Pioneer se veldfeite: Waarom moet ek nie saad terughou nie?

pioneer496095872_1321509266649122_506718429801359630_n
Saad bevat die kiem van lewe, die belofte van groei. Dit is die natuur se wonderwerk in die bewaring van identiteit van variëteite. Dit verseker dat die identiteit deurlopend van een geslag na die volgende oorgedra word. Tog is die voorkoms van basterkrag in kruisteling ՚n besonderse wonderwerk wat geweldige ekonomiese voordeel vir die boer inhou.
Die praktyk om saad van oop bestuifde gewasse van die vorige oes vir die nuwe plantseisoen te hou, is kortsigtig en word ten sterkste afgeraai. Die oesresultate is wisselvallig en onvoorspelbaar en kan die boer duur te staan kom.
Die gebruik van goeie saad word allerweë as basiese vereiste vir ekonomiese gewasproduksie erken en aanvaar. Daarom is dit belangrik om te kyk na die faktore wat saadgehalte nadelig beïnvloed en die voorsorg wat getref word om saad van hoë gehalte aan die produsent te voorsien.
Genetiese gehalte
Genetiese gehalte dui daarop dat saad geneties suiwer is en dat ՚n saadlot slegs saad met die egte bekende eienskappe van die variëteit bevat. Planttelers manipuleer gene om uiteindelik ՚n besonderse kultivar tot die planterykdom van ՚n gebied toe te voeg. As die saad van so ՚n kultivar nie suiwer is nie, sal die potensiaal van
die kultivar nie ten volle deur die boer benut kan word nie.
Saad wat nie aan die beskrywing van die spesifieke kultivar voldoen nie, kan toegeskryf word aan:
Uitkruising
Hoewel ՚n kleingraan, soos koring en sojabone, hoofsaaklik selfbestuiwend is, kan uitkruising ook soms voorkom. Afhangende van omgewingstoestande soos hoë temperature, lae omgewingstemperature, droogtestremming tydens blomtyd, asook inherente genetiese vermoë tot uitkruising, kan soveel as 5% kruisbestuiwing somtyds plaasvind, wat afwykende plante voortbring.
Fisiese vermenging
Fisiese saadvermenging kan op enige stadium van produksie en/of verwerking plaasvind. Goeie beheer begin reeds so vroeg as moontlik voor planttyd om toe te sien dat die land waarop die produksie beplan word, vry is van opslagplante of enige gewasse waarvan die saad nie meganies geskei kan word nie.
Alle toerusting wat by die plantproses gebruik word moet skoon en vry van enige vreemde saad wees. Goeie beheer is noodsaaklik met die oortap van saad in ander sakke of houers waar daar van een kultivar tot ՚n ander oorgegaan word tydens planttyd. Alle afwykende plante moet tydens die groeiperiode verwyder word. In die praktyk moet ՚n “aftipe” dadelik verwyder word, want later in die groeiseisoen is die plant nie meer maklik sigbaar nie. Tydens die stroop-, versendinge verwerkingsproses moet daar gesorg word dat alle sakke, houers en toerusting vry van enige vreemde saad is. Die grootste vermenging van saad vind plaas deur kommersiële stropers wat prakties feitlik onmoontlik is om volledig skoon te maak.
Om hierdie rede is dit noodsaaklik dat die teler op ՚n enkelplantbasis gereeld suiwer saad sal voorsien, afkomstig van saad wat klinies suiwer hanteer is. Daarom is dit noodsaaklik dat boere suiwer saad aankoop om die volle
potensiaal van ՚n kultivar te kan benut.
Fisiese gehalte
Vreemde materiaal
Fisiese suiwerheid beteken dat saad vry is van enige sigbare onsuiwerheid en impliseer die afwesigheid van klippies, plantreste, dierereste, graaninsekte en sade van ander gewasse en onkruide. Reeds met die oesproses kan masjiene so ingestel word dat die minimum vreemde materiaal verkry word. In sommige gevalle is die onsuiwerhede net so groot soos ՚n graankorrel en is dit onmoontlik om dit met normale verwerkingstegnieke van die saad te skei.
Beskadigde saad
Beheerbare faktore
Korrekte instel van oes- en verwerkingsmasjiene verhoed dat graan meganies beskadig word wat dalk kan lei tot laer ontkieming. Te hoë dromspoed en verkeerde konkaafverstelling veroorsaak gebreekte pitte. Insekbeheer in die
groeistadium is belangrik, aangesien skade wat deur bolwurm op saad aangerig word, moeilik verwyderbaar is. Skuurinsekte soos kalander en graanmotte rig groot skade aan en moet voorkom word.
Nie-beheerbare faktore
Omgewingstoestande tydens die groei- en saadontwikkelingstadium bepaal grotendeels die gehalte van saad. Oormatige hitte sowel as baie lae temperature gedurende die melk- en deegstadium kan maer en verrimpelde sade voortbring, terwyl koueskade in die laatdeegstadium ՚n geriffelde en los saadhuid veroorsaak. Langdurige nat en bewolkte toestande kan nie net sade laat uitloop nie, maar kan ook skepelgewig drasties verlaag. Die plant van verweerde saad kan onder ongunstige toestande swak kiem- en groeikragtigheid veroorsaak.
Siektes
Wanneer epidemiese besmetting van stam- en blaarroes voorkom, benadeel dit saadgehalte drasties as gevolg van verweerde pitte. Sekere siektes veroorsaak ook verkrimpte, verweerde en dowwe pitte wat meestal tydens die verwerkingsproses verwyder kan word. Patogene van saadgedraagde siektes kan slegs met goeie chemiese saadbehandelingsmiddels beheer word.
Kiemkragtigheid
Dit dui die persentasie saad aan waarvan gesonde plante verkry kan word om ՚n optimum plantestand te lewer. Hoë ontkieming is noodsaaklik om ekonomiese redes. Omgewingstoestande soos hoë en lae temperature, te veel reën wat sade in die aar/peul laat uitloop, kan bydra tot swak ontkieming. Faktore wat ontkieming beïnvloed waaroor daar beheer is, is die volgende:
•Stroop van saad teen die ideale vogpersentasie.
•Korrekte instel van masjinerie.
•Berging van saad in gekontroleerde temperatuur en vogtoestand.
•Saad verloor kiemkragtigheid namate dit verouder en die proses word versnel by hoë opbergingstemperature (bo 15 °C).
Groeikragtigheid
Groeikragtigheid kan omskryf word as die “vermoë” van saad om onder ՚n wye reeks wisselende omgewingstoestande ՚n vinnige en eenvormige opkoms van normale saailinge te gee.
Groeikragtigheid kan deur die volgende faktore beïnvloed word:
Elke kultivar beskik oor ՚n inherente vlak van saadgroeikragtigheid wat deur sy genetiese samestelling bepaal word. As die moederplant aan stremmingstoestande blootgestel word, kan die groeikragtigheid van die saad benadeel word.
As die saad onvolwasse is wanneer dit geoes word, sal die groeikragtigheid nie na wense wees nie. Saad toon maksimum kiem- en groeikragtigheid wanneer dit fisiologies volwasse is, dit wil sê wanneer maksimum droëmassa op moederplant bereik word. Hierna neem groeikragtigheid met die verloop van tyd af teen ՚n tempo wat eie aan elke spesie is.
As saad mishandel word tydens droging, skoonmaak en gradering, kan die groeikragtigheid daarvan afneem.
Opbergtoestande wat nie optimaal is nie, laat die saad se groeikragtigheid vinnig agteruitgaan. Hoë temperature en hoë humiditeit in ՚n skuur moet vermy word.
Die gebruik van saad van goeie, beproefde genetiese en fisiese gehalte is by alle gewasse van kardinale belang. Korrek geproduseerde saad, afkomstig van hoë tegnologiese verwerking en hantering, is die boer se beste polis vir suksesvolle gewasverbouing.
Vir meer inligting of navrae kan boere Pioneer kontak deur ՚n e-pos te stuur na info.rsa@pioneer.com, of besoek hulle webwerf by www.pioneer.com/za.