Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 16th December 2025

Ou vyande, nuwe seisoen: Veesiektes om vroeg in 2026 te monitor

By 10 min read
2016 words

Lumpy_Skin_Disease_01

Vroeg in 2026 gaan vee nie noodwendig nuwe gesondheidsrisiko’s moet trotseer nie; Suid-Afrikaanse boere moet eerder op die uitkyk wees vir ou bekende siektes wat weer hul opwagting kan maak, ten tye van goeie reën, hoë insekaktiwiteit en verhoogde dierebewegings. Januarie tot Maart is tradisioneel ՚n tyd van groei, lam en kalf, maar ook ՚n periode waarin boere se onoplettendheid hulle duur te staan kan kom.

In hierdie artikel kyk ons na die siektes wat jaar na jaar hul kop uitsteek wanneer toestande gunstig is, hoekom dit in
2026 steeds relevant is, en watter vroeë waarskuwingstekens boere nie moet ignoreer nie.

Hoogste prioriteit: Januarie – Maart 2026

Bek-en-klou: ՚n Ou siekte wat nuwe besluite afdwing

Bek-en-klou bly een van die vernaamste enkele risiko’s vir Suid-Afrikaanse veeboere vroeg in 2026. Herhalende uitbrekings oor die afgelope jaar het bevestig dat dié hoogs aansteeklike siekte lankal nie meer net tot die sogenaamde buffergebiede beperk is nie.

Veral vroeg in die jaar, wanneer speenkalwers op markte beweeg, veilings plaasvind en kuddes herstruktureer word, neem die gevaar van bek-en-klou dramaties toe. Provinsies soos Limpopo, die Vrystaat, Mpumalanga, Noordwes en dele van KwaZulu-Natal bly hoërisikogebiede, maar die werklikheid is dat boere nie meer net kan aanvaar dat hulle streek outomaties veilig is nie.

Die impak van een bevestigde geval strek veel verder as die besmette diere self – markte sluit, veebeweging word verbied en boerderye sit soms vir maande sonder inkomste. In baie gevalle is die ekonomiese skade groter as die direkte verliese aan vee.

Waarvoor moet boere uitkyk?

Vroeë tekens van bek-en-klou.

Een van die groot uitdagings met bek-en-klou is dat die eerste tekens soms subtiel begin, maar baie vinnig vererger. Vinnige optrede kan die verskil maak tussen ՚n geïsoleerde geval en ՚n plaaswye krisis.

Let veral op die volgende by beeste:

• Oormatige kwyl of skuim om die mond, veral by diere wat andersins gesond lyk
• Blaas- of sweeragtige letsels op die tong, tandvleis, lippe en mondhoeke
• Weiering om te vreet as gevolg van pyn in die mond
• Skielike kreupelheid, selfs by ՚n verskeidenheid van diere op dieselfde tyd
• Seer of los kloue, met blase of rou weefsel tussen of rondom die klou

• Lê meer as gewoonlik, of weier om op te staan
• Skielike daling in melkproduksie by melkkoeie
• Koors in die vroeë stadiums

By kalwers:

• Swakheid en lêgedrag
• Hoë sterftesyfers in ernstige gevalle
• Hart- en sirkulasieverwante komplikasies

Hoe kan die risiko bestuur word?

Die bestuur van bek-en-klou in 2026 begin nie by ՚n noodreaksie nie, maar by daaglikse besluite op plaasvlak. Biosekuriteit is nie meer ՚n “luukse” of iets vir groot kommersiële boerderye nie, dit is ՚n noodsaaklikheid.

Sleutelstappe vir boere:

• Beheer dierebewegings streng: Alle nuwe diere, of dit nou speenkalwers, vervangingsverse of aankoopdiere is, moet onder kwarantyn gaan voordat hulle by bestaande kuddes ingeskakel kan word.
• Ken die herkoms van jou vee: Koop slegs van betroubare bronne waar gesondheidstatus, veilingsrekords en bewegingsgeskiedenis beskikbaar is.
• Beperk besoekers en voertuie: Veilingsbakkies, veevoeraflewerings en toerusting wat tussen plase beweeg, dra ՚n hoë risiko. Ontsmetting en toegangsbeheer moet ՚n vaste praktyk wees.
• Wees vroeg wakker vir simptome: Enige tekens van kwyl, mond- of kloupyn, skielike kreupelheid of produksiedalings moet onmiddellik met ՚n veearts bespreek word.
• Rapporteer vinnig: Bek-en-klou is ՚n beheerde siekte. Vinnige rapportering kan help om verdere verspreiding te beperk en groter verliese te voorkom.

Biosekuriteit is ononderhandelbaar. Dit is tans een van die belangrikste bestuursinstrumente wat ՚n boer het om sy marktoegang, kudde en lewensvatbaarheid te beskerm.

Slenkdalkoors: ՚n Ernstige risiko vir vee vroeg in 2026

Slenkdalkoors (Rift Valley Fever [RVF]) is ՚n vektorgedrewe siekte wat beide beeste en skape kan tref. Die siekte kom nie net sporadies voor nie; die risiko neem dramaties toe ná swaar reën en in laagliggende gebiede waar water staan. Die eerste paar maande van 2026 is dus krities, aangesien hierdie tyd van die jaar tradisioneel lam- en kalfseisoene is, wat vee besonders kwesbaar maak vir komplikasies soos aborsies en hoë sterftes. Slenkdalkoors is ook zoonoties, wat beteken dat mense wat met besmette diere of bloed in aanraking kom, ook siek kan word.

Hoekom boere vroeg wakker moet wees

Slenkdalkoors kan vinnig groot skade aanrig. By skape en beeste lei dit dikwels tot:

• Aborsies en verlore lammers of kalwers
• Hoë sterftes, veral onder jong diere
• Groot ekonomiese verliese
• Gesondheidsrisiko’s vir mense wat met besmette diere werk

Hoe kan die risiko bestuur word?

Slenkdalkoors vereis ՚n proaktiewe benadering, veral ná reën of in bekende risikogebiede:

Sleutelstappe vir boere:

• Enting waar beskikbaar: Raadpleeg jou veearts vir toepaslike entingskedules, veral vir skape en jonger beeste.
• Beheer insekte: Verminder blootstelling aan muggies en muskiete deur waterpoele te beheer en vee beskut te hou waar moontlik.
• Beperk beweging: Vermy skuif van lammetjies of kalwers tussen plase in hoërisiko-tydperke.
• Higiëne en hantering: Dra handskoene en vermy direkte kontak met bloed – mense kan ook siek word.
• Vinnige optrede betreffende veeartse: Enige vermoedelike gevalle moet onmiddellik aan die veearts of die staat gemeld word.

Waarvoor moet boere uitkyk?

Vroeë tekens van slenkdalkoors

By skape en beeste:

• Skielike aborsies of verlore lammetjies/kalwers
• Hoë koors en lusteloosheid
• Verminderde eetlus
• Oogontsteking of konjunktivitis
• Algehele swakheid en senuweetekens in ernstige gevalle

Knopvelsiekte: ՚n Groeiende bedreiging vir beeste in 2026

Knopvelsiekte (Lumpy Skin Disease [LSD]) is ՚n vektor-oordraagbare virusinfeksie wat hoofsaaklik beeste affekteer. Die siekte veroorsaak nie net fisieke letsels nie, maar kan ook produksieverliese, verminderde markwaarde van vleis en erge ekonomiese druk vir boere tot gevolg hê.

Warm, nat toestande soos dié wat vroeër in 2025 en 2026 ervaar is, bied die geskikte omgewing vir vektoraktiwiteit
(bv. bytende insekte), en verhoog die risiko van uitbrekings.

Hoekom boere vroeg wakker moet wees

Knopvelsiekte kan vinnig versprei, en selfs ՚n enkele besmette dier kan die inkomste van veeboere op ՚n plaas of in ՚n streek in gevaar stel.

Belangrike gevolge sluit in:

• Knoppe en letsels op die vel beïnvloed vleismarkwaarde
• Hoë koors en lusteloosheid by beeste
• Verminderde eetlus en gewigsverlies
• Laer melkproduksie by melkbeeste
• Mark- en bewegingbeperkings, aangesien LSD ՚n beheerde siekte is

In die vroeë 2026-seisoen, wanneer diere se weerstand soms laag is ná stresvolle periodes soos skuif of kalf, is die risiko vir uitbrekings besonder hoog.

Hoe kan die risiko bestuur word?

Die bestuur van knopvelsiekte vereis ՚n kombinasie van biosekuriteit, enting en insekbeheer. Sleutelstappe vir boere:

• Enting: Raadpleeg jou veearts vir die toepaslike entingskedule vir jou kudde.
• Insekbeheer: Verminder blootstelling aan bytende insekte deur vee in skaduwee of beskutte areas te hou, en gebruik inseksproei of beskermende nette, indien moontlik.
• Beperk beweging: Vermy skuif van beeste tussen plase in hoërisikotydperke, veral wat betref nuwe of jong diere.
• Biosekuriteit: Hou voertuie, toerusting en mense wat tussen plase beweeg, onder streng beheer.
• Vinnige optrede: Enige vermoedelike gevalle moet onmiddellik aan ՚n veearts of die staat se dieregesondheidsowerhede gemeld word.

Waarvoor moet boere uitkyk? Vroeë tekens van knopvelsiekte

• Klein tot groot knobbelagtige letsels op die vel, dikwels rondom die kop, nek, rug en stert
• Hoë koors en lusteloosheid
• Swelling by kloue, wat kreupelheid kan veroorsaak
• Afname in eetlus en melkproduksie
• Gewigsverlies en swak algemene toestand, veral by jong beeste of diere wat stres ervaar

Reën- en streeksgekoppelde risiko’s

Interne parasiete: Stil … maar gevaarlike vyande van jou kudde

Interne parasiete, veral maag- en dermwurms, bly een van die grootste bedreigings vir skape en jong beeste vroeg in 2026. Hierdie wurms is dikwels onsigbaar totdat produksie merkbaar daal of diere siek lyk, daarom word hulle
dikwels onderskat.

Haemonchus contortus, beter bekend as die haarwurm, is die mees gevreesde kleinvee-parasiet in nat weidingsomstandighede, en kan vinnig ՚n kudde se gesondheid en inkomste benadeel. Die reënseisoen verhoog die risiko dramaties, aangesien nat en digbeweide weiding die wurms se larwes help versprei en lang lewe op die grond verseker. In Januarie tot Maart, wanneer jong lammetjies en kalwers aktief op weiding is, kan infeksie vinnig tot anemie, swak groei, en selfs sterftes lei.

Hoërisiko-areas en -omstandighede

• Laagliggende vleilande en weiding wat vinnig nat word ná reën
• Digbeweide areas waar vee dik saam wei
• Stelsels waar nuwe diere by bestaande kuddes ingeskuif word sonder kwarantyn
• Skape en jong beeste wat nog nie immuniteit opgebou het nie
• Waar dit nat en warm is, is die risiko hoog

Hoekom boere vroeg wakker moet wees

• Parasiete kan stil produksieverlies veroorsaak: gewigsverlies, swak groei, verminderde melkproduksie.
• Onbehandelde wurminfeksies kan lammetjies en kalwers vinnig laat verlam of sterf.
• Weerstandige wurms maak tradisionele ontwurming minder effektief.
• Vroeë opsporing en beheer kan groot ekonomiese verliese voorkom voordat die probleem wydverspreid is.

Hoe kan die risiko bestuur word?

Die bestuur van interne parasiete vereis ՚n kombinasie van goeie weidingspraktyke, enting waar moontlik, en verantwoordelike ontwurming.

Sleutelstappe vir boere:

• Weidingsbestuur: Wissel weiding om wurms se siklus te breek; vermy dat jong diere op oorbeweide of nat
weiding wei.
• Gebruik ontwurmmiddels slim: Volg die veearts se advies oor dosis, tipe en tydsberekening.
• Voeding: Goeie voeding van diere bou vinniger immuniteit teen parasiete.
• Vroeë toetsing: Bloed- en dermtoetse kan help om infeksievlakke te monitor voordat simptome duidelik is.
• Kwarantyn van nuwe diere: Nuwe aankope moet geskei en behandel word voordat hulle by die kudde aansluit.

Waarvoor moet boere uitkyk?

Vroeë tekens van wurminfeksies by skape en beeste:

• Verminderde eetlus en gewigsverlies
• Swak groei by jong diere
• Anemie (wit slym, bleek oë, bleek tandvleis)
• Diarree of taai, waterige stoelgang
• Hoë sterftes onder lammetjies of kalwers in ernstige gevalle

Lees meer oor haarwurm hier.

Bloutong

Bloutong is ՚n vektor-oorgedraagde virusinfeksie wat veral skape tref, maar ook beeste in ՚n mindere mate kan beïnvloed. Die bloutongvirus word oorgedra deur muggies. As dit baie reën en panne water staan in die veld is toestande gunstig vir die uitbroei van die muggies. Die siekte floreer in warm, nat en vogtige toestande, tipies van die vroeë 2026-reënmaande.

Hoewel bloutong nie altyd onmiddellik dodelik is nie, kan dit verlagings in gewig, melkopbrengs en reproduksie veroorsaak, en sommige diere kan ernstige siekte toon wat vinnig hul toestand versleg. Warm, nat reënmaande, digbeweide weiding en jong lammetjies of kalwers wat aan insekte blootgestel is, verhoog die risiko dramaties.

Hoekom boere vroeg wakker moet wees

Bloutong kan stil winsverlies veroorsaak, maar dit kan ook vinnig:

• Skape laat kreupel of lusteloos word
• Reproduktiewe probleme veroorsaak, insluitend aborsies
• Vee se markwaarde beïnvloed deur siekte of letsels
• Spesifieke diere in ՚n kudde kan vinnig siek word, wat behandelings en beheermaatreëls dringend maak

Hoe kan die risiko bestuur word?

Bloutong vereis ՚n kombinasie van enting, insekbeheer en biosekuriteit.

Sleutelstappe vir boere:

• Enting: Waar beskikbaar en geskik vir jou kudde, volg ՚n veearts se entingskedule.
• Insekbeheer: Verminder blootstelling aan muggies en vlieë deur vee in skaduwee of beskutte areas te hou, en gebruik insekwerende produkte, indien moontlik.
• Weidingsbestuur: Wissel weiding om diere van hoërisiko- nat weiding weg te hou.
• Biosekuriteit: Beperk beweging van diere, voertuie en toerusting tussen plase, veral in hoërisiko-tydperke.
• Vinnige optrede: Enige vermoedelike gevalle moet onmiddellik aan ՚n veearts of die staat se dieregesondheidsowerhede gerapporteer word.

Gebruik die FAMACHA-kaart om die erns van anemie weens haarwurms by jou skape en bokke te monitor. Die kaart help jou om slim te ontwurm en weerstand teen wurms te beperk.

Waarvoor moet boere uitkyk?

Vroeë tekens van bloutong

By skape:

• Kreupelheid en lusteloosheid
• Koors en swak eetlus
• Swelling van gesig, ore en tong
• Blou verkleuring van tong en lippe in ernstige gevalle (waarvan die naam afgelei is)
• Aborsies of verlore lammetjies
• Gewigsverlies en swak algemene toestand

By beeste:

• Meestal subtieler; kan koors, lusteloosheid of gewigsverlies toon
• Soms reproduksieprobleme of laer produksie

Die kernboodskap is eenvoudig: biosekuriteit, waaksaamheid en vroeë optrede is jou sterkste wapens. Beheer van insekte, slim entingskedules, verantwoordelike beweging van diere en gereelde inspeksies van jong en volwasse diere kan die verspreiding van siektes dramaties beperk.

’n Swak skaap met ’n kwakkeel.

Vroeë identifisering van simptome en intree kan jou baie koste en verliese spaar – 2026 vra van elke boer dat hy nie net sy kudde se gesondheid monitor nie, maar ook aktiwiteit en risiko op plaasvlak bestuur. Deur proaktief te wees, kan jy nie net jou diere beskerm nie, maar ook jou marktoegang, produksie en inkomste.

Die tyd om wakker te word is nou … nie eers wanneer die eerste siekte jou plaas tref nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0