Yara bied voortreflike fosfaataanvulling vir optimale produksie en reproduksie

MINOLTA DIGITAL CAMERA
Die meeste gebiede in Suid-Afrika is arm aan fosfaat en ten einde aan die hoë fosfaatbehoeftes van teelkoeie en groeiende kalwers te voldoen, moet somerweiding met hoëgehalte-fosfaat aangevul word.
Die fosfaatbehoefte van ’n dier word grootliks bepaal deur sy spesifieke produksiestatus. Hoe hoër die produksiepeil wat deur die produsent verwag word, hoe groter is die gaping tussen dit wat die weiding kan verskaf en dit wat aangevul moet word.
Sappige, groen gras kan in die energie- sowel as proteïenbehoeftes van weidende diere voorsien, maar die fosfaatbehoefte van produserende diere is hoog gedurende die somer en die gras kan nie in hierdie hoë behoeftes voorsien nie.
Die effek van fosfaataanvulling
Fosfaataanvulling het primêr ’n effek op rumenfunksie, wat dus die inname van droë materiaal stimuleer. Dit beïnvloed gevolglik regstreeks die liggaamskondisie van die weidende dier. Liggaamskondisie is van uiterse belang aangesien daar ’n direkte korrelasie is tussen die kondisietelling en herbesettingspersentasie van die teelkoei.
’n Klein verhoging in kalfpersentasie of speenmassa, het ’n groot invloed op die winsmarge. Die finansiële insette vanweë fosfaataanvulling sal herhaaldelik beloon word in terme van die direkte invloed op reproduksie en speenmassa.

Aanvulling van fosfaat
Yara Animal Nutrition het twee fosfaat produkte vir die gebruik in die nat seisoen.
Kimtrafos 12 Grandé
Dit is ’n fosfaatspoormineraalkonsentraat vir die aanvulling van fosfaat en spoorminerale vir optimale produksie en reproduksie. Kimtrafos 12 Grandé word vervaardig vanaf ’n hoëgehalte-monodikalsiumfosfaat (MDCP) en is beskikbaar in ’n gerieflike korrelvorm wat die produk stofvry maak vir maklike hantering en vermenging. Kimtrafos 12 Grandé is verryk met melassebyprodukte wat die produk smaaklik maak sonder dat oormatige hoeveelhede ingeneem word.

PhosSure 12
Dit word ook vervaardig vanaf ’n hoëgehalte-MDCP, maar bevat ’n gedroogde melasseproduk wat PhosSure 12 weerbestand maak. Sodra reën op die produk val, vorm daar ’n harde kors bo-oor die produk wat dit dan teen reënskade beskerm. Ná die reën kan diere maklik die kors breek en verder vreet aan die droë, onbeskadigde produk.
Behalwe vir sy reënbestandheid, is PhosSur 12 ook smaaklik om voldoende inname van fosfaat te verseker. In hoë reënvalgebiede vind verhoogde loging van spoorminerale uit die grond dikwels plaas en daarom is PhosSure 12 ook verryk met verhoogde vlakke van die belangrikste spoorminerale in die regte verhouding tot fosfaat om die spoormineraaltekorte wat mag voorkom, aan te vul.
Sodra voldoende groen weiding ná ’n winterperiode beskikbaar is, kan oorgeskakel word van ’n winterlek na ’n soutfosfaatlek. Meng 50 kg Kimtrafos 12 Grandé of PhosSure 12 met 50 kg sout en voer teen 100-240 g/bees/dag of 18-36 g/skaap en bok/dag.
Beide Kimtrafos en PhosSure is ook beskikbaar as gereed-om-te-gebruik P6-produkte.
Fosfaataanvulling is ’n langtermynbelegging in ’n kudde se produksie- en reproduksievermoë, en die konstante aanvulling daarvan in die somer is van kardinale belang.
Korrekte fosfaataanvulling maak ’n groot deel uit van die totale voeronkoste in die somer en die foutiewe, of te lae, aanvulling daarvan kan lei tot verlaagde produksie en reproduksie met gevolglike ernstige finansiële implikasies vir die vleisbeesprodusent.