare hulpbron, tyd, terug te gee. Wanneer ons produkte se doeltreffendheid meer tyd aan die produsent terug besorg, het ons in ons doel geslaag,” sê Andre Olwagen, hoof van taktiese bemarking by Case IH.

Case IH werk in assosiasie met Carbon Bee tegnologie,  wat deur AxioTeq, (’n onafhanlike derde party verskaffer) in Suid-Afrika versprei word.

Carbon Bee is nie ’n filiaal van Case IH nie en enige dienste wat deur AxioTech gelewer word, word onafhanklik van Case IH gelewer.

Carbon Bee tegnologie is dus ’n gesertifiseerde produk, gelewer deur ’n derde party, wat op Case IH se Patriot spuite geinstalleer kan word om die waarde wat aan produsente gebied word, te verhoog.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0