Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 23rd November 2026

Storie agter die ras: Bonsmara, waar wetenskap en Afrika se veld ontmoet

By 9 min read
1856 words

Free-range cattle on rural farm

Small herd of free-range cattle on a rural farm, South Africa

Nie alle beesrasse het oor die eeue heen as gevolg van natuurlike seleksie en tradisionele teling ontstaan nie. Sommige is doelbewus ontwikkel om spesifieke uitdagings die hoof te bied. Die Bonsmara is een so ’n ras.

Hierdie kenmerkende rooi vleisbeesras, wat vandag ’n belangrike plek in Suid-Afrika se beesbedryf beklee, het sy oorsprong te danke aan ’n wetenskaplike, ’n navorsingstasie en ’n eenvoudige maar uitdagende vraag: Kan ’n mens ’n bees teel wat die hitte van Afrika kan trotseer, sonder om goeie vleisproduksie en vrugbaarheid prys te gee?

Die antwoord het nie oornag gekom nie. Dit het jare se navorsing, noukeurige rekordhouding en doelgerigte seleksie geverg voordat ’n nuwe Suid-Afrikaanse beesras sy plek op die veld kon inneem.

’n Probleem wat ’n nuwe ras laat ontstaan het

In die 1930’s het Suid-Afrikaanse beesboere voor ’n besondere uitdaging te staan gekom. Europese vleisbeesrasse, waaronder verskeie Britse rasse, het goeie groei- en vleiseienskappe gehad, maar was nie altyd goed aangepas by die warm, subtropiese klimaatstoestande van die noordelike dele van Suid-Afrika nie.

Hoë temperature, parasiete en wisselende weidingstoestande het hul produksie en reproduksie nadelig beïnvloed. ’n Bees wat in die gematigde Europese klimaat goed presteer het, kon onder die warm Afrika-son aansienlik minder produktief wees.

Aan die ander kant was die inheemse Afrikanerbees reeds goed aangepas by plaaslike toestande. Hierdie ras kon hitte en uitdagende veldomstandighede beter hanteer. Daar was egter steeds ruimte vir verbetering ten opsigte van groei, karkasgehalte en reproduktiewe doeltreffendheid.

Die uitdaging was dus om die beste eienskappe van albei groepe in een beesras te verenig.

Teen hierdie agtergrond het ’n jong Suid-Afrikaanse veekundige, Jan Bonsma, ’n projek aangepak het wat uiteindelik ’n blywende invloed op die land se vleisbeesbedryf sou hê.

Die man agter die Bonsmara

Prof. Jan Bonsma was oortuig dat ’n dier nie bloot op grond van sy voorkoms beoordeel moet word nie. Vir hom was die belangrikste vraag of ’n bees werklik onder die omstandighede waarin hy moes produseer, goed kon presteer.

In 1937 het navorsing by die Mara- en Messina-navorsingstasies in die destydse Noord-Transvaal (vandag Limpopo), begin. Bonsma en sy medewerkers het hier ’n omvangryke kruisteelprogram begin met die doel om ’n vleisbeesras te ontwikkel wat spesifiek by Suid-Afrikaanse toestande aangepas sou wees.

Wat hierdie projek besonders gemaak het, was die wetenskaplike benadering wat gevolg is. In plaas daarvan om bloot diere met gewenste uiterlike eienskappe met mekaar te kruis, is hul werklike prestasie noukeurig aangeteken en geëvalueer.

Eienskappe soos groei, vrugbaarheid, melkproduksie, temperament, hitteverdraagsaamheid en algemene funksionele doeltreffendheid het almal ’n rol in die seleksieproses gespeel.

Bonsma het ook besonder aandag gegee aan die fisiese eienskappe wat ’n dier se vermoë om hitte te hanteer, kon beïnvloed. Die lengte en digtheid van die haarbedekking, velkenmerke en fisiologiese reaksies op hoë temperature was belangrike seleksiekriteria.

Hierdie benadering het die grondslag gelê vir wat later as die Bonsmara-stelsel bekend sou staan: ’n kombinasie van objektiewe prestasiemeting en streng visuele beoordeling om funksionele doeltreffendheid te bepaal.

Drie rasse, een nuwe begin

Die ontwikkeling van die Bonsmara het met uitgebreide kruisteelproewe begin. Bulle van vyf Britse vleisbeesrasse is aanvanklik met Afrikanerkoeie gepaar om vas te stel watter raskombinasies die beste onder plaaslike toestande sou presteer.

Ná die aanvanklike proewe het veral die Hereford- en Korthoringkruisings belowende resultate getoon.

Die Hereford en Korthoring het waardevolle eienskappe soos goeie groei, bespiering en vleisproduksie na die teelprogram gebring, terwyl die Afrikaner die gehardheid en aanpasbaarheid verskaf het wat noodsaaklik was vir suksesvolle produksie onder Afrika-toestande.

Deur voortdurende kruisteling, terugkruising en streng seleksie is die ras se genetiese samestelling uiteindelik soos volg vasgestel:

  • ⅝ Afrikaner (62,5%)
  • 3/16 Hereford (18,75%)
  • 3/16 Korthoring (18,75%)

Hierdie verhouding was nie bloot toevallige nie, maar die resultaat van jare se noukeurige evaluering om die regte  balans tussen aanpasbaarheid, vrugbaarheid en vleisproduksie te vind.

Die navorsing het ook veel verder as die proefstasies gestrek. Bonsma en sy kollegas het kruisteelproewe in ongeveer 20 kommersiële kuddes in verskillende dele van Suid-Afrika uitgevoer om die diere se prestasie onder uiteenlopende produksieomstandighede te beoordeel.

Die uiteindelike doel was nie om ’n bees te skep wat net op ’n navorsingstasie goed presteer nie, maar een wat ook op n gewone Suid-Afrikaanse plaas sy waarde kon bewys.

Die resultate begin praat

Met verloop van tyd het dit duidelik geword dat die navorsers se teelprogram vrugte afwerp.

Die nuwe kruisings het beter groei en speenprestasie getoon, terwyl daar ook belangrike vordering gemaak was op die gebied van vrugbaarheid en kalfoorlewing .

Volgens historiese prestasiedata wat oor die ontwikkeling van die ras aangehaal word, het sommige van die vroeë kruisings speengewigte van ongeveer 195 kg op 240 dae bereik, sowat 20% hoër as dié van die betrokke ouerrasse wat in die proewe gebruik is.

Dit het belangrike ekonomiese implikasies ingehou. Swaarder speenkalwers kon ’n groter inkomste vir die produsent beteken, maar slegs indien die koeie terselfdertyd gereeld kalf en onder plaaslike toestande produktief bly.

Dit is waarom Bonsma se benadering nooit net op groei gefokus het nie. ’n Groot dier was nie noodwendig ’n goeie dier nie, en ’n indrukwekkende bul was nie noodwendig die beste teelbul nie.

Die waarde van ’n bees moes uiteindelik gemeet word aan sy vermoë om oor n lang tydperk doeltreffend te produseer.

’n Naam wat geskiedenis sou maak

Die nuwe ras se naam weerspieël twee belangrike hoofstukke in sy ontstaansgeskiedenis.

“Bons” is afgelei van Bonsma, die veekundige wat die ontwikkelingsprogram gelei het, terwyl “Mara” verwys na die navorsingstasie waar die eerste kruiskalwers gebore is.

Só het die naam Bonsmara ontstaan.

Teen die 1950’s was die eerste Bonsmarabulle reeds aan kommersiële beesboere beskikbaar. Dit het boere in staat gestel om die nuwe genetika onder praktiese boerderytoestande te benut en te evalueer.

Die belangstelling het toegeneem namate die ras sy vermoë begin bewys het om onder uiteenlopende Suid-Afrikaanse toestande goed te presteer.

Op 25 Februarie 1964 is die Bonsmara Beestelersgenootskap gestig, met Rex Ball as die eerste voorsitter. In 1972 het die ras verdere amptelike erkenning deur registrasie ontvang.

Wat in 1937 as ’n navorsingsprojek begin het, het dus binne enkele dekades tot ’n gevestigde Suid-Afrikaanse vleisbeesras ontwikkel.

Die rooi bees wat vir Afrika gebou is

Die Bonsmara se kenmerkende rooi haarkleur is vandag een van sy bekendste eienskappe, maar sy waarde strek veel verder as sy voorkoms.

Die ras is mediumgroot en het ’n sterk, funksionele liggaamsbou, goeie bespiering en stewige bene en kloue.

’n Gladde, kort somerhaarkleed en goed gepigmenteerde vel is verdere belangrike eienskappe wat tot sy aanpasbaarheid by warm klimaatstoestande bydra.

Pigmentasie rondom die oë, uier en ander sensitiewe liggaamsdele is veral belangrik, aangesien dit help om die risiko van sonverwante probleme te beperk.

Die ras se aanpasbaarheid beteken egter nie dat Bonsmarabeeste immuun is teen hitte, parasiete of droogte is nie. Soos met enige ander beesras bly goeie voeding, doeltreffende gesondheidsbestuur en geskikte boerderypraktyke noodsaaklik.

Die Bonsmara se voordeel lê eerder daarin dat daar doelgerig vir diere geselekteer is wat onder die omstandighede waarin hulle moet produseer, funksioneel en produktief kan bly.

Vrugbaarheid: die hart van die kudde

Hoewel die Bonsmara bekend is vir goeie groei en vleisproduksie, was vrugbaarheid een van die belangrikste eienskappe waarop die ras se ontwikkeling gegrond is.

Vir ’n vleisbeesboer is ’n koei se vermoë om gereeld ’n gesonde kalf te produseer van deurslaggewende ekonomiese belang.

’n Koei wat nie gereeld en konsekwent kalf nie, kan ’n aansienlike finansiële las vir die onderneming inhou, ongeag hoe indrukwekkend haar voorkoms of genetiese afkoms is.

Daarom is eienskappe soos kalfgemak, goeie moederseienskappe, melkproduksie en reproduktiewe doeltreffendheid van die begin af as belangrike seleksiekriteria in die Bonsmara teelprogram beskou.

Die doel is om koeie te teel wat nie net kalwers produseer nie, maar hulle ook suksesvol kan grootmaak en speen.

Hierdie beginsel vorm steeds die grondslag van moderne Bonsmara-teling, waar reproduksie- en groeigegewens gebruik word om ingeligte teelbesluite te neem.

Wanneer die syfers die storie vertel

Een van die interessantste aspekte van die Bonsmara is dat die wetenskaplike beginsels waarop die ras se ontwikkeling gegrond is, steeds n belangrike rol in sy teling speel.

Prestasietoetsing is nie bloot ’n bykomende hulpmiddel nie, maar ’n kernbeginsel van die Bonsmara-stelsel.

Telers teken belangrike produksiegegewens aan en gebruik dit saam met funksionele beoordeling om diere te identifiseer wat aan die gewenste teeldoelwitte voldoen.

Die beoordeling sluit onder meer groei, reproduksie, liggaamsbou, been- en kloustruktuur, geslagskenmerke en algemene funksionele doeltreffendheid in.

Hierdie benadering help voorkom dat diere uitsluitlik op grond van hul uiterlike voorkoms of n enkele indrukwekkende prestasiesyfer geselekteer word.

’n Bul kan byvoorbeeld uitstekende groei toon, maar as sy bene en kloue swak ontwikkel is, kan dit sy vermoë beperk om oor n lang tydperk doeltreffend in ’n kommersiële kudde te funksioneer.

Net so kan ’n koei met ’n indrukwekkende liggaamsbou minder teelwaarde hê indien sy nie gereeld kalf nie.

Die Bonsmara-stelsel is daarom daarop gerig om die dier as ’n geheel te beoordeel.

Hierdie streng benadering word steeds deur die Bonsmara Beestelersgenootskap bevorder en is een van die redes waarom die ras sterk met prestasiemeting en funksionele doeltreffendheid geassosieer word.

Van Limpopo na die wêreld

Die Bonsmara is aanvanklik ontwikkel om tot Suid-Afrikaanse toestande aangepas te wees, maar die eienskappe waarvoor die ras geselekteer is, het ook belangstelling buite die land gewek.

Die ras het na verskeie ander Afrikalande versprei, waaronder Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië en Uganda.

Later het Bonsmara-genetika ook sy weg na lande soos Australië, Argentinië, Brasilië, Paraguay, Colombia, Uruguay en die Verenigde State gevind.

Die belangstelling in hierdie lande hou grootliks verband met die behoefte aan vleisbeesrasse wat goeie produksie-eienskappe met aanpasbaarheid by warmer of meer uitdagende omgewings kan kombineer.

Dit is ’n merkwaardige ontwikkeling vir ’n ras wat oorspronklik ontwikkel is om ’n spesifieke Suid-Afrikaanse uitdaging die hoof te bied.

’n Suid-Afrikaanse suksesverhaal

Sedert die stigting van sy telersgenootskap in 1964, het die Bonsmara tot een van Suid-Afrika se belangrikste vleisbeesrasse ontwikkel.

Die ras se invloed is nie net in geregistreerde stoetkuddes merkbaar nie, maar ook in kommersiële beesproduksiestelsels, waar Bonsmara-genetika gebruik word om eienskappe soos groei, vrugbaarheid, goeie moedereienskappe en aanpasbaarheid te bevorder.

Die ras se geskiedenis toon hoe doelgerigte navorsing en praktiese boerdery mekaar suksesvol kan aanvul.

Prof. Bonsma en sy medewerkers het nie bloot probeer om die eienskappe van drie bestaande rasse te kombineer nie. Hulle wou ’n bees ontwikkel wat onder werklike produksietoestande ekonomies en funksioneel doeltreffend kon presteer.

Byna nege dekades nadat die eerste navorsing in 1937 begin het, bly hierdie beginsel steeds relevant.

Die Bonsmara is daarom meer as net ’n rooi bees op Suid-Afrika se weivelde. Hy verteenwoordig ’n belangrike hoofstuk in die land se landbounavorsing – ’n bewys van wat moontlik is wanneer wetenskaplike kennis, deeglike rekordhouding en die praktiese behoeftes van boere byeengebring word.

En miskien is dit juis die grootste nalatenskap van die Bonsmara: dat die beste bees nie noodwendig die grootste of indrukwekkendste dier is nie, maar die een wat jaar ná jaar onder die omstandighede waarin hy aangehou word, kan presteer.

Bronne:

Bonsmara SA – Die Bonsmara-stelsel. Die amptelike geskiedenis, teelprogram en seleksiebeginsels. bonsmara.co.za

Bonsmara SA – Die Rooi Ras. Historiese ontwikkeling en stigting van die genootskap. bonsmara.co.za

Bonsmara Namibia – About the Breed. Aanpasbaarheid, produksie-eienskappe en geskiedenis. Bonsmara Namibia

Rare Breeds Trust of Australia – Bonsmara. Internasionale verspreiding en registrasiegeskiedenis. TidyHQ

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0