Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 12th October 2026

VALTRA in PIENK: Getooi vir ‘n goeie doel

By 6 min read
1174 words

IMG-20260917-WA0113

Drie generasies van Van Rensburgs saam met die pienk Valtra.

Tussen die gewasse op ’n gemengde boerdery by Skuinsdrift in Noordwes is daar min dinge wat so vinnig die oog vang soos ’n helderpienk Valtra. Hier word onder meer met saadmielies, sojabone, sonneblom, witbone en koring geboer, terwyl beeste ook deel van die boerdery vorm.

Vir Santie van Rensburg is dié trekker egter veel meer as net ’n mooi masjien in haar gunstelingkleur. Die pienk Valtra se slanke bou maak haar besonder geskik vir werk tussen die rye saadmielies, waar sy kan beweeg sonder om die omliggende plante raak te trap. Maar terwyl sy haar plek tussen die rye volstaan, verrig sy ook ’n tweede taak:
om ’n belangrike boodskap oor borskankerbewustheid verder die landbougemeenskap in te dra.

“Eintlik gaan hierdie pienk trekker vir my meer oor die bewusmaking van borskanker in die landbousektor spesifiek,” sê Santie. En agter die pienk Valtra skuil ’n storie wat eintlik heel toevallig begin het.

Van ’n grappie tot iets met betekenis

Santie vertel dat sy nog altyd van pienk gehou het. Toe daar oor trekkers gepraat word, het sy gereeld geskerts dat die manne tog net een moet koop en hom pienk maak. Toe ’n tweedehandse blou Valtra trekker later teruggestuur moes word om ’n paar verstellings te laat doen, het sy weer haar kans gewaag: Maak hom pienk.

Die aanvanklike antwoord was nee. Maar Santie het ’n beter rede gehad as bloot haar liefde vir die kleur: “Kom ons maak hom pienk vir borskanker.” Daarna het die saak vir ’n ruk stil geraak, totdat haar seun haar seun haar eendag
onverwags gebel het en gessê het sy moet vinnig “iets” kom kyk. Daar het die Valtra gestaan. Pienk. Met ballonne en al.

“Dit was my groot verrassing, want ek het nie gedink hulle sal dit rêrig doen nie,” vertel sy. Vir Santie was daar ook iets besonders daaroor dat die manne, haar man en seun, bereid was om weg te beweeg van die tradisionele rooi, groen of blou trekker.

“Dit was vir my lekker om te sien dat my twee manne se harte op die regte plek is.” Dit is juis hier waar die storie vir Santie groter as een trekker word. In stede en groter dorpe is Oktober se borskankerbewustheidsveldtogte moeilik om mis te kyk. Pienk linte verskyn in winkelsentrums, ondernemings, advertensies en veldtogte. Maar Santie vra
’n eenvoudige vraag: Waar sien ’n mens dieselfde bewusmaking in landbou? Waar is die pienk lint op die plaas?

Baie mense op plase en in landelike gemeenskappe woon ver van die groot sentrums waar gesondheidsboodskappe deel van die alledaagse omgewing is. Hulle loop nie noodwendig elke dag verby plakkate en bewusmakingsveldtogte nie.

Santie sê sy het dít besef toe sy met vroue begin gesels het wat eerstehandse ervaring van borskanker gehad het. “Daar is soveel goed wat ’n mens nie weet nie. Jy hoor van borskanker, maar jy weet nie eens dat daar ’n klomp verskillende soorte is nie.” Vir haar beklemtoon dit waarom landelike bewusmaking so belangrik is. Mense moet nie net weet dat borskanker bestaan nie. Hulle moet ook weet dat daar hulp, behandeling en hoop is.

Die vrou agter die boerdery

Maar die pienk Valtra vertel ook ’n tweede verhaal: een oor die rol van vroue in landbou. Volgens Santie word daar maklik van die “boer” en die “boerdery” gepraat, sonder om altyd raak te sien hoeveel vroue deel vorm van die stelsel wat uiteindelik  os op Suid-Afrikaners se tafels plaas. Op die plaas self beskryf sy die boer en sy vrou as twee steunpilare. “Die vrou in die boerdery, saam met die man, is twee steunpilare. En as die vrou wegval, kan die boerdery se dak inmekaar sak.”

Vir haar gaan dit egter oor meer as die boervroue. Dit gaan oor die vrou wat kosblikke pak en kinders skool toe neem; die vrou wat na ouers en grootouers omsien; die vrou wat luister wanneer die druk van die boerdery swaar raak. Maar dit gaan ook oor die vrou wat fisies op die plaas werk. Dit is die vroue wat saailinge plant, gewasse uit die grond haal, in pakhuise en kantore werk en talle ander take verrig wat nodig is om ’n moderne landbouonderneming aan die gang te hou.

En juis daarom glo Santie hul gesondheid en uitdagings verdien ook meer aandag. “Mense sien die boer en hulle sien die brood op die tafel,” sê sy, maar hulle sien nie noodwendig hoeveel emosie, pyn en harde werk uiteindelik in daardie brood ingaan nie.

In Oktober kan ’n nuwe Valtra nóg meer beteken

Die boodskap van die pienk trekker word vanjaar verder gevoer deur Valtrac se Oktober-inisiatief. Vir elke Valtra wat gedurende Oktober aangekoop word, sal Valtrac R10 000 tot borskankernavorsing bydra. Kopers het boonop die geleentheid om hul nuwe Valtra gratis pienk te laat verf, sodat die boodskap lank ná Oktober steeds op plase en paaie sigbaar kan wees. Die aanbod geld spesifiek vir nuwe aankope wat gedurende Oktober gemaak word. Bestaande transaksies wat reeds voor Oktober aangegaan is, kwalifiseer nie vir die veldtog nie..

Nie elke vrou het dieselfde toegang tot hulp nie

Dit is ook hier waar borskankerbewustheid vir Santie besonder ernstig raak. Nie alle vroue wat in landbou werk is in dieselfde posisie wanneer hulle siek word nie. Sommige het toegang tot mediese sorg, inligting en behandeling, terwyl ander vroue op plase en in afgeleë gemeenskappe baie minder toegang tot dieselfde hulpbronne het. “Daar is vrouens wat nie in die bevoorregte posisie is nie,” sê Santie. En kanker, voeg sy by, kies nie tussen huishoudings nie. Dit raak ons almal. Daarom hoop sy dat die pienk trekker uiteindelik nie net aandag sal trek nie, maar ook inligting verder die platteland in sal help dra.

“Daardie mense moet bereik word. Daardie mense moet meer inligting kry.”

Vir Santie is die gedagte agter ’n pienk trekker egter net so belangrik as die kleur self. Sy wil graag sien dat boerderye die geleentheid gebruik om die vroue wat elke dag saam met hulle werk, raak te sien. “Ek sal graag elke boerdery in Suid-Afrika wil uitdaag om ’n pienk trekker te koop, sodat die vroue in jou boerdery kan sien dat jy omgee, dat jy hulle raaksien en dat jy hulle eer en waardeer vir wat hulle in jou boerdery beteken.”

Laat die pienk boodskap verder ry

Vir Santie bly die trekker iets besonders. “As ek hom sien, dan word my hart sommer so warm,” sê sy. Maar die werklike sukses van die projek sal nie gemeet kan word aan hoeveel mense omdraai om na ’n helderpienk Valtra te kyk nie. Dit sal lê in die gesprekke wat daarna volg – oor borskanker, vroeë bewusmaking, toegang tot inligting én die vroue wat elke dag ’n belangrike deel van Suid-Afrikaanse landbou vorm.

Kontak jou naaste Valtrac-verteenwoordiger gedurende Oktober om meer oor die veldtog en kwalifiserende aankope uit te vind. Want hierdie Oktober gaan pienk nie net oor ’n kleur nie. Dit gaan daaroor om vroue raak te sien – en om ’n boodskap van hoop tot in die verste hoek van die plaas te laat ry.

1
Tags: , ,

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1